Mashaba kasty DA oor gelykheid, armes

Herman Mashaba, stigter en leier van Action SA. (Foto: Action SA)

Dit lyk of Herman Mashaba, stigter en leier van Action SA, die DA wil dwing om met die EFF in Johannesburg saam te werk. Maar dít, hou die DA-leierskap vol, gaan nié gebeur nie.

Mashaba het Maandag op die radiostasie 702 uitgevaar teen die DA en onder meer aangevoer die party het in die geheim saam met die ANC gewerk om hom as destydse burgemeester van Johannesburg te ontsetel.

Mashaba het in Oktober 2018 as nie net burgemeester van die Goudstad nie, maar ook as DA-lid bedank. Hy het destyds gesê hy kan hom nie vereenselwig met mense wat glo dat ras nie belangrik is in die bespreking van ongelykhede in die land nie.

Sy besluit het gekom nadat Helen Zille tot leier van die DA se federale raad verkies is, nadat sy ʼn jaar tevore groot kritiek veroorsaak het met ʼn twiet waarin sy sekere aspekte van kolonialisme verdedig het.

Mashaba het Maandag gesê die DA sê nou hy gaan nie met die ANC in koalisieregerings saamwerk nie, terwyl die partye dit vroeër reeds met “fasilitering deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV)” gedoen het om van hom ontslae te raak. Hy sê hy is destyds beskou as ʼn “astrante swart mens” wat ander swart mense waardigheid wou gee en dat die ANC en DA saamgewerk het om hom uit sy pos te verwyder.

“Ek dink nie die DA het hom al verbind om te verseker dat swart Suid-Afrikaners, arm gemeenskappe, ook dienste ontvang nie. Hulle [die DA] moenie ons tyd kom mors nie. Hulle is arrogant,” sê Mashaba.

“Dit lyk of [die DA se] arrogansie aan die orde van die dag gaan wees. Laat hulle met die ANC praat en die IRV vra om dit te fasiliteer.”

Action SA gaan ook nie toestemming gee vir die DA om “voort te gaan om ons mense te behandel soos wat hy in die Wes-Kaap doen nie”, sê hy.

Cilliers Brink, die DA se woordvoerder oor plaaslike regering, sê dié aantyging is onwaar. “Kyk maar na Statistieke SA se nie-finansiële sensus van 2019. Dit wys dat arm gemeenskappe die beste toegang het tot basiese dienste, insluitend elektrisiteit, water, sanitasie en vullisverwydering onder DA-regerings.

“En ons kry dit reg sonder om ryk en arm teen mekaar af te speel,” sê Brink.

Brink hou ook voet by stuk die DA gaan geen koalisies met die ANC of die EFF oorweeg nie.

“John Steenhuisen [DA-leier] het dit duidelik gemaak dat ons nie dieselfde pad wil loop as Zimbabwe se MDC nie. Ons rol is om ANC-oormag te breek en ʼn alternatiewe regering in plek te stel, nie om ʼn  sterwende bevrydingsbeweging aan die lewe te hou nie,” sê Brink.

Volgens hom lyk dit egter of Mashaba weier om hierdie antwoord te aanvaar.

“Dit kom ook voor asof hy ons wil dwing om met die EFF in Johannesburg saam te werk. Dit gaan nie gebeur nie.”

Mashaba voer verder aan die DA wil voortgaan om “ons mense sonder toilette te sien”. Mashaba sê as die DA nie bereid is om volgens Action SA se voorwaardes te werk nie, “hulle geen mandaat van ons gaan kry nie”.

Mashaba sê lede van die DA se onderhandelingspan het Action SA se span Vrydag genader – maar hy meen dit lyk of hulle net belangstel om te praat oor stabiliteit in Tshwane.

In die Pretoria-streek het die ANC altesame 34,63% van die stemme verwerf en die DA het 32,03% van die stemme op hom verenig, die EFF 10,69%, Action SA het 8,64% vandie stemme gekry en die VF Plus uiteindelik 7,84%. ʼn Koalisieregering is dus nodig.

