Maroela Media gee beurse aan uitsonderlike joernalistiek-studente

Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, saam met die wenners van die beurs, Carla Mouton (links) en Annemarie Hoogenboezem (regs). Foto: Burger Meyer

Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, saam met die wenners van die beurs, Carla Mouton (links) en Annemarie Hoogenboezem (regs). Foto: Burger Meyer

Twee studente aan die Noordwes-Universiteit het Maandag elkeen ʼn beurs van R7 000 ontvang vir hul besonderse bydrae wat hulle op die Potchefstroom-kampus tot die joernalistiek lewer.

Die NWU-Puk se SR-komitee: Media en Kommunikasie het besluit om vanjaar joernalistieke toekennings te maak aan joernaliste wat uitblink by die kampuskoerant, Wapad, asook by die kampusradiostasie, PUKfm. Dié twee wenners ontvang elk ʼn beurs van Maroela Media.

Carla Mouton, ʼn derdejaar in kommunikasiestudies, ontvang die beurs as PUKfm se Joernalis van die Jaar en Annemarie Hoogenboezem, ʼn eerstejaar in kommunikasiestudies, ontvang die tweede beurs as Wapad se Joernalis van die Jaar.

Dié twee studente sal boonop ook die geleentheid gebied word om internskappe by Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand te voltooi.

“Jongmense het ʼn instinktiewe aanvoeling vir die digitale media-omgewing,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Dis ʼn aanwins vir die Afrikaanse mediabedryf as Afrikaanse joernalistiekstudente reeds op universiteit uitblink. Vir hulle is daar geen groeipyne in die oorgang na ʼn meer digitale mediabedryf nie. Daarom is dit vir ons baie belangrik om in dié jong talent te belê, en ons sien uit daarna dat die twee wenners hul internskappe by ons kom doen.”

Die twee beurse word gefinansier uit Helpende Hand se JD Kestell-beursfonds.

“Vir Helpende Hand is dit ’n groot voorreg om die studies van jongmense te help befonds en talentvolle jongmense te beloon, het dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur, gesê. “Só voer ons die mandaat uit van ons skenkers om armoede te voorkom deur doeltreffende opleiding.”

Volgens Hanno Labuschagne, eksterne mediabestuurder op die uitvoerende komitee vir die NWU-PUK se SR: Media en Kommunikasie, wou hulle vanjaar ‘n nuwe inisiatief in plek stel om mediapersone op die kampus te beloon vir goeie werk. “Ons wou graag die studente beloon wat hulle take uitstekend uitgevoer het en deurlopend akkurate, gebalanseerde berigte gelewer het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Smith ·

Baie hartlik geluk aan julle twee! Knap gedaan!
Hartlike dank aan Maroela en baie geluk met hierdie inisiatief!

Liezel Lowe ·

Wat ‘n wonderlike beloning vir harde werk in so ‘n belangrike area. Bly om te sien dat vryheid van uitspraak springlewendig is. Dankie Maroela, PUK en Solidariteit vir julle belegging in jong mense.

Lennie Gouws ·

Annemarie Hoogenboezem is die kleindogter van Schalk Hoogenboezem wat jare lank die Potchefstroom Herald besit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.