Ma’s kan nou berusting kry ná jong paartjie se skietdood

Johanco Fleischmann en Jess Kuhn. (Foto: Facebook)

“Niks gaan ooit ons kinders terugbring nie, maar daar is darem gemoedsrus.”

Só sê Marika Fleischman nadat Malosi Gift Shima en Ishmael Hlabati Vrydag skuldig bevind is aan die moord op haar seun, Johanco (19), en sy vriendin, Jess Kuhn (23).

Johanco en Jessica se voertuig het in Mei 2019 op Putfonteinweg in Benoni aan die Oos-Rand sonder brandstof gaan staan, waarna hulle koelbloedig doodgeskiet is. Shima en Hlabati is in Junie 2020 in verband met die moorde aangekeer.

“Dit was baie emosioneel. Ek kan nie vir iemand sê hoe traumaties dit was om alles elke keer te moes aanhoor nie,” het Fleischman oor die verhoor gesê.

“Dit was hel,” sê Johanna Kuhn, Jessica se ma. “Alles het aan die lig gekom oor hoe dit gebeur het, waar dit gebeur het … dinge wat ons nie eens geweet het nie. Dit het my baie ontstel.”

Ooggetuie deurslaggewend in saak

ʼn Ooggetuie wat Shima en Hlabati op die toneel geplaas het, het uiteindelik daartoe gelei dat die twee mans skuldig bevind is.

“Ons dank die Here daarvoor. Hulle was na die toneel om te sien of die ooggetuie werklik die waarheid gepraat het. Alles het van sy getuienis afgehang,” het Fleischman gesê.

“Sulke dinge gebeur nie sommer nie. Ons kan net vir God dankie sê daarvoor. Ons het gebid vir geregtigheid en dit het geskied,” het Kuhn bygevoeg.

Daar was glo die betrokke dag ook ʼn derde verdagte op die toneel, maar dié is nog soek. Fleischman vermoed Shima en Hlabati sal nou moontlik inligting oor hul makker verskaf.

Talle vrae maar berusting

“Ons weet nie hoekom nie … hulle was onskuldig. Hierdie mense het net gekom en hulle doodgeskiet, dit maak nou nog nie sin nie,” sê Kuhn.

Daar is groot onwettige mynbedrywighede in dié gebied waar Johanco en Jess vermoor is en daar is destyds vermoed dat daar verkeerdelik aangeneem is dat die jong paartjie goudstof wou koop.

“Die hofsaak het mens emosioneel, geestelik en fisiek uitgemergel,” sê Fleischman. “Mens kan nie glo hoe vat dit aan ʼn mens nie.” Sy het egter nou berusting nadat sy tydens die hofsaak meer inligting kon kry oor wat op die betrokke dag gebeur het.

“Ek dink ons sal ná die vonnisoplegging berusting kan vind,” het Kuhn gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.