Masels: Inentingsveldtog van stapel gestuur

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die departement van gesondheid het bevestig daar is tans 17 gevalle van masels in Gauteng. Drie gevalle is in Tshwane aangemeld, een in Ekurhuleni en 13 in Johannesburg.

Die stad Ekurhuleni het Dinsdag gesê hulle het ʼn noodinentingsveldtog van stapel gestuur. Dit volg ná Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid in Gauteng, ʼn uitbreking van masels in die provinsie bevestig het.

Dié veldtog duur van 2 Mei tot 26 Mei en poog om een miljoen kinders te laat inent.

Maroela Media het vroeër berig daar was ses gevalle van masels in Johannesburg in Maart, een in Noordwes en 29 gevalle in die Wes-Kaap. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het gesê simptome sluit koors, ʼn uitslag, hoes, rooi oë en ʼn algemene gevoel van grieperigheid in. “Masels is ʼn hoogs aansteeklike siekte en derhalwe kan dié siekte versprei van vier dae voordat die uitslag verskyn en tot vier dae ná die uitslag reeds verdwyn het.”

Komplikasies weens die siekte kan diarree, dehidrasie, enkefalitis (infeksie van die brein), longinfeksie en in ekstreme gevalle die dood insluit. “Mense van enige ouderdom kan masels opdoen, maar kinders onder twee jaar is veral vatbaar,” het Nios gesê.

“Die beste manier om te verseker dat kinders beskerm is teen die virus is om hulle te laat inent,” het Themba Gadebe, woordvoerder vir die departement van gesondheid, gesê.

“Masels, of rubeola, is ʼn ernstige toestand en kan noodlottig vir kinders wees. Daarom is dit belangrik vir ouers om hulle kinders van ses maande tot vyf jaar oud te laat inent,” het Gadebe gesê.

Ramokgopa sal Woensdag die Hillbrow-kliniek in Johannesburg besoek. Dit is een van die klinieke waar inentings gedoen word. Dié veldtog is tydens Mei aan die gang en sal spesifiek fokus op kinders van ses maande tot vyf jaar, maar ook op kinders tot 15 jaar omdat die kerngebied van die uitbreking in Johannesburg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Riekie ·

As kind al sy ente gehad het en nou 8 jaar oud is moet hy weer ge ent word ons in Boksburg.

Babatjie ·

Ek wil ook graag weet wat Riekie hierbo vra. As n kind standaard inentings ondergaan het, is inenting vir hierdie maselsuitbreek steeds nodig of het hulle dit reeds gekry?

Ashley ·

Ek wil ook weet, my dogter het onlangs haar 6 jaar spuit gehad, is dit dan nog nodig?

Johann ·

My waarneming is dat dit deel van en van toepassing is op die mede burgers wat nie juis verandwoordelikheid aanvaar vir die effektiewe bestuur van hul harems en kaders kinders nie? Toonbeeld van n totaal vervalle een wereldklas gesondheids stelsel. Een van n horde siektes wat hokgeslaan was voor die 94 oorname en nou bloot nie bestuur word nie!

ElriG ·

Dit is deels so, maar moet nie die Anti-vaccer beweeging uitskakel nie. Talle mense beweer dat kinders en mense se stelsels gemaak is om siektes te beveg so hulle wil nie inent nie. Al wat hulle wel vergeet is dat gedurende ‘n uitbraak, kan mense wat aan siektes soos MIV en ander mense wat wel nie die entstowwe mag kry nie, in gevaar gestel word deur 20 minute van Dr Google.

Rouxg ·

Elrig. Jys oningelig. Vaccines is n probleem en help glad nie. Jyt nie veer meer as 20min op google nodig om dit agter te kom nie. Maar as jy soos n skaap wil doen wat n wereld instansie vir jou se gaan voort.

Lizel ·

Masels en rubella is nie dieselfde nie. Of het ek die berig verkeerd verstaan en die komma as ‘n verdeling van sinnonieme gelees?

PB ·

Ek het my dogtertjie wat nou 2 jaar en ses maande oud is gevat en die kliniek het haar weer ingespuit en sy het har laaste inspuitings op 18 maande gehad. Rather safe than sorry.

Sandra ·

ALLE KINDERS VANAF 6 MAANDE MOET GEENT WORD TEEN MASELS. Met sulke uitbrekings word kinders weer geimmuniseer. Dit is n booster. Solank die inenting nie binne dieselfde maand gegee word van wanneer die kind sy laaste immuniserings gekry het nie.
Dit word net aan kinders gegee met die ouderdom tot 5 jaar. Rubella is Duitsemasels. daar is ook n inenting teen Rubella beskikbaar maar op die privaat immunisering schedule.

Janie Monsieur ·

Dagsê Rubella?,
Dankie vir jou valkoog! Jy is inderdaad reg. Die berig is reeds gewysig.

Greotnis
Janie nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.