Martins kap terug oor Gupta-bewerings

Ben Martins, adjunkminister van openbare ondernemings. Foto: ANA

Ben Martins, adjunkminister van openbare ondernemings, het Donderdag bewerings dat hy op 29 Julie vanjaar met Ajay Gupta en Duduzane Zuma vergader het as “nonsens” bestempel, maar kon nie bevestig wat hy op dié dag gedoen het nie.

Dit volg nadat Suzanne Daniels, geskorste hoof van Eskom se regsdienste, Woensdag aan die parlementêre komitee van ondersoek na beweerde staatskaping by die kragvoorsiener gesê het Martins was teenwoordig toe Ajay Gupta gesê het hy sal druk op die adjunk-regter-president se kantoor plaas om seker te maak dat ʼn hofsaak oor Brian Molefe se pensioenuitbetaling eers ná Desember 2017 gefinaliseer word.

“Sy is ʼn leuenaar,” het Martins Donderdag gesê. Op ʼn vraag waar hy dan op 29 Julie vanjaar was, het hy gesê hy kan nie onthou nie. “Ek sal in my dagboek moet kyk waar ek op enige dag in Julie was. Ek het nie na my dagboek gekyk nie en ook nie vir my personeel gevra waar ek daardie dag was nie.” Hy oorweeg regstappe oor Daniels se bewerings.

Maroela Media het vroeër berig Daniels het aan LP’s gesê sy is op 29 Julie vanjaar deur Salim Essa, ʼn prominente sakevennoot van die Gupta-broers, genader. Hy het gevra dat sy hom by Melrose Arch in Johannesburg vir koffie ontmoet en het haar daarna na ʼn meenthuis in die omgewing geneem.

Volgens haar was Ajay Gupta en Duduzane Zuma ook by die meenthuis teenwoordig en het ʼn gesprek ontstaan oor die hofsaak waarin die R30 miljoen-pensioenuitbetaling van Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, betwis is. Gupta, wat kaalvoet was en ʼn grys sweetpakbroek aangehad het, het gevra: “Hoe ver is hulle?”

Daniels het geantwoord dat daar nog nie ʼn hofdatum vasgestel is nie, want nog partye sal by die hofverrigtinge aansluit en daar moet eers gesprekke met die adjunk-regter-president se kantoor wees. “Hy het gesê hy sal dan net met iemand in die adjunk-regter-president se kantoor moet praat en seker maak die verhoor vind eers ná Desember 2017 plaas,” het sy gesê.

Martins het Donderdag erken dat hy wel al die Guptas ontmoet het. Hy het ʼn Indiese kosfees by die Guptas se herehuis in Saxonwold bygewoon, waar hy die broers ontmoet het. Dit was in 2013 kort nadat hy as adjunkminister aangestel is. Hy het Tony Gupta ook by ʼn media-sakeontbyt ontmoet.

Volgens Martins moes hy gedurende sy termyn as minister van vervoer ingryp tot Sfiso Buthelezi, destyds die raadsvoorsitter van Prasa en nou adjunkminister van finansies, en Lucky Montana, Prasa se voormalige uitvoerende hoof, by hom gekla het dat die Guptas probeer om hulle “uit te werk”.

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Martins sê hy het Buthelezi, Montana en Tony Gupta na sy huis genooi om die saak uit te klaar.

Die adjunkminister het geskimp dat Daniels ʼn wrok teen hom koester omdat hy haar vermaan het. Hy het gesê hy het Daniels drie of vier keer ontmoet, saam met sy hoof, min. Lynne Brown, Richard Seleke, die departement se direkteur-generaal, en Ben Ngubane, die voormalige raadsvoorsitter van Eskom, om Molefe se pensioenuitbetaling te bespreek.

“Gedurende daardie gesprekke het die minister reguit vrae gevra oor wanneer Molefe aangestel is, wanneer hy bedank of hom losgemaak het van Eskom en hoe daar op die bedrag van R30 miljoen gekom is,” het Martins gesê.

“My gevoel was dat die minister nie die volle waarheid met betrekking tot die Brian Molefe-kwessie meegedeel is nie. Ek het vir haar [Daniels] gesê as regsadviseur is dit haar verantwoordelikheid om ten volle te erken wat sy alles weet.”

Kort hierna het die Eskom-raad vir Daniels geskors. Martins sê hy het geen hand in hierdie skorsing gehad nie.

“As die hoof van Eskom se regsafdeling moet me. Daniels aan die parlement verslag doen oor dit wat onder haar toesig gebeur het, eerder as om die geleentheid te gebruik om haarself te herontwerp as ʼn onkundige ignoramus,” het Martins gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genieve ·

Kan hom nie glo nei eers weet hy nie waar hy was nie en te was hy by hulle lekker storie oom Martins.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.