Ma’s soek antwoorde oor kinders se toestand

Jade Coetzee (Foto: Verskaf)

Geen prys is te duur om te betaal vir twee ma’s met kinders met spesiale behoeftes nie, albei van die Strand in die Wes-Kaap. Mercia Coetzee en Vicky Mostert is op soek na antwoorde omtrent hul kinders se siektetoestand nadat talle spesialiste hulle bloot geantwoord het: “Ons weet nie.”

Dié twee is vasbeslote dat ’n konferensie van sowat R96 000 die vrae waarna hulle só desperaat soek, sal kan beantwoord.

Jade Coetzee

Coetzee se dogtertjie, Jade, kan op driejarige ouderdom nog nie loop nie. Die rede hiervoor is egter onverklaarbaar.

Coetzee het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat Jade vyf weke te vroeg gebore is, maar andersins blakend gesond was. Tydens haar ontwikkeling het dit egter gou duidelik geword dat alles nie pluis is nie. Jade het glo langer gevat as ander babas om te leer sit en het mettertyd nooit begin loop nie.

Op een jaar het Jade se oë ook begin skeeltrek. Sy is na ’n spesialis wat haar as versiende gediagnoseer het. Dié is egter die enigste diagnose wat tot op hede gemaak kon word.

Coetzee vertel dat sy met Jade van die een spesialis na die ander is. Nie een van die spesialiste kon egter verduidelik waarom Jade nie kan loop nie. “Ons het al die spesialiste gaan sien. Ons het X-strale en breinskanderings laat doen. Ons het na haar senuweestelsel laat kyk. Ons het haar gehoor laat toets. Ons het genetiese toeste laat doen. Alles het normaal teruggekom.” Daar kon wel bepaal word dat Jade “lae spiertonus en elastiese gewrigte” het.

Volgens Jade se fisioterapeut kan dit egter nié die verklaring wees nie. “Dit is ’n simptoom van iets maar niemand weet van wat nie,” sê Coetzee.

Al verduideliking wat spesialiste kan gee is dat Jade ’n seldsame mediese geval is. Coetzee kan egter nie by hierdie antwoord berus nie. “Dit is nie vir my goed genoeg nie.”

Sy vertel dat sy al telkemale die vinger na haarself gewys het en gewonder het of sy nie tydens haar swangerskap of met Jade se geboorte iets verkeerds gedoen het nie.

Om sake te vererger, is dit Jade se grootste begeerte om te kan loop en hardloop. Coetzee vertel dat Jade gereeld vra waarom sy nie ook kan loop nie. “Sy is so bright. Sy vra intelligente vrae en haar onderwyser het vir my gesê dat sy in ’n hoofstroomskool hoort.”

Coetzee verduidelik dat Jade haar situasie veral moeiliker hanteer vandat die skool vanjaar heropen het. “Sy sien wat om haar aangaan en sy voel gefrustreerd. Ons sukkel ook om haar snags aan die slaap te kry. Ons dink dis maar al die opgeboude energie wat sy nie kan uithardloop nie.”

“Dis maar wat ons gewoond is, maar dis nie maklik nie.”

Leah Mostert

Leah Mostert (Foto: Verskaf)

Coetzee het gedurende haar beproewing by ’n ondersteuningsgroep vir ouers met kinders met spesiale behoeftes aangesluit. Dít is hoe sy van Mostert gehoor het. Mostert loop ’n soortgelyke pad met haar vyfjarige dogtertjie, Leah.

“Ek het haar [Vicky] gebel en begin moeite doen aangesien Leah in dieselfde kategorie as Jade val. Leah kan óók nie loop nie.”

Coetzee verduidelik dat Mostert se pad egter erger as haar eie is aangesien Leah ook outisties is. “Sy kan verstaan, maar sy kan glad nie kommunikeer of praat nie.”

Dit is deur Mostert dat sy gehoor het van ’n terapeut wat die Family Hope Center in Pennsilvanië in die  VSA se Parent Training Conference bygewoon het. Dié terapeut het Leah behandel en Leah kon gevolglik sekere dinge binne ses maande doen wat Jade sowat twee jaar geneem het om aan te leer. “Ek het besef hiér is iets magic. Ek móét deel daarvan wees,” verduidelik Coetzee.

Die Family Hope Center is ʼn internasionale organisasie en personeel van die sentrum gaan Suid-Afrika in Februarie besoek om gesinne te help met kinders wat met spesiale behoeftes gediagnoseer is.

Die span help glo ouers van kinders met spesiale behoeftes en neurologiese probleme deur die ouers te leer om funksionele verbeteringe te bevorder in die areas van fisiologiese gesondheid, fisieke struktuur, sensomotoriese vermoëns, gedrag, kognisie en kommunikasie.

