Maroela word 6: Ses jaar se beste stories

Die Maroela Media-span (Foto: Maroela Media/René Roux)

Maroela Media, wat onlangs deur Effective Measure aangewys is as die agtste beste Suid-Afrikaanse nuuswebwerf vir 2017, is vandag ses jaar oud. Die Maroela-nuusspan het ʼn paar somme gemaak en ʼn bietjie in die digitale argiewe gekrap om te sien watter stories en ander inhoud die gewildste was, en hoeveel inhoud op dié webblad in die afgelope ses jaar gelees is.

  • Die gewildste stuk wat nog ooit op Maroela Media gepubliseer is, is Hettie Brittz se meningstuk “Oom Angus-saamtrek: Hou op murmureer soos ʼn knorrige Israeliet!”, na aanleiding van die Anguss Buchan-gebedsdag in Bloemfontein vroeër vanjaar. Dié stuk is 328 241 keer gelees – dit is byna die helfte soveel soos die totale aantal bladsyvertonings vir die volle eerste jaar van Maroela se bestaan (2011/2012).
  • In Maroela Media se eerste volle jaar van bestaan (Augustus 2011 tot Julie 2012) is 709 151 bladsye op die webwerf vertoon. In die afgelope jaar (Augustus 2016 tot Julie 2017) is 59 083 946 bladsye vertoon – 83 keer meer as in die eerste jaar.
  • Vanaf Augustus 2011 tot en met Julie vanjaar is meer as 112 miljoen bladsye op Maroela Media vertoon (om presies te wees, 112 928 550 bladsye).
  • Dit beteken, meer as die helfte van die bladsye wat nog ooit op Maroela gelees is, is in die afgelope jaar gelees – dís nou vir jou gesonde groei!
  • Die nuusartikel wat in Maroela Media se eerste jaar die meeste gelees is, was “Huldeblyke stroom in vir Zak van Niekerk”, wat 24 644 keer gelees is. Vergelyk dit met die nuusartikel in Maroela se bestaan wat nog ooit die meeste gelees is, “11-jarige sterf onverwags: ‘Ander ouers moet weet’” – dis 241 095 keer gelees.
  • Die gewildste resepte op Koolstoof vir die afgelope ses jaar op Maroela Media wys duidelik waar Afrikaanssprekendes se sentiment lê as dit by etenstyd kom! Die volgende resepte was die gewildstes vanaf Augustus 2011, en sê duidelik iets oor wie ons lesers is:
  • In die vermaak-afdeling, Op die planke, was die aankondiging dat die Afrikaanse akteur Pierre van Pletzen nie meer as Septimus “Oubaas” van Zyl in die SABC2-sepie te siene sal wees nie, die mees geleesde artikel, met 94 627 vertonings (Junie 2017).
    In die tweede plek was ʼn artikel oor die huidige mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, wat ʼn storm op sosiale media ontketen het met ʼn foto waarop sy mediese handskoene dra waar sy tydens ʼn liefdadigheidsgeleentheid vir kinders kos uitdeel. Dis 78 101 keer gelees.
  • Op Nou pra’ jy, Maroela Media se meningsplatform, was Dawie Roodt se brief “Ek kies die groter vrees,” wat hy geskryf het ná ʼn gewapende roof waaronder hy en sy gesin in hul huis deurgeloop het, die tweede mees geleesde bydrae (naas Hettie Brittz se Angus Buchan-meningstuk). Die brief is 127 679 keer gelees.
  • Op Toetentaal, Maroela se afdeling vir Afrikaans, was die artikel “Video: Pitch Perfect-aktrise praat ook Afrikaans” (Mei 2015) die gewildste, met 14 488 bladsyvertonings. Dit het gehandel oor Rebel Wilson, een van die artikels in die fliek Pitch Perfect, wat in ʼn onderhoud gespog het met haar Afrikaanse woordeskat.
  • Gedoriewaar (Maroela se afdeling vir vreemde en ongewone stories) het in 2016 die storie “Video: Kyk hoe skud aardbewing water uit swembad” Dié storie is 83 308 keer gelees.
  • Op Maroela Media se goeienuus-afdeling, Karmenaadjies, het drie lekker stories uit die afgelope drie jaar koning gekraai – twee daarvan plaaslike stories.
    Die gewildste was ʼn storie getiteld “Ma’s reg oor die wêreld in trane oor dié video” (2017) – die storie en gepaardgaande video is 69 725 keer gelees en gekyk.
    Die tweede gewildste stuk was ʼn stuk wat deur Pieter Steyn geskryf is, naamlik “Miriam is dood” (2016). Pieter se stuk oor sy hartseer nadat sy huiswerker oorlede is, is 63 387 keer gelees.
    In die derde plek was ʼn storie oor die Spar in Plettenbergbaai wat ʼn krat vrugte in die winkel geplaas het, en ouers nooi om vir hul kinders ʼn vrug te neem om te eet sodat die kinders nie honger word terwyl hul ouers inkopies doen nie. Die storie “Spar in Plet laat sosiale media gons” (2015) is 56 142 keer gelees.

