Maroela Media deur kuberkrakers aangeval

Maroela Media se webtuiste is Dinsdagoggend deur kuberkrakers aangeval.

Daar het vroegoggend ʼn boodskap op die webtuiste verskyn: “Hacked by Revol.” Dit het gepaardgegaan met ʼn illustrasie wat lyk soos die kop van ʼn duiwelsfiguur.

Volgens Nico Strydom, Maroela Media se redakteur, was dié boodskap egter nie te lank sigbaar nie aangesien RSAWEB, Maroela Media se diensverskaffer, vinnig opgetree het om die webwerf te begin herstel.

“Dit is nie Maroela Media as organisasie of ons lesers wat geteiken is nie. Die spesifieke kuberkrakers teiken webtuistes waarvan RSAWEB die diensverskaffer is. RSAWEB doen intussen alles in sy vermoë om dit so gou as moontlik reg te stel.”

Strydom het gesê sommige lesers wat kommentaar gelewer het op die webwerf se e-posadresse is vir ʼn kort rukkie blootgestel. “Talle van Maroela Media se lesers gebruik egter fop-e-posadresse om kommentaar op die webtuiste te lewer. Maroela Media en RSAWEB het ook spoedig gereageer om die lys van e-posadresse te verwyder en die webtuiste so spoedig moontlik te herstel.

“Die kuberkrakers sal spesifiek e-posadresse in die hande probeer kry om druk op die diensverskaffer te sit om in te gee tot hul eise. Hulle kan egter nie veel met die e-posadresse doen nie, maar dit kan byvoorbeeld daartoe lei dat ʼn persoon wie se e-posadres blootgestel is dan gemorspos kan ontvang. Die kuberaanval was spesifiek daarop gemik om die diensverskaffer bloot te stel. Maroela Media se lesers hoef dus nie bekommerd te wees dat die aanval hul rekenaars of sagteware sal beïnvloed nie aangesien die aanval nie ten doel gehad het om ʼn virus te versprei nie,” het Strydom gesê.

“So ʼn voorval maak ʼn mens net weer eens bewus van internetveiligheid en dat almal daarvan bewus moet wees aangesien dit met enigiemand kan gebeur. RSAWEB tref intussen alle voorsorg om hul veiligheidstelsels op te skerp.”

Maroela Media wil lesers ook die versekering gee dat ons alles in ons vermoë doen om hul privaatheid te beskerm. “Ons het die nodige veiligheidsmaatreëls getref by ons diensverskaffer. Al ons stelsels word ook opgedateer en alle wagwoorde en ander besonderhede word verander. Kuberkrakers spesialiseer egter daarin om skuiwergate te vind, so die uitdaging is om voortdurend veiligheidsmaatreëls op te skerp en nuwe maatreëls daar te stel.

“Daar is altyd die kans dat enige webtuiste die slagoffers van kuberkrakers kan wees, maak nie saak hoeveel jy as organisasie bestee aan internetveiligheid nie. Kuberkrakers maak geld deur webtuistes en diensverskaffers as gyselaars aan te hou. Hierdie mense is dag en nag besig om veiligheidsmaatreëls te probeer omseil en hulle doen dit vir die geld,” het Strydom gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dafer ·

Ek vertrou dat indien my e-pos adres openbaar is dat julle my in kennis sal stel. Dankie

botterblommetjie ·

ai ai, mense is te slim vir hulle self en mors ons tyd. Dank MM dat julle vinnig reageer het en ook die moeite gedoen het om my terug te epos!!

Zettie ·

Dit verklaar hoekom ek so uur gelede nie op Maroela Media se webtuiste kon kom nie!!!!! Bly julle is weer terug! :)

BB ·

Ek wou al ons IT bel vanoggend was baie bekommerd oor ek nie MM kan access nie.. haha.

Elisabeth Teir ·

Daar is nog ń link van julle wat die storie nog aan die gang hou deur google.

E.K. ·

Het baie gesukkel om by Maroela uit te kom vanoggend. Jip, mens moet maar bedag wees, die spul krakers en skelms en goed is oral en altyd besig

Mad ·

Kommerwekkend. E-pos adresse word gestoor in ‘n Databasis. Weet julle hoe baie inligting uit ‘n Databasis verkry kan word in net 1-2 minute? Ek het van 04:00 vanoggend tot omtrent 04:15 die ‘hacker’ se boodskap gesien. Toe opgegee om by MM se webtuiste uit te kom.

Rika G ·

Het vanoggend gesien toe ek MM wou oopmaak het myself amper van die bed afgeskrik. Sien net die rooi kop wat soos die duiwel lyk en alles is rooi met die inskrywings het so geskrik sommer foon afgesit.??

Barnabas ·

Wat my bekommer is dat Maroela Media weet sy kommentators gebruik fop-e-posadresse en nie veel daaroor gepla is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.