Die Family Hope Center het ook vantevore vir Pippie Kruger van Ellisras, wat sowat 80 persent brandwonde oor haar lyf in 2011 opgedoen het, behandel.

“Die terapeut het aanbeveel dat ons self die kursus bywoon aangesien sy ons net soveel kon vertel. Dit sal beter wees as die Amerikaanse spesialiste vir Jade en Leah sien. Die kans is dalk groter dat hulle al ’n geval soos Jade s’n teëgekom het,” verduidelik Coetzee.

Dié kursus vind van 15 tot 17 Februarie in Pretoria plaas waartydens kinders soos Jade en Leah deur ’n spesialisspan wat ʼn neuro-ontwikkelingspediater, ʼn fisioterapeut, ʼn spraakterapeut, ʼn chiropraktisyn, ʼn dieetkundige en ʼn toksikoloog insluit, te laat assesseer. ’n Behandelingsplan word vir elke kind opgestel waarna ouers opleiding ontvang om hulle toe rus met die nodige kennis om hul kind se terapeut te wees, verduidelik Coetzee.

Coetzee vertel dat sy en Mostert graag dié kursus wil bywoon maar het ongelukkig nié die geld daarvoor nie aangesien alles altesaam sowat R96 000 uit die sak sal jaag. Mediese fondse dek ook nie kursusse van dié aard nie.

“Dit is ons hartsbegeerte om die konferensie te kan bywoon. Ons glo vas dit is wat ons kinders gaan help. As jy ’n mamma is sal jy enige iets vir jou kind doen. The sky is the limit. Al moet jy jou huis en jou kar verkoop,” verduidelik Coetzee.

Besoek gerus hul fondsinsamelingsveldtog om Coetzee en Mostert by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Molly ·

Baie sterkte familie, sien daar is al R91K ingesamel. Ek dink dit is BS dat Suid Afrikaners in dollers moet betaal – regtig!

Yolandi ·

Ongelukkig nou eers R24000.
Dit maak nie regtig saak in watter geldeenheid jy betaal nie, as dit jou vat na jou EFT gaan dit self oor in Rand. (jy kan miskien net online kyk wat die r.o.e is sodat jy kan ‘convert’ hoeveel jy sal wil skenk) xxx

Leser ·

Ai…wens ek kon help. Daar was n program op DSTV, baie soortgelyk en die dogtertjie is uiteindelik met Ehlers-Danlos sindroom gediagnoseer. Sterkte, sulke pragtige dogtertjies

ANNA SNYMAN ·

My klein kind kan ook nie loop en praat nie hy is nou al 6 jaar oud .Ons het ook geen sukses
volle diagnose gekry nie .Al hoewel hy kan kruip maar sy knieë is al so seer gekruip en sy
enkels ook .Die pediater het hom met CP gediagnoseer maar as jy nie n goeie medies het nie doen die Dokters en spesialiste nie eindelik veel moeite vir kinders met spesiale behoeftes nie.Die medies wat ons vra hom het betaal letterlik net die dokters besoeke en verder niks van sy ander mediese onkoste .

Antz ·

Ons dogtertjie kon ook nie loop en kan ook nog nie praat, sy is ook 6 jaar oud. Hulle het haar ook gediagnoseer met ligte CP. Ons het wel ‘n Dr Potgieter by Life Hospitaal Groenkloof in Pretoria gaan sien. Sy het ons gehelp en na ‘n operasie loop ons dogter nou. Ons het haar ook by ‘n pedeatriese spraak spesialis wat haar leer om met hand gebare te wys wat sy nodig het. Sy is goed oppad om elke dag meer selfstandig te wees. Sy eet en drink op haar eie. Haal haar eie pap uit die kas, wys vir ons wat sy nodig het. Groot sprong voorentoe as mens hul net kan leer om selfstandig te kan wees.

Help graag ·

Ek het in 2011 n pad gestap met my peetkind wat op 3 nie Kon loop ens nie. Ons is uiteindelik verwys na Dr Ryno du Plessis, n Ortopediese chirurg by Louis Leipoldt Mediese Sentrum in Belleville wat ons uiteindelik Kon help met n diagnose en behandeling.

Denise Potgieter ·

Ek dink dis belangrik dat ouers deur hulle dokters na die regte terapeute en dokters by gespesialiseerde sentrums gekanaliseer word. Daar is baie uitstekende dienste in Suid Afrika self beskikbaar. Moet nooit moed opgee nie want daar kan baie bereik word met korrekte geindividualiseerde behandelingsprogramme. Baie sterkte aan hierdie twee wonderlike mammas!

OLGA ·

Vandag se dokters stuur jou na sy chommie toe wat net so min weet soos hy. ek hoor altyd eers waste dokter ander mense aanbeveel en se dan sommer vir die dokter reguit waarna en verwys wil word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.