Maroela Media vier vandag 10 jaar – ʼn dekade van genade

Maroela Media vier vandag, op 29 Julie 2021, sy tiende verjaardag. In dié tien jaar het Maroela Media gegroei van ʼn nederige begin, met net 7 000 lesers in Augustus 2011, tot die grootste Afrikaanse mediahuis met meer as 2 miljoen maandelikse unieke lesers. Dié lesers lees sowat 25 miljoen artikels per maand op Maroela Media.

Maroela Media spog boonop met uiters lojale lesers: Dié platform se lesers lees die meeste stories op een platform van alle Suid-Afrikaanse nuusplatforms volgens Narratiive, die onafhanklike metingsmaatskappy wat Suid-Afrikaanse mediamaatskappye se digitale lesersyfers aanteken. Maroela Media se lesers het in Juniemaand sowat 12,1 stories per leser gelees, teenoor die 8,6 van die Engelse mediaplatform in die tweede posisie.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Simoné Steyn-Venter)

“Toe Maroela Media tien jaar gelede tot stand gekom het, was die tyd ryp vir ʼn nuwe Afrikaanse mediahuis as ʼn alternatief tot die nuusaanbod wat in daardie stadium vir die Afrikaanse gemeenskap beskikbaar was,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Die feit dat ons van die begin af ʼn digitale platform was wat nie ʼn gedrukte koerant uitgegee het nie, was ʼn groot voordeel, en ons kon vinnig vastrapplek kry as ʼn digitale alternatief in die Afrikaanssprekende gemeenskap se daaglikse lewe.”

Die Afrikaanse gemeenskap was nog altyd Maroela Media se hart, verduidelik Lombaard, en daarom is Maroela se bestaansrede vir tien jaar al presies dieselfde: Om goeie gehalte, betroubare nuus en inhoud in Afrikaans te skep waarmee Afrikaanssprekendes ingeligte besluite kan neem, en om hoop te bring met ʼn positiewe aanslag.

“Deur die afgelope tien jaar het baie dinge verander: Ons webwerf lyk anders, ons het ʼn app in gebruik geneem en al ʼn paar keer oorgebou, ons het ons handelsmerk aangepas, en ons het verskillende sosialemediaplatforms begin gebruik, na gelang van die tyd. Maar wie ons is, en wat ons vir die Afrikaanse gemeenskap wil wees en sál wees, het nog nooit verander nie,” sê sy.

Maroela se boom-embleem is in 2017 aangepas om te wys hoe hy vrug begin dra

In 2017 is Maroela Media se oorspronklike handelsmerk aangepas om die groei en ontwikkeling van dié mediaplatform te simboliseer: Die Maroela-boom, wat ʼn simbolisering is van die kuier- en bymekaarkomplek wat Maroela Media vir Afrikaanssprekendes wil wees, het vrugte begin dra – ʼn aanduiding daarvan dat dié boom wasdom bereik het en vrug dra wat tot voordeel van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap is. (Sien aangehegte handelsmerk.)

Hier is ʼn paar interessante feite oor Maroela Media wat jy dalk nie geweet het nie:

