Maroela Media vier tweede verjaarsdag, deel merkwaardige mylpale

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

Die gratis Afrikaanse nuuswebwerf, Maroela Media, wat ook as die lekkerste kuierplek op die internet bekend staan, vier vandeesweek sy tweede verjaarsdag met besondere mylpale wat in dié kort tydjie behaal is.

“As mens die tyd wat besoekers die afgelope twee jaar op Maroela Media spandeer het bymekaar tel, het besoekers al nege jaar en 361 dae – dus, bykans 10 jaar – op Maroela spandeer,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê.

Dié nuuswebwerf bied gratis die jongste inligting en nuus oor aktuele sake, politiek, en die ekonomie, maar ook oor die kunste, vermaak, leefstyl, boeke, musiek, resepte en taalbrokkies. Al ooit gewonder waar ʼn Afrikaanse uitdrukking vandaan kom? Maroela Media gaan selfs dié antwoord vir jou kan gee.

Die webwerf het verlede jaar die land aan die praat gehad toe lesers die Grootste Afrikaner van Alle Tye aangewys het. Paul Kruger is as Grootste Historiese Afrikaner aangewys, Steve Hofmeyr het met die titel as Grootste Eietydse Afrikaner weggestap en Liewe Heksie is gekroon as die Grootste Fiktiewe Karakter.

Maroela Media het in 2013 besluit om die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye te soek. Die veldtog is Saterdagaand op kykNET se musiekprogram Jukebox bekend gestel en kykNET en Virseker is die hoofborge van dié interessante veldtog.

Lesers kan solank ook hul tande slyp vir Grammofoon, ʼn musiekblad wat pas bekend gestel is. Daantjie Dinamiet, ʼn bekende onder Noot vir Noot-kykers, bedryf die blad en hanteer die resensies. Pale Toe is ʼn Afrikaanse rugbyblad – die enigste in sy soort – wat binnekort ook die lig gaan sien. Perdfris is Maroela Media se gesondheidsblad en Draadloos, Maroela se radioproduksiehuis, saai daagliks ʼn tydskrifprogram (Allegaartjie) op 11 gemeenskapsradiostasies uit. Draadloos se verskeidenheid van radiodramas, wat in samewerking met Bettie Kemp gedoen word, geniet ook groot aftrek.

“Afrikaanssprekendes in lande soos die Verenigde Koninkryk, VSA, Australië, Nieu-Seeland, Nederland, Kanada en Duitsland is ook deel van dié lekker kuierplek,” het Lombaard bygevoeg.

Volgens Lombaard kan lesers ook binnekort die webwerf se app op hul Android-toestelle aflaai om seker te maak dat hulle op hoogte bly van alles wat op dié dinamiese webwerf gebeur. ʼn App vir Apple-produkte volg ook eersdaags.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willy ·

Baie geluk Maroela Media. My wense is dat julle wat betrokke is om Maroela Media ‘n sukses te maak, net van krag tot krag sal gaan.

Conrad ·

Dankie Maroela vir ‘n lekker webblad. Hou so vol, ons geniet jul baie. Sterkte en voorspoed vir nog baie jare wat gaan volg.

JJEls ·

Susan, baie geluk met die sukses van Maroela Media. Jy en jou span is tops! Doet so voort!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.