Maroela Media se app trek ʼn splinternuwe baadjie aan

Maroela Media se app

Maroela Media se app

Maroela Media se gratis nuus-app het in Junie 2016 sy tweede verjaarsdag gevier en ʼn splinternuwe baadjie aangetrek.

Selfs met die jongste weergawe, weergawe 3.0, is dit vir ons Maroela nog steeds die belangrikste om seker te maak dat dit die lekkerste Afrikaanse nuus-app bly.

Die jongste weergawe is vandeesweek vir die publiek beskikbaar gestel in die Google Play Store en Apple se App Store.

“Ons lesers het ʼn groot verrassing gekry toe hulle die nuwe weergawe van die app oopmaak en dit heeltemal anders lyk as die vorige weergawe,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê. “Maar die grootste lekkerte van die nuwe app is juis dit wat jy nié met die eerste oogopslag sien nie: die app gebruik byvoorbeeld baie minder van jou data as die vorige weergawe en is baie meer in lyn met internasionale tendense in die ontwerp en ontwikkeling van nuus-apps.”

Van die lekkerste funksionaliteit waarmee die nuwe app spog, is dat jy dit kan dwars draai op jou slimfoon om dit in ʼn ander formaat te gebruik, en ook dat daar nou ʼn tablet-weergawe van die app beskikbaar is.

“Hoewel dit vir ons belangrik is dat Maroela-lesers op Maroela se webwerf moet voel hulle is deel van die Maroela-gemeenskap, het mense wat die nuus op hul foon lees, nie tyd vir fieterjasies nie,” het sy gesê. Die app is daarom sonder nonsens – dis die nuus, in ʼn neutedop, in jou handpalm.”

Maroela se app spog met ʼn uitstekende gradering op die Play Store en die App Store.

Die dinkwerk agter die app

ʼn App soos die nuwe Maroela Media-app word nie sommer net gebou voor daar heelwat huiswerk gedoen is nie.

In Desember 2014 was daar ʼn merkbare verandering wat betref lesers se gebruik van dié gratis nuuswebwerf. Vir die eerste keer het meer gebruikers maroelamedia.co.za op hul slimfone gelees as op rekenaars. In daardie stadium het wêreldbekende nuus-apps soos dié van die BBC mense al hoe meer gewoond gemaak aan hoe jy die nuus op jou nuwe slimfoon lees.

Met die ontwikkeling van Maroela se app, moes ons verskeie faktore in gedagte hou:

  • Maroela se lesers hou van foto’s, maar nie ten koste van spoed nie
  • Mense wil kennisgewings ontvang, maar slegs wanneer dit hulle pas
  • Mense wil video’s kyk, maar net as hulle genoeg data op hul selfoon het
  • Hulle wil artikels op sosiale netwerke deel, sonder om te sukkel met klein knoppies.

Slimfoongebruikers sal maklik vir jou kan sê watter app hul gunsteling is. Elkeen van hierdie gunsteling-apps verskil van inhoud, uitleg en funksionaliteit. As jy dan ʼn nuus-app bou, moet jy die gemeenskaplike faktore identifiseer wat by die nuusneuse aanklank vind:

  • Die app moet nie net op slimfone werk nie, maar ook op tablette
  • Die app moet op alle Apple- en Android-slimfone werk
  • Stories wat bymekaar hoort moet saam gegroepeer wees
  • Die klem moet op inhoud val in plaas van jou handelsmerk
  • Dit moet maklik wees om teks te lees en foto’s te kyk.

Maroela Media se eerste nuus-app is gebou om aan al dié vereistes te voldoen.

Nuwe tuisblad van Maroela Media se app

Nuwe tuisblad van Maroela Media se app

Splinternuwe app

Danksy lesers se terugvoer oor Maroela se eerste app, kon ons gereeld opgraderings aanbring en die app verbeter. Terselfdertyd het ons lesersterugvoer oor voorgestelde funksionaliteit wat hulle graag in ʼn nuus-app sou wou sien, maar wat nie net vinnig ingebou sou kon word nie, gedokumenteer. Uiteindelik, aan die begin van 2016, was die tyd ryp om die app oor te bou op nuwe, verbeterde tegnologie, wat ons die geleentheid sou gee om gebruikers van die vorige app se voorstelle te oorweeg vir die nuwe app. Dis dié weergawe wat pas bekend gestel is.

Maroela Media se nuwe app is baie meer gebruikersvriendelik as die vorige weergawe:

  • Daar is nou ʼn slimfoon- en tabletrekenaarweergawe beskikbaar
  • Die app kan in landskapformaat gelees word (jy kan jou slimfoon of tablet dwars draai)
  • Jy kan ten volle beheer neem oor die kategorieë en die volgorde waarin dit moet vertoon; jy kan selfs kategorieë afskakel waarin jy nie belang stel nie
  • Jy kan met die druk van ʼn knoppie vanuit die app vir die Maroela-nuuskantoor ʼn nuuswenk stuur, en selfs ʼn foto aanheg indien jy op ʼn toneel is waar daar iets nuuswaardigs gebeur
  • Die app gebruik baie minder data te danke aan die nuwe tegnologie wat gebruik word
  • Video’s speel direk in die app – jy hoef nie meer deur te klik na die webwerf om na ʼn video te kyk nie
  • Die meer kompakte ontwerp van die tuisblad maak dit moontlik om meer stories met die eerste oogopslag te sien, sonder dat jy ver na regs of na onder hoef te rol.

En die beste van alles? Dit bly alles gratis!

Gee vir ons jou terugvoer

Ons het nou jou hulp nodig. As ʼn handlanger vir die boer sê daar is chaos op die plaas, sal dit hom darem help om te weet watter windpomp dit is wat opgepak het!
As die app nie vir jou lekker werk nie, laat weet ons wat jou pla, wat volgens jou nie gebruikersvriendelik is nie of wat nie mooi vertoon nie. Ons belowe om dit te oorweeg wanneer ons deurlopende verbeterings aanbring, en om met jou in gesprek te tree oor jou voorstelle sou dit nodig wees. Jy kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of [email protected].

En net so wil die boer se vrou darem weet as haar handtertjies uit die boonste rakke is! As jy van ons app hou, vertel ons asseblief, maar vertel ook al jou vriende. Gee ook sommer vir ons ʼn gradering en terugvoer op die App Store of Play Store.

Lekker, Maroela!

Maroela Media app vir die iPhone Maroela Media app vir Android

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.