Maroela Media vereer die legendariese Koos Roets

Koos Roets en Susan Lombaard (uitvoerende hoof van Maroela Media)

Twee jaar gelede met Maroela Media se eerste Buitebioskoop, is die eerste Maroela-toekenning oorhandig. Die toekennings is tot dusver aan persone toegeken wat ʼn verskil in die Suid-Afrikaanse filmbedryf gemaak het. Dié jaar het ons weer só gemaak.

Maroela Media het die voorreg gehad om nie net Koos Roets as eregas te verwelkom nie, maar hom ook te vereer vir die ongelooflike belangrike, diep en blywende spore wat hy in die Suid-Afrikaanse filmbedryf getrap het. Die toekenning is Saterdagaand deur Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media en Wouter Snyman van attooh! aan Roets oorhandig.

Roets het sy loopbaan reeds in 1962 begin as assistentkameraman op die stel van Jamie Uys se Lord Oom Piet. In die afgelope 55 jaar het hy homself ook begewe en bewys op die gebied as kinematograaf, draaiboekskrywer, regisseur sowel as rolprentvervaardiger.

Koos se eerste film, Die geheim van Nantes, het in 1969 verskyn en vele films het daarna gevolg. Hy het homself ook begewe as regisseur vir televisie en film. Oor die jare is Roets ook al met verskeie toekennings bekroon.

Pawpaw vir my darling, Faan se trein, Koöperasiestories, Daar kom tant Alie, Paljas en Die Wonderwerker was maar net ʼn druppel in die emmer.

In Koos se 75 jaar het hy inderdaad diep spore getrap.

Burger Meyer en Susan Lombaard (uitvoerende hoof van Maroela Media)

Maroela Media het ook ʼn toekenning aan Burger Meyer oorhandig as ʼn nuweling tot die filmbedryf. Meyer is ʼn oudkollega van Maroela Media en het vanjaar sy buiging by die Silwerskermfees gemaak toe ʼn kortfilm, waarvan hy die draaiboek behartig het, vertoon is.

Die kortfliek, Vossie vergas homself met Tobie Cronjé en June van Merch, het verskeie nominasies by die Silwerskermfees ontvang naamlik Beste draaiboek (Burger Meyer), Beste akteur (Tobie Cronjé), Beste aktrise (June van Merch) en Beste kortfilm – 24 minute. Van Merch het met die prys weggestap. Philip Nolte was die regisseur en Lyall Ramsden was die vervaardiger.

Maroela Media se Buitebioskoop is ‘n jaarlikse instelling wat by die Pretoriase Botaniese Tuin gehou word. Hierdie jaar is drie flieks vertoon, naamlik Khumba (Afrikaans), Nul is nie niks nie en Die rebellie van Lafras Verwey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre van der bank. ·

Veels geluk aan Koos Roets, en alle lof aan Maroela vanaf n lekker warm dag uit Los Angeles.

pbotha ·

Koos…voorwaar n legende. Jy het baie mooi herinneringe by talle mense gelaat met voortreflike werk. Baanbreker en professionalis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.