Mashaba wil onder meer weet wat die stand van sake in gebiede soos Johannesburg en Ekurhuleni is. In Johannesburg het Action SA die derde meeste stemme gekry (16,05%), met die ANC die meeste (33,6%) en die DA die naastemeeste (26,14%). Ook hier moet ʼn koalisieregering gevorm word.

Action SA gaan egter nie uitreik na die DA nie en sê die party het onderneem om Action SA weer te nader nadat daar aanvanklik met gesprekke begin is. Teen Sondagaand was daar volgens Mashaba  egter nog geen verdere kontak nie.

“My span is gereed om te praat – in ooreenstemming met ons voorweaardes. En ons voorwaardes is dat ons die gemeenskap wil dien en ongelykhede wil hanteer. Dit is ononderhandelbaar.”

Hy sê as die DA intussen van plan verander het en nie met die ANC wil saamwerk nie, is dit ʼn besluit wat hy respekteer. Mashaba het ook gerugte dat hy daarop aandring om die burgemeester van Johannesburg te wees, afgemaak as “iemand se verbeelding”.

“Ons het ernstiger kwessies om te bespreek eerder as wie die burgemeester gaan wees.”

Brink sê as Mashaba die “raskaart” teen die DA speel klink hy nie soos ʼn post-ANC-politikus nie, maar “soos die ANC in nuwe gedaante”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Jakes ·

Mashaba moet nog bewys dat hy vir alle mense omgee. Maklik om belogtes maak maar nie so maklik om dit uit te voer nie. Nuwe besems vee altyd skoon.

Misky ·

Hier gaan nog erge ‘klip-gooiery’ wees voordat koalisies gevorm word

Hettie ·

Wanneer jy niks het omte bied nie dan ruk jy die rasse kaar uit ! Ai Herman ek het nogal gedink jy sal goed doen nou het jy bewys jy is net soos al die ras behepte ANC !

Dries ·

Mashaba moet weet almal se oe is op hom gerig. Dit is gematigde anti -ANC /EFF mense wat vir hom gestem het. Hy moet ons nie nou teleurstel nie. Los jou aanvalle op die DA en veg die vyande

Yolandie ·

Hy is maar net ‘n wolf in ander klere. Baie windgat. Hoop hy word sommer vinnige deur ander koalisies verwerp en op sy plek gesit. Hy het nie stemme gewen omdat hy so goed is nie, hy het stemme gekry omdat die ANC so sleg is.

Samuel ·

Koalisies is moeilik. Ek moet 100% saamstem dat volgens my waarneming in Kaapstad, het die DA baie arrogant geword en is die sigbare tekens daar dat die DA ‘n veer voel vir die arm gemeenskappe.

Sobymykoolkop ·

Feit van die saak is ; ” Arm ” gemeenskappe wil nie betaal vir dienste nie. So, volgens jou teorie moet sogenaamde ” ryk” gemeenskappe vir die die aantelendes en nie betalers betaal?

Papsak ·

Dankie DA staan vas by julle beginsel moenie luister wat hy se nie moenie met die eff saam snelt nie julle is ystwrs hou julle woord nee is nee

JohanR ·

En nou dink die ou hy het 66.67% gekry in die onlangse munisipale verkiesing!

Andrew ·

Koaliesies kan sonder EFF geform word., maar die sleutel woorde “vereenselwig met mense wat glo dat ras nie belangrik is in die bespreking van ongelykhede in die land nie”. Al voertsek al die wittes, bruines, asiers uit afrika, gaan dit nie verander. en hoeveel het jy as burgermeester verdien? Die groot probleem met wat jy me sit is dis alweer iemand anders se skuld so daar word nie n oplossing gesoek nie behalwe die minder as 5% van die land (uitgemaak uit wit,bruin, asier tesame) moet nou sy geld deel omdat sy ouers die “savey” gehad het om hulle kinders deur skool te kry. Te groot aanwas, te groot kfc en kar rekeninge, te min nuwe skole en werk skepping. Begin dalk daar soek vir n oplossing.

