Ma’s met miskrame nie behoorlik ondersteun

Argieffoto bloot ter illustrasie, (Foto: Unsplash)

Daar is oënskynlik ʼn groot tekort aan emosionele ondersteuning vir vroue wat die traumatiese ervaring van ʼn miskraam of doodgeboorte moet deurmaak, ten spyte van die feit dat een uit vier swangerskappe in ʼn miskraam eindig.

Kenners meen medici in staatshospitale word nie behoorlik opgelei om vroue by te staan in dié traumatiese omstandighede nie. Boonop word hierdie soort onerkende verlies, en die trauma wat ouers moet deurmaak, afgemaak as ʼn algemene verskynsel wat wêreldwyd voorkom.

Chrizelle Ruppersburg, ʼn 22-jarige inwoner van Nelspruit, het onlangs haar kind aan die dood afgestaan nadat sy op 20 weke by die huis begin kraam het. Sy het op pad na die hospitaal desperaat probeer om haar kind tussen haar bene vas te hou terwyl sy geboorte gegee het.

Ruppersburg het sowat twee weke gelede erge kontraksiepyne by die huis begin kry. “Toe ek van die bed af opstaan, het die baba uitgekom,” sê sy.

Ruppersburg en haar verloofde, Divan Lubbe (21), is inderhaas hospitaal toe met die hoop dat die dokters hul kind kan red. Die baba was glo steeds lewend teen die tyd wat hulle die hospitaal bereik het.

Die personeel by die Rob Ferreira-hospitaal het ingespring en Ruppersburg na ʼn kamer geneem waar sy verder gekraam het.

“Toe die baba amper uit was, het ek net aanhou sy kop vashou want ek het gedink hy kan gered word. Ek het ook my hand agter sy nek gehou sodat hy nie seerkry nie,” sê ʼn hartseer Ruppersburg.

“Maar toe ek sien my baba beweeg nie, toe weet ek dit is verby.”

Verpleegsters het die baba ná die geboorte in ʼn lap toegedraai en by die voetenent van Ruppersburg se bed neergesit. Eers ure later, toe Ruppersburg teater toe moes gaan om ʼn baarmoederskraap te kry, het hospitaalpersoneel die baba se lykie kom haal.

“Dit was omtrent die ergste van die hele ervaring.”

Cassandra Ruppersburg, Chrizelle se suster, sê die hospitaalpersoneel het vir haar suster gevra of hulle die kind wil huis toe neem.

“Sy (Chrizelle) was baie verward en het vir hulle gevra wat sy met die baba moet maak,” sê sy.

“Hulle het toe net daar en dan die baba in ʼn swart sak gesit en weggeloop.”

Daar was nie op enige tydstip van die beproewing ʼn berader by Ruppersburg nie en sy het intussen ʼn private berader genader om haar te help om die gebeure te verwerk.

Gebrek aan kennis, opleiding

Sonja Smith, begrafnisgroepeienaar en stigter van die organisasie The Voice of the Unborn Baby, sê sy het deur die loop van haar loopbaan talle stories soos dié gehoor.

“ʼn Mens is uitgelewer aan die medici wat voor jou staan,” sê sy.

“Ons het ook al gevalle gekry waar die baba voor die ma soos ʼn stuk vuilgoed weggegooi word. ʼn Vrou het al in trane gebel en gesê dat dieselfde sowat 40 jaar gelede met haar gebeur het. Dit is geweldig traumaties.”

Volgens Smith is daar ʼn gebrek aan kennis in die openbare gesondheidsbedryf oor hoe om gevalle soos dié reg en met die nodige simpatie te hanteer.

“Daar is ʼn leemte in die opleiding van medici en baie min tyd word hieraan bestee,” sê sy.

“Hierdie mense [wat miskrame of doodgeboortes gehad het] moet met fluweelhandskoene hanteer word.”

Sulke ervarings laat mense dikwels met ongekende emosionele letsels wat boonop vererger word deur mense wat dit probeer versag met sêgoed soos: “Ag julle is nog jonk, julle kan weer swanger raak”.

“Hierdie soort gebeure kan post-traumatiese stres veroorsaak en blywende gevolge hê.”

Die departement van gesondheid het na bewering jare gelede ʼn konsepbeleid opgestel wat sou toesien dat ʼn berader in alle staatshospitale beskikbaar gestel word om pasiënte wat ʼn miskraam of doodgeboorte gehad het, by te staan. Die beleid is glo nooit in werking gestel nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die departement gestuur, maar wag steeds op ʼn antwoord oor die beleid en planne om hierdie soort ondersteuning in die toekoms aan te bied.

Dr. Robyn Rosin, ʼn sielkundige wat ook traumaberading aanbied, het aan Maroela Media gesê dit is broodnodig vir mense wat so ʼn verlies deurgemaak het, om daaraan aandag te gee en te verwerk.

“Die gebeurtenis – die verlies van ʼn kind – moet erken word en nie net onder die mat ingevee word nie. Almal verwerk sulke voorvalle verskillend, maar nietemin moet dit verwerk word. Indien nie kan dit later weer kop uitsteek wanneer jy nie noodwendig die hulpbronne het om dit te takel nie.”

Rosin stem saam dat daar doodeenvoudig nie genoeg aandag gegee word aan die erns van miskrame nie en dat diegene wat dit oorkom, veral in staatshospitale, bloot aan hul eie genade oorgelaat word.

“Daar moet eenvoudig net meer gedoen word om die emosionele toestand van sulke mense te erken en vroegtydig te behandel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Verpleging was in die 80’s nog ‘n Beroep maar deesdae is dit ‘n werk. Die meeste wat in die poste aangestel word, is nie wesens wat ‘n passie vir die versorging van mense het nie, maar ‘n finansiële inkomste. Gaan stel ondersoek in en vergelyk hoe het die opleiding van 30 jaar gelede verskil teen die huidinge opleiding. Die antwoorde sal daar gevind word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.