Maroela-skrywer, huiswerker in huis oorval

herman-toerien-02

Herman Toerien is drie en ʼn half jaar terug met Waldenström-kanker, ʼn soort limfatiese kanker, gediagnoseer en ontvang sedertdien intensiewe behandeling insluitend chemoterapie. Foto: Verskaf

Die bekende vryskutskrywer Herman Toerien (63) is Vrydagoggend helder oordag in sy huis deur twee rowers oorval, aangerand en vasgebind.

Mita Koromang (66), die Toerien-gesin se huishulp, het ernstige beserings in die voorval opgedoen en is die waakeenheid van die Pelonomi-hospitaal opgeneem. Toerien se vrou, Joan, was nie ten tyde van die voorval tuis nie.

Toerien, wat bekend is vir sy daaglikse nuuskommentaar op Maroela Media, vertel hy was omstreeks 09:00 juis voor sy rekenaar besig toe hy Koromang hoor gil het. Hy het gaan ondersoek instel en ʼn onbekende man, gewapen met ʼn mes, het op hom afgestorm.

Toerien het probeer om die veiligheidshek tussen hom en die aanvaller toe te druk, maar die aanvaller het dit oopgeruk. “Ek is mos nou maar so-so tussen die krukke en die rolstoel, en ek weeg nou minder as 70 kg, so ek is nie juis in ʼn toestand om met ʼn gewapende aanvaller te baklei nie,” sê hy.

Toerien is drie en ʼn half jaar terug met Waldenström-kanker, ʼn soort limfatiese kanker, gediagnoseer en ontvang sedertdien intensiewe behandeling insluitend chemoterapie. Hy het nietemin steeds probeer om hom teë te sit en het die aanvaller met ʼn erdepot gegooi. “Dit het geen uitwerking gehad nie. Die pot is gebreek en die aanvaller het niks oorgekom nie.”

Toerien het probeer weghardloop, maar die rowers het hom ingehaal. Hulle het hom van agter met die mes bygedam, maar hy sê genadiglik het net die hef hom teen die rug getref en nie die lem nie. Die rowers het hom daarna met kabelbinders vasgebind. “Die heeltyd word ek met die mes gedreig, of dat ek geskiet gaan word.”

Die rowers het vermoedelik in hierdie tyd op die vlug geslaan, want die huis het kort daarna stil geword. Volgens Toerien het Juandré (27), sy jongste seun wat outisties is, daarna uit sy kamer gekom. Juandré het weens sy outisme beperkte begrip- en spraakvermoë, maar kon daarin slaag om die kabelbinders om sy pa se hande los te sny.

Toerien het dadelik vir Koromang te hulp gesnel waar hy haar bewusteloos op die vloer gevind het. Daarna het hy vir Joan en toe die polisie gebel. “Sy het die AfriForum-buurtwag gebel om te kom help. Ek het op daardie oomblik nie eers aan die buurtwag gedink nie; ek het net die polisie gebel. Die buurtwaglede was bitter gou op die toneel. Dit was ongelooflik,” sê Toerien.

herman-toerien-en-sy-gesin

Herman Toerien (middel) en sy gesin op sy seun Nic en Leandri se troue. Agter Herman v.l.n.r. is Juandré, Joan, Nic en Leandri. Foto: Verskaf.

Die buurtwag het dadelik met die polisie geskakel en ʼn ambulans ontbied. “Hulle het vir Mita hier behandel met allerhande toerusting en goed en haar probeer stabiliseer. Toe het hulle haar in ʼn ambulans weggevat. Toe sy weg is, het ʼn groot bloedplas op die vloer agtergebly.”

Toerien sê Koromang het onder meer ʼn skedelbreuk opgedoen en het vermoedelik ook ʼn breinbesering weens die aanval. “As sy dit oorleef, weet ons nie of sy weer dieselfde gaan wees nie,” sê hy. “Mita is ʼn engel. Sy is twee dae ʼn week by ons, maar op 66 jaar hardloop sy nog hier rond en help sy ons so baie. Sy is wonderlik.”

Volgens Toerien het hy redelik lig van die voorval afgekom, behalwe dat sy lyf baie seer is soos hy rondgeruk is. “Agter op my rug is ook ʼn rooi kol waar die mes se hef my getref het en my voet is verskriklik seer. Ek weet glad nie wat die voet oorgekom het nie.”

Hy sê hy vermoed Koromang het die veiligheidshek oopgesluit om vuilgoed uit die huis te vee en dat die rowers hul oomblik afgewag en toe toegeslaan het. “Ons weet nie werklik wat gebeur het nie, want ons was nie daar toe hulle ingekom het nie en Mita was bewusteloos toe ons haar kry.”

Die rowers het met twee rekenaartablette, ʼn selfoon en kontant op die vlug geslaan.

Juandré is intussen na vriende gestuur sodat hy nie hoef toe te kyk hoe ondersoekers en forensiese beamptes die huis vir leidrade fynkam nie. “Môre is die dag wat Juandré altyd vreeslik seremonieel al die Kersversierings in die huis opsit – baie daarvan het hy self gemaak. Ek hoop dat hy teen môre minder getraumatiseerd sal wees om dit nog steeds te kan doen.”