  • Maroela Media is vandag, op 29 Julie 2021, 10 jaar oud.
  • Maroela se unieke maandelikse lesers is gemiddeld sowat 2 miljoen.
  • Sowat 25 miljoen stories word maandeliks op Maroela Media se webwerf gelees, en ʼn verdere 20 miljoen op Maroela Media se app.
  • Die afgelope jaar (Julie 2020 tot en met Junie 2021) het Maroela-lesers in totaal 787,5 jaar se tyd op Maroela Media deurgebring.
  • Indien elke storie wat op Maroela gelees is op ʼn bladsy gedruk sou word, sou Maroela die afgelope jaar 28 366 bome se papier opgebruik het.
  • Maroela Media se app het meer as 74 000 gebruikers. Dié app het ʼn gemiddelde gradering van 4,6 op die app-winkels.
  • Maroela Media publiseer maandeliks sowat 1 400 artikels, wat wissel van nuus, sport en landbou tot resepte, goeienuusstories, geestelike inhoud, vermaaknuus, taal- en kultuurstories, motornuus en veel meer.
  • Maroela se lesers lewer maandeliks sowat 10 000 keer kommentaar op die webwerf. Elkeen van hierdie kommentare word gelees en goed- of afgekeur vir publikasie.
  • Maroela het byna 417 000 volgelinge op Facebook, en het meer as 10 miljoen keer per maand interaksie met hierdie volgelinge en ander Facebook-gebruikers – die hoogste van enige Afrikaanse Facebook-mediaplatforms.
  • Hierdie Facebook-volgelinge lewer meer as 100 000 keer per maand kommentaar op Facebook, en Maroela Media se personeel modereer hierdie kommentaar so goed as moontlik.
  • As jy nie die kommentaar op Facebook kan verduur nie, moenie vrees nie: Maroela Media het vanjaar ʼn Facebook-groep begin waar alle Maroela-inhoud ook gedeel word, maar geen kommentaar toegelaat word nie. Dit het reeds sowat 12 500 volgelinge.
  • Op Instagram het Maroela bykans 93 000 volgelinge.
  • Maroela se WhatsApp-intekenare, wat elke middag ʼn WhatsApp ontvang met die belangrikste nuusgebeure vir die dag, is sowat 10 500.
  • Sowat 87 000 lesers is ingeteken op Maroela Media se nuusbriewe, wat insluit ʼn daaglikse hardenuus-nuusbrief (Nuus in ʼn neutedop), ʼn daaglikse nuusbrief met geestelike inhoud (Stiltetyd), ʼn weeklikse nuusbrief met die lekkerste inhoud van die week (Boeretroos), ʼn nuusbrief met die nuutste resepte (Koolstoof) en ʼn nuusbrief met die nuutste Covid-19-artikels.
  • Maroela Media het ʼn kantoorhond, Japie. Japie is ʼn goue apporteerhond (golden retriever) wat in 2016 deel van die Maroela-span geword het. Japie kom kuier een of twee keer ʼn week op kantoor en help om die span se gemoedere te lig.
  • Maroela verskaf daagliks Afrikaanse klankinhoud aan 68 gemeenskapsradiostasies landswyd. Hierdie stasies se totale luisteraarstal is sowat 1,6 miljoen.
  • Maroela Media vervaardig al vir die afgelope nege jaar jaarliks ʼn radiovervolgverhaal in samewerking met die bekende radioregisseur en -vervaardiger Bettie Kemp. Dit word moontlik gemaak deur die Dagbreek Trust. Dié radiostorie word gratis aan ons netwerk gemeenskapsradiostasies verskaf en word ook op Maroela Media uitgesaai. Dit bestaan uit 120 episodes, wat beteken radiostasies het ʼn ononderbroke radiovervolgverhaal vir ses maande van die jaar op weeksdae. Die nuutste radiovervolgverhaal, wat ook op Maroela geluister kan word, is Briekaandraai 2 (luister hier).
  • Maroela gee opleiding aan voornemende Afrikaanse skrywers met ons Afrikaanse kreatiewe skryfskool, Skryfnet, wat vroeër vanjaar in samewerking met Akademia tot stand gekom het.
  • Maroela Media het met Solidariteit Helpende Hand hande geneem met die Bemagtig ʼn Kind-projek, waardeur fondse gegenereer word om vir behoeftige kinders geleenthede te skep na ʼn beter toekoms (ondersteun dit gerus hier).
  • Maroela se eerste resepteboek, Aptyt, het vroeër vanjaar die lig gesien as ʼn viering van tien jaar van heerlike resepte op Maroela Media (laai jou gratis e-eksemplaar hier af).
  • Maroela het ʼn hart vir die landbougemeenskap wat ʼn groot deel van ons lesers uitmaak, en daarom het Boer, Maroela se splinternuwe landbou-afdeling, vroeg vanjaar die lig gesien (lees Boer hier).
  • Maroela se Afrikaanse winkel, Die Koöperasie, verkoop eg Afrikaanse produkte wat so reg in Maroela se kraal is, en die ideale geskenk vir enige geleentheid bied (besoek Die Koöperasie hier).
  • Maroela stel jaarliks ʼn beurs beskikbaar vir een Afrikaanssprekende student om ʼn B-graad in Kommunikasie en Joernalistiek aan Akademia te studeer (lees meer hier).

Maroela Media se bestuurspan: Van links is Elaine Krige, Esté Meyer Jansen, Kobus Bezuidenhout, Christo Brits, Susan Lombaard en Nico Strydom. Voor is Delmarie de Jongh en Annelize Brits. (Afwesig: Suné van Heerden) (Foto: Simoné Venter Photography)

Só vier ons ons verjaardag

 

Dis mos lekker, Maroela!

Van die geskenke wat ons tydens die 10 dae, R100 000 se geskenke-veldtog weggee

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
koekoes

Baie geluk julle, dis lekker om die artikels te lees

PATRICIA

Baie geluk Maroela Media span. Dit is lekker om elke dag die artikels te lees. Baie dankie.

Kanjynoumeer

Veels geluk Maroela Media.
Baie dankie vir jul artikels en vir die platvorm waar ons soms ons frustrasies en griewe kan lug.
Sterkte vorentoe.
Hou ons ingelig en mag jul van krag tot krag gaan.
Baie dankie aan n uitstekende media span.

Yolande

Baie geluk! Dankie vir al die puik artikels.

Wijsneus 

Baie geluk Maroela Media, my gaan natoe plek vir die jongste nuus deesdae. Wens julle nog baie jare van nuuslewering en al die ander lekkerte..