Mashaba sê waarom wedstryd moes voortgaan ná 2 in stormloop sterf

ENB-stadion, ook bekend as Soccer City

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het bevestig dat ʼn ondersoek van stapel gestuur is nadat twee mense Saterdag in ʼn stormloop by die ENB-stadion net buite Johannesburg gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig minstens 17 ander mense is beseer in dié stormloop net voor die wedstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates.

Ondersteuners én sokkerspelers het onder erge kritiek op sosiale media deurgeloop omdat die sokkerwedstryd ná die voorval voortgegaan het.

Intussen het Mashaba Saterdagaand in ʼn verklaring gesê die stormloop het tydens die kompetisie gebeur, en daarom is besluit om die wedstryd klaar te speel.

“Die stormloop het buite die stadion plaasgevind terwyl die wedstryd al aan die gang was. Die wedstryd tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates het dus voortgegaan sonder dat enige spelers bewus was van wat gebeur het,” lui die verklaring.

Stadium Management South Africa, wat onder meer dié stadion bestuur, het sy medelye aan die familie en vriende van die oorledenes betuig.

“Die hartseer lewensverlies by dié wedstryd is ʼn tragedie. Ons werk saam met al die relevante owerhede om te verhoed dat tragedies soos dié voortaan weer gebeur.”

Michael Sun, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, het aan EWN gesê die stormloop kon moontlik veroorsaak gewees het deur die verkope van vervalste kaartjies by die stadion.

Die oorsaak van die voorval is egter nog nie bekend gemaak nie.

Net meer as 16 jaar gelede is 43 toeskouers ook dood in ʼn stormloop by die Ellispark-stadion tussen dieselfde twee sokkerspanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ondervinding ·

Ondervinding is die beste leermeester, soms neem dit net langer.

smurfie ·

Ek dink; dat as hulle die wedstryd moes stop. Sou die toeskouers heel waarskynlik die stadion geprunder het uit woede.
sê maar net…

Lizzy ·

Dit is hoekom daar ‘n ding is soon volg afstand… Miskien moet mense maar dieselfde reels toepas soos op ons paaie dan sal sulke goed nie gebeur nie. Dis mos onnodig om omtrent op ‘n ander een se rug te klim wanneer jy in ‘n ry staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.