Toerien is vol lof vir die AfriForum-buurtwag en hul vinnige reaksie. “Hulle was ongelooflik. Hulle het alles net so vinnig gereël en voor ons nog kon dink, was daar polisiebeamptes en die ambulans en toe nog polisiebeamptes en forensiese beamptes. Hulle was fantasties.”

Maroela Media kon nie Vrydagmiddag die polisie vir kommentaar bereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Absoluut skokkend. Ons is nou elkeen ‘n teiken wat wag vir ons beurt. Sterkte en beterskap aan Herman.

Judge Dredd ·

Herman ek het nog altyd jou skrywe geniet en hoop jou alle sterkte en vinnige herstel toe.

Mickey ·

Ai Herman, en net so word jy ook n slag offer van die SA misdaad. Ek hoop julle sterk gou aan (Mita ingesluit). Jy voel soos ‘part of the Maroela family’. So hierdie aanval voel dus vir my persoonlik. Mag ons Hemelse Vader by jul wees.

Ouvrou ·

Herman, ek hoop jy weet dat jy deur jou skrywe vir baie mense soos familie voel. Ek glo dat vele van ons met ‘n swaar hart van jou trauma verneem het. Sterkte aan jou en jou gesin en weet dat ons vir Mita bid.

John ·

Herman, beterskap vir jou en jul huishulp wat haar beslis teen die booswigte verset het. Ons hoop van harte Pelonomi se diens gaan almal verras. Onthou skok kom later en jou seun het veral ook hulp nodig omdat hy nie sy skok verbaal kan uiter nie… bv nagmerries kry… vra jou huisarts…

Willem ·

Só jammer om te hoor van jul traumatiese gebeurtenis Herman. Dit voel soms asof die hele SA in duie stort met al die misdaad , korrupsie en swak leierskap. Sterkte en hoop almal herstel spoedig! Baie dankie vir al jou insiggewende artikels! Dit word gereeld gelees.

Jannes ·

In die hele berig is daar nerens inligting oor waar dit gebeur het nie of word dit doelbewus nie genoem nie,
Baie sterkte Herman

Grassie ·

Herman – jammer om te verneem van die lafhartige aanval op jou. Jy het al so ‘n deel van die gereelde MM-lesers se daaglikse bestaan geword dat dit vir my voel of ‘n familielid van my aangeval is. Sterkte, vriend, ek glo ons Skepper sal jou deur hierdie trauma dra.

Herman Toerien ·

So ‘n “tusentydse dankie” aan almal vir die beste wense. Ek sal môre, as ek beter voel, behoorlik dankie sê. Ondertussen, onthou, ‘n mens se veiligheid is so sterk soos die swakste plek in die skakels. In dié geval het Mita ‘n veiligheidshek oopgemaak wat die skelms toegang tot die huis gee. Sy het haar verbete verset, en die prys betaal. Die jongste inligting wat ons van die hospitaal kry is dat sy vier keer met ‘n mens gesteek was, maar ons weet nie of dit die kopwonde insluit nie, want dit lyk meer of sy met ‘n swaar voorwerp oor die kop geslaan is. Ek is voorheen op straat aangeval, en was in ‘n vreeslike geveg betrokke. Dave Marais se karate het beslis gehelp, en uiteindelik kon ek die aanval afslaan. Maar dink mooi voor jy handgemeen raak, veral as hulle gewapen is. Hulle is ontsettend goed ingeoefen en het seker almal fênbelts in straatgevegte.

Peet Schabort ·

Herman, ontstellend om te verneem wat gebeur het. Ek glo dat ek in ‘n mate besef wat die fisiese betref van ‘n kankerlyer daar my vrou daardie geveg verloor het. Sterkte aan julle almal en mag die Here volle genesing bewerkstellig.
Dankie ook vir die noem vd veiligheidshek se oopmaak want ons andere moet ook daaruit leer. In alle waarskynlikheid het my swaer se moordenaar ook hom in sy blyplek ingewag omdat die veiligheidshek nie gesluit was terwyl hy buite doenig was. Met sy instap is hy doodgeslaan. Dit lyk my mens moet spieëls/kameras om elke draai en hoek hê. So ongevraagd maar ek sien uit na jou artikel oor hierdie voorval. Groetnis. Peet.

