Mashaba sal mosie van wantroue teenstaan

Herman Mashaba. Foto: Facebook/Democratic Alliance

Herman Mashaba, uitvoerende burgemeester van Johannesburg, het Donderdag gesê ʼn mosie van wantroue in hom wat deur die ANC ingestel is, is ʼn “stap agteruit in die pad na verandering”.

“Die ANC het ʼn mosie van wantroue in my as die burgemeester van Johannesburg ingedien vir die raadsvergadering van 26 en 27 September. Ná slegs 13 maande in die pos, moet dit verwerp word as die manewales van ’n desperate party wat probeer om vrede te maak met sy nuwe rol as die opposisie,” het Mashaba gesê.

Die ANC, wat Woensdag die mosie ingedien het, sê die stad se beweerde finansiële probleme is die hoofrede vir die mosie.

Mashaba het egter teruggekap en gesê: “Die realiteit is dat ons finansiële status stabiel is – ten spyte van die geïnstitusionaliseerde korrupsie wat ons geërf het. Die ANC was oneerlik in die regering, en hul verhouding met die waarheid het sy ondergang voortgesit.

“Die feit is dat hierdie ongegronde bewering ʼn rookskerm is wat daarop gemik is om weer beheer oor te neem, wat sal toelaat dat die plundering weereens kan voortgaan, juis omdat verandering die oorlewing van die ANC bedreig.”

Mashaba het gesê die nuwe regering in Johannesburg het in 13 maande reggekry om die verandering in die stad teweeg te bring wat hulle inwoners belowe het. “Dit is prestasies wat ondenkbaar was ná meer as twee dekades van selfdienende ANC-beheer.”

Mashaba het gesê die nuwe administrasie het ʼn teenkorrupsie-eenheid op die been gebring wat ʼn lading van 1 400 sake, waarby meer as R14,4 miljard betrokke is, moet hanteer. Hy het gesê meer as 300 mense is al in hegtenis geneem en dissiplinêre stappe is teen die betrokke personeel gedoen.

Hy het gesê die sake wat tans ondersoek word, is enorm. “By sake soos die R1,3 miljard se aankoop van breëband-infrastruktuur is senior mense van dieselfde party wat die mosie ingestel het, betrokke. Mettertyd sal die begunstigdes van hierdie projekte ontbloot word en sal die ware rede vir die mosie van wantroue aan die lig gebring word.”

Oor die onderwerp van behuising het Mashaba gesê sy administrasie het beplan en begroot om 51 informele nedersettings oor drie jaar op te rig teen ʼn koste van R1,9 miljard. Hy het gesê die ANC het beplan om slegs twee informele nedersettings in die vorige finansiële jaar op te gradeer.

“Ons het ons bedryfsure by verskeie van die stad se klinieke en biblioteke verleng sodat hierdie gemeenskapsdienste buite werksure strek vir die mense wat dit die meeste nodig het.”

Oor bewerings van onbekwaamheid het Mashaba gesê sy administrasie het tye wat verkeersligte buite werking is met 20% verminder en meer as 120 000 slaggate in die afgelope paar maande reggemaak.

“Ons het die werwing van meer as 1 500 ekstra JMPD-beamptes geïnisieer en die mag van die JMPD sodoende met 50% vergroot om die situasie te verander waar ons inwoners in vrees moet lewe, terwyl misdadigers hul aksies sonder enige vervolging bedryf. Die K9-dwelm-eenheid het honderde inhegtenisnemings gedoen en op honderde kilogramme dwelms beslag gelê,” het Mashaba gesê.

“Daar is geen twyfel by my nie dat daar steeds reuse-uitdagings vir ons stad is wat net oor die langtermyn verander kan word. Onlangse kliëntetevredenheid-opnames en die IPSOS munisipale opname het bevestig dat ons inwoners die verandering kan sien wat ons beloof het.”

Mashaba het gesê die DA sal die mosie teenstaan. “Ons sal hierdie mosie beveg, net soos ons gedoen het met ál die ANC se ander pogings om die verandering wat inwoners wil hê en wat die ANC vrees, te ondermyn.”

Die ANC hou vol dat die nuwe administrasie in Johannesburg ontslae geraak het van personeel wat bande met die ANC het, en nie daarin geslaan het om die stad se finansies óf dienste aan die inwoners van Johannesburg te verbeter nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Wolf dink hy kan skaap se klere dra.Hulle wil hom uit he omdat hy besig is om ontslae te raak van die korrupte ANC kaders.

Nico ·

Waarheid maak baie seer pasop vir omkopery onder julle deur die anc kyk hoe is 5 raadslede van die eff omgekoop deur die anc om weer aanbewind te kom hulle is slange

Nico ·

Waarheid maak baie seer pasop vir omkopery onder julle deur die anc kyk hoe is 5 raadslede van die eff omgekoop deur die anc om weer aanbewind in mogale city te kom hulle is slange

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.