Mashaba: ‘ANC sit agter onwettige grondbesettings’

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, en Mzobanzi Ntuli, die LUR vir behuising. Foto: ANA

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, en Mzobanzi Ntuli, die LUR vir behuising. Foto: ANA

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het Vrydag die ANC daarvan beskuldig dat hulle grondbesettings oor die hele stad orkestreer om die nuwe administrasie te destabiliseer.

Mashaba het tydens ʼn mediakonferensie gesê die ANC se optrede is tot nadeel van die armes, onwettig en dra nie die beste belange van die stad se inwoners op die hart nie. “Ons moenie mense vir politieke voordeel gebruik en so hul waardigheid aantas nie,” het hy gesê. “Dit word verder vererger deur die tekort aan deursigtigheid van die behuisingslyste van die vorige administrasie wat gelei het tot die vermoede van korrupsie.”

Hy het gesê daar is bewyse dat die ANC agter die onwettige grondbesettings in Orange Farm sit waar die metropolisie ontbied moes word om mense van die grond af te verwyder. “Ons het munisipale regulasies wat gerespekteer moet word. Ons kan nie bekostig om in ʼn stad te bly waar mense net grond beset en daar geen wette is nie. Ons verwag van almal om die gereg te respekteer.”

Volgens Mashaba is sommige van die inwoners in Johannesburg se name al sedert 1996 op die waglys vir huise. Hy het gesê die stad sal binne die volgende 90 dae die waglys finaliseer en ʼn oudit doen van al die beskikbare grond in Johannesburg.

Mashaba se party, die DA, is deur die EFF bygestaan om die Johannesburg-metro van die ANC oor te neem ná die afgelope munisipale verkiesing. Die EFF het, volgens rekord, al in die verlede gemeenskappe aangemoedig om leë grond te beset, wat teen die DA se beleid is.

Mashaba het inwoners wat op huise wag, versoek om geduldig te wees. “Onwettige grondbesettings kan nie aanvaar word nie. Mense beset die grond, maar dan is daar geen dienste op daardie grond nie. Wat moet dan gebeur? Of jy nou DA, EFF of ANC is, ons doen ʼn beroep op almal om nie toe te laat dat julle gebruik word vir verkeerde politieke agendas nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jan maak n plan ·

Tipies van die ANC. Hulle kan nie regeer nie maar met nonsens aanjaag skitter hulle.

Alida ·

Ai man dis mooi DA roer hulle. In Pta roer Solly hulle ook. Spul skelms.

Waarheid ·

Voorkoms, besittings, geleerdheid …ag sommer die HELE MENS, kan net bydra of menswaardige waardes toevoeg tot samelewing indien HY WIL maw EERLIK MET HOMSELF IS. Ongelukkig in ons midde is en sal altyd wees, klein PESTE met verskuilde donker SELFVERNIETIGENDE agendas.

Lance ·

So gaan ons van week na week en nou dag na dag se skande op skande !

John ·

Die ANC gaan aanhou om onderlinge wrywing tussen party wat in koalisies saamwerk te aan te vuur om sodoende breuke te veroorsaak.

jaco ·

Sommige wag al sedert 1996 vir n huis. Maar daar was geld vir 8 reuse sokkerstadions vir die 2010 Wêreldbeker EN die DA was ten gunste van dit …

Wiehan ·

Veers geluk Herman en Solly. Dis nou daad by woord. Julle gaan nie baie populer wees nie maar die meerderheid staan bankvas ager julle. Maak PTA en JHB skoon.

Jaycee ·

Nie net moet die DA in die metro’s en munisipaliteite waar hulle van die ANC beheer oorgeneem het, eers huis skoonmaak om al die gemors wat die ANC veroorsaak het, uit die weg te ruim nie, maar getrou aan hulle aard was dit die ANC en hul alliansie vennote se verklaarde voorneme om die lewe vir die DA so moeilik moontlik te maak om skoon bestuur so gou en glad moontlik in te stel. En dan het die ANC hoogheilig gepropageer dat hulle die belange van die burgers voorop stel. Die ANC is van leuens en magsbeheptheid aanmekaar gesit.

Johanna Botha ·

Hoe die DA die plek gaan skoonkry wil ek nog sien. Ek het vir familie gaan kuier in Centurion n paar weke terug …mense julle verstaan nie die verval daar nie en dit is so opvallend veral na ek 2 jaar laas daar was …dit gaan n wonderwerk kos glo my !

Hennie ·

Dis duidelik dat Herman Mashaba ‘n verskil gaan maak. Uit die ANC se langtermyn mislukkings kan hulle nie aanvaar dat ‘n ander party dit beter kan hanteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.