Pieter ·

Mashaba was burgemeester met die EFF in koalisie. Die EFF het veel geld na hulle gekanaliseer deurdat hul trawante van Limpopo in Johannesburg se stadsraad aangestel is. Trawante wat Julius gehelp het met sy konstruksiebedryf. En Mashaba het dit toegelaat solank hy koning was. Dink nie veel van hom nie.

Sobymykoolkop ·

Wens ek kon sommer 10 keer vir jou kommentaar stem Pieter.

Ou bees ·

Hy wil nie oplossings hê nie hy wil net aangaan waar hy opgehou het. Die ras ding het in sy kop vasgesteek nes dit eindelik in die DA ook gaan hulle ondersteun deur en deur BEEE en sal dit altyd aanhang want dit is mos wat in die meerderheid se koppe vassteek en hulle is te bang hulle val trug en dan word die inkomstes so bietjie minder in die sakke.

Spyker ·

Herman, pasop jy kan die prys wen as die “Hoofnar” in die politieke sirkus!!!!!!!

Parmantige samaritaan ·

Nog n rassis in beheer van n politieke party.

Kobus ·

SA het leiers nodig,nie heethoofdige mense wat hulle eie party bo dienslewering stel nie.

Nie Verbaas ·

Mashaba, EFF gee net soos ANC nie n duit om vir die armes nie. Hulle gebruik net armes om hulle agenda te stoot, net soos die ANC. Word wakker, VBS sage bewys dit.

Pieter9 ·

Mashaba lyk na ‘n opsie gegewe dit waarmee ons tot nou toe moes verduur; een ding pla egter – to ek laas gekyk het het hy van sy personeel ontslaan wat positief oor Israel was. As hy ‘n beleid het wat anti-Israel is, kry hy nie my steun nie.

Harley Davidson ·

Hy sê niks oor diskriminerende wette teen wit minderhede nie wat net gebaseer is op velkleur en niks anders as apartheid is nie.

Casper ·

Hy wil ongelykhede uit die weg ruim maar sê nie wat is die ongelykhede nie.

KB ·

Ek het geweet “die appel val nie ver van die boom” nie.
Ek bly lugtig vir Mashaba. Sy party het geen “track record” nie…dan bly ek (vir baie lank) ver weg van ActionSA. Die geskiedenis het ook geleer dat mens Mmusi Maimane nie een dag kan vertrou nie.

Ria ·

Net vir ingeval jy Maroela lees, wil ek jou net herinner dat jy en jou swart regering nie in staat was om in 20 jaar vir julle mense toilette te gee nie. En ook, kyk vir n slag verby kleur en sien dat daar geweldige armoede onder blankes ook heers. Nog iets, die “formidabele# ANC kon dit nie regkry om die geld in die mandjie te los en dit ter oobouing van n land te gebruik nie, so shut up as jy niks sinvols het op te sê nie

Barney ·

Herman Mashaba het vir twee jaar die M2 gesluit toe hy Burgermeester was. Hoekom? Want hy het geld gekry met die skiet van die Chappie fliek. Hy is ń skelm!

Barney ·

Mashaba was ook saam destydse zindzie mandela in Denemarke waar hy lekker rasisties was teenoor wit mense wat gekla het oor die toestand van JHB se strate. Moet nie ń woord glo wat uit daai skurk se mond kom nie.

Truthful ·

Julle moet asb besef..moet nie als glo wat julle lees nie…

lodewyk ·

Nee wat hierdie ou se bek raak nou te groot,was vir hom maar nou gaan dit oor politieke wins,DA wees maar eerder die opisisie in Gauteng,moet nie Action SA se gat lek nie,die ou het issues

Sarel ·

Dit laat my dink aan die tipiese uitdrukking:
” Twee honde baklei oor ‘n been en die derde gaan daarmee heen”

Charmaine ·

Herman Mashaba was ‘n teleurstelling toe hy burgermeester van JHB was. Waarom enige een vir hom stem gaan my verstand te bowe :-/

Malan ·

Mashaba moet ophou om met die DA te baklei (en die DA met hom). Hulle het ‘n gemeenskaplike doel: om die ANC pak te gee. Streef dus daarna en die sekondêre sakies sal hulsrlf uitsorteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.