Lekker, Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Showahed ·

Pragtige mense! Die enigste ordentlike Afrikaanse nuus veskaffer…. Wel gedaan!

Dalene van den Berg ·

Baie geluk! Julle beleid dat nuus gratis moet wees, is uniek. Ons geniet al die afdelings geweldig baie en hoop dat julle in die toekoms net van krag tot krag sal gaan en aanhou om al die lesers op hoogte te hou van nuusgebeure.

Cherokee ·

Bie interessante inligting met die nodige skakels, Maroela. Baie geluk vanaf leserskant en miskien veral vanaf die gereelde kommentators vir wat julle bereik het in ‘n relatief kort tyd. Die koerant is uiters populêr. Al wat skort is name onder die foto. Julle kan dit gerus weer plaas met name sodat ons weet wie is wie op die foto.

MCH ·

Wat n mooi klomp jonges! Dis n riem onder die hart dat die jonger geslag se hart op die regte plek sit. Uitstekende werk wat jul doen.

Chris Ws ·

Veelsgeluk!Ek lees GEEN ander internet koerant nie en ook geen gedrukte koerant nie.Ek lees NET Maroela Media.Baie dankie vir jul toewyding mense!Alle voorspoed vir die jare vorentoe!

Ada ·

Baie geluk!!! Dit is so lekker om nie Fake News te lees nie! Ek is so trots op julle! Julle word wereldwyd gelees!
Dankie
Groete

Piet Pille ·

Stem volkome saam met Cherokee, puik Maroela gaan so voort. My hoogtepunt van elke dag.

Phillip Jessen ·

Julle is mooi jong klop ook gaan nog baie ervaaring op doen . Elke werk het maar sy klehente wat kwaad stook hulle is oorals en daar is baie meer wat julle werk eer GAAN GROOT MM Phillip Jessen

Dries Theunissen ·

Baie geluk. Vir my is dit voorwaar ‘n wonderlike weergawe van wat in my land aangaan. Dit is veral verfrissend om in al die misdaad en onregverdigheid te verneem van baie Afrikaners wat nog aanhou en vashou aan hulle geloof in God. Sterkte vir julle wat nie geval het vir al die leuens en nie die knie voor Baal gebuig het nie. Lank lewe Maroela, lank lewe die Boere Volk.

Therese van Schalkwyk ·

Veels geluk, Maroela!

Afrikaanse nuus- en kuierplek duisend!

Herman Toerien se Nuuskommentaar ‘n wenner, asook die gereelde puik meningstukke.
Doen so voort!

John ·

Julle is die beste. Well done vir onpartydige berigte. Hou so aan. Jy praat my taal

Basjan ·

Baie geluk Maroela Media! Julle is voorwaar ‘n uitstekende nuusbron. Doen so voort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.