Mashaba ‘sien uit’ na mosie van wantroue

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg. (Foto: Twitter via
@HermanMashaba)

Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, sê die mosie van wantroue wat die ANC teen hom wil indien, is ʼn politieke bewimpeling om die aandag af te lei van die toenemende getal sake van bedrog en korrupsie waarby ANC-lede betrek word.

Die ANC het aangekondig hy gaan op 22 Augustus tydens ʼn raadsvergadering die mosie teen Mashaba, ʼn DA-lid, indien.

“Die werklikheid is dat die veelpartyregering se geveg teen korrupsie al beteken het dat meer as 5 000 sake, ter bedrae van meer as R33 miljard, ondersoek word. Vyf lede van die ANC se voormalige burgemeesterskomitee is by wandade betrek, waaronder die huidige en voormalige streeksvoorsitter,” het Mashaba gesê.

Die polisie ondersoek verskeie van die bewerings.

“Die mosie van wantroue het niks te doen met die redes wat hulle aanvoer nie, maar alles om die plundering wat onder die ANC se bewind in Johannesburg voorgekom het, voort te sit.

“Die ANC kan hom nie die vooruitsig indink om die komende verkiesing te betwis sonder toegang tot stadshulpbronne wat alreeds op ʼn korrupte manier geplunder is nie,” het Mashaba gesê.

Volgens hom is dit ondenkbaar dat die ANC ʼn gebrek aan dienslewering as een van die redes vir sy mosie wil aanvoer, omdat dit “die ANC was wat die stad meer as twee dekades lank in die steek gelaat het”.

Mashaba het gesê infrastruktuuragterstande word uitgewis, kliniek-ure verleng, die doeltreffendheid van die Johannesburgse metropolisie is verbeter en beleggings van miljarde rand word gekry om die middestad te vernuwe.

“Ek sien daarna uit om die ANC op 22 Augustus by die raadsvergadering te ontmoet, waar hulle skynheiligheid en ongegronde bewerings aan die lig gaan kom en die skandelike motiewe vir hulle mosie duidelik gaan word.”

Die raad bestaan uit 270 raadslede. Die ANC benodig 136 stemme hiervan vir ʼn suksesvolle mosie. Die ANC het 122 lede, die DA het 103 lede en die EFF het 30.

Die EFF het vantevore al sy steun vir Mashaba uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

lewies ·

Hierdie metro is ‘n GROOT saak vir AfriForum. Of die DA ingestem word of nie. Die hele spul moet ondersoek word wat ookal gaan gebeur na die ontbinding. Weet nie wie die 5 000 sake ondersoek nie, maar al moet die huidige ondersoekers ook ondersoek word as die uitkoms nie bevredigend is nie, dit moet gedoen word. 33 Miljard rand kan baie ARM MENSE help met behuising. HOOP AfriForm maak miljoene met die belastingprotes, sodat dit gebruik kan word vir hofsake.

Akademi Buktu ·

Interessant om na die ANC se taalgebruik te kyk – hulle verwys na die terugwen van “power”. Dit het niks met dienslewering aan die inwoners te doen nie, maar met tipiese Afrika magsug.

Johanna Botha ·

So word die man gespeel en nie die bal en val alles uitmekaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.