Twee studente aan die Noordwes-Universiteit het Maandag elkeen ʼn beurs van R7 000 ontvang vir hul besonderse bydrae wat hulle op die Potchefstroom-kampus tot die joernalistiek lewer.
Die NWU-Puk se SR-komitee: Media en Kommunikasie het besluit om vanjaar joernalistieke toekennings te maak aan joernaliste wat uitblink by die kampuskoerant, Wapad, asook by die kampusradiostasie, PUKfm. Dié twee wenners ontvang elk ʼn beurs van Maroela Media.
Carla Mouton, ʼn derdejaar in kommunikasiestudies, ontvang die beurs as PUKfm se Joernalis van die Jaar en Annemarie Hoogenboezem, ʼn eerstejaar in kommunikasiestudies, ontvang die tweede beurs as Wapad se Joernalis van die Jaar.
Dié twee studente sal boonop ook die geleentheid gebied word om internskappe by Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand te voltooi.
“Jongmense het ʼn instinktiewe aanvoeling vir die digitale media-omgewing,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Dis ʼn aanwins vir die Afrikaanse mediabedryf as Afrikaanse joernalistiekstudente reeds op universiteit uitblink. Vir hulle is daar geen groeipyne in die oorgang na ʼn meer digitale mediabedryf nie. Daarom is dit vir ons baie belangrik om in dié jong talent te belê, en ons sien uit daarna dat die twee wenners hul internskappe by ons kom doen.”
Die twee beurse word gefinansier uit Helpende Hand se JD Kestell-beursfonds.
“Vir Helpende Hand is dit ’n groot voorreg om die studies van jongmense te help befonds en talentvolle jongmense te beloon, het dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur, gesê. “Só voer ons die mandaat uit van ons skenkers om armoede te voorkom deur doeltreffende opleiding.”
Volgens Hanno Labuschagne, eksterne mediabestuurder op die uitvoerende komitee vir die NWU-PUK se SR: Media en Kommunikasie, wou hulle vanjaar ‘n nuwe inisiatief in plek stel om mediapersone op die kampus te beloon vir goeie werk. “Ons wou graag die studente beloon wat hulle take uitstekend uitgevoer het en deurlopend akkurate, gebalanseerde berigte gelewer het,” het hy gesê.
Baie geluk Carla en Annemarie, ook aan Maroela.
Baie hartlik geluk aan julle twee! Knap gedaan!
Hartlike dank aan Maroela en baie geluk met hierdie inisiatief!
Wat ‘n wonderlike beloning vir harde werk in so ‘n belangrike area. Bly om te sien dat vryheid van uitspraak springlewendig is. Dankie Maroela, PUK en Solidariteit vir julle belegging in jong mense.
Annemarie Hoogenboezem is die kleindogter van Schalk Hoogenboezem wat jare lank die Potchefstroom Herald besit het.