Herman Toerien ·

Weer eens dankie vir al die goeie wense. Ons jongste nuus van Mita is dat die kopbeserings baie ernstig is maar dat sy stabiel is. Bainsvlei se GPF het vriendelik daarop gewys dat dit hulle was, en nie AfriForum nie, wat so gou op die toneel was. My verskoning dat ek inkorrekte inligting aan Maroela verskaf het. Ek was onder die indruk dat al Bloemfontein se GPF’s en AfriForum ten nouste saamwerk. Uit Google blyk dit die buurtwag is ten sterkste met AfriForum verbind en dis warmee ek verwar was. (Ek was jare gelede GPF-voorsitter tot ek vir ‘n politieke party gaan werk het). Uit Google blyk dit dat die twee instansies goed saamwerk. Feit is, ons gemeenskap wat eens feitlik misdaadvry is, het taamlik erg onder huisrooftogte en huisbrake begin deurloop. Hier is naby ons ‘n straat wat as “indiensnemingsburo” dien. Terwyl gewag wore om opgelaai te word kan baie bespieding gedoen word. Snags word in die koppies en oop velde geslaap. Dis duidelik ons huis was dopgehou sodat hulle geweet het watter dae Mita inkom, en wanneer sy die hek oopsluit om uit te vee.

Alida ·

Lees die berig dit is tog duidelik dit was by sy huis. Is die adres nou regtig van soveel belang. Genade dankie tog hulle het oorleef.

Paul ·

Alida; dit is tog duidelik dat Jannes wonder in watter stad/voorstad die aanval plaasgevind het. Die Pelonomi-hospitaal is in Heidedal, Bloemfontein. Sterkte aan almal betrokke.

Kolle ·

Die aanvalle vermeerder vandat Afriforum die EFF pak gegee het in die hof. Kan net dink hoe misdaad en geweld onder blankes nou meer as ooit aangemoedig word.

Essa ·

Herman, jammer oor julle beproewing. Hoop jy en Mita herstel volkome en dat jou gesin, veral Juandré, die trauma sal oorkom (en dat die opsit van die kersversierings môre vir hom plesier sal gee). Jy is so ‘n moedige mens en inspirasie – beterskap en sterkte! M

Rudolph ·

Het in langenhovenpark Bloemfontein +_ 9am vanoggend ge beer.

Johann cb ·

Ai Herman, dit is ‘n skokkende voorval! Ek glo en vertrou dat jy en Mita spoedig sal herstel. Sterkte met die chemoterapie. God seën jou.

Anton van Niekerk ·

Herman, ek is geweldig geskok deur die nuus van die absoluut veragtelike aanval op jou. Wees verseker van my opregte meelewing in hierdie moeilike tyd. Ek is ook baie jammer om te verneem van jou siekte, waarvan ek nie bewus was nie. Ek bid en vertrou dat jy spoedig en volkome van albei terugslae sal herstel. Slegs my beste wense vergesel jou en jou gesin.

Cherokee ·

Herman, vanaf nòg een van jou gereelde lesers, mag God vir julle voorsien. Ek lees wat jy vertel van Mita. Ek is op ‘n stadium waar ek die enigste moslem in my WatsApp- en Facebook-groep (toevallig ‘n baie persoonlike kennis) bloot verwyder het. Dìt is waarom ons ‘n ‘Del’ knoppie het, nie net op rekenaar nie maar ook in persoonlike lewe. Mia of Bia waarvan berig is dat sy die hoogste straf ontvang het omdat sy die ongeleerde mohammedaanse pedofiel beledig het, het bygedra daartoe. Gelukkig is sy onskuldig bevind.
Maar dan lees ek van ‘n Mita en wonder weer of ons bloot veragters van kleur mag wees.
Soos ek in ‘n ander kommentaar gesê het, my ouboet het by herhaling gesê dat hy nie die land sal verlaat nie want dit is die interessantste land ter wêreld. Maar hy het wel 3 maande gelede emigreer… na ‘n ander planeet.
Voorspoed Herman, vir jòu, Mita en jou vrou.

Eish ·

Spoedige beterskap toegewens Herman.
Daar is nie woorde om die lafhartige optrede te verwoord nie.

DC ·

Herman, ons dink aan jou en gesin en wens jou/julle spoedige beterskap toe. En mag die traumatiese ervaring meewerk tot nog meer produktiewe skryfwerk. Dis wat ek glo ook tannie Lita sou wou sien. Ons moet vasstaan. Daar nie n ander opsie of heenkome nie.

Onnie-se-kind ·

Ons lewens word nou van alle kante ingesluit en beperk en ons moet maar vrede daarmee maak.. Ek loop elke dag om lewensmiddele te gaan koop en ek wonder hoe veilig ek werklik is, is ek minder veilig as iemand wat winkel toe bestuur, of nie? Ek is nog nooit aangeval of gedreig nie, maar ek loop nie en praat op my selfoon of dra duur juwele nie.
Om in jou blyplek aangeval te word moet traumaties wees, ek hoop Herman en sy seun kan dit verwerk en dat die huiswerkster heeltemal sal herstel. Jammer dat dit met sulke goeie mense moes gebeur…Ek is bang!!!!

Andries Visagie ·

Jy kry nie groter lafaards as die gemiddelde misdadiger in SA nie – die teikens is altyd weerlose mense. Alle sterkte en voorspoed, Herman. Spoedige beterskap. Hoop Mita word ook gesond!

hennie van deventer ·

Min “veilige” plekke in SA oor. Kalm geeste en snelle beterskap vir almal in die Toerienhuis toegewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.