Mashaba soek weer burgemeestersketting om sy nek

Herman Mashaba, leier van ActionSA, hoop om weer burgemeester van Johannesburg te word. (Argieffoto: Itumeleng English/ANA)

Die sakeman en politikus Herman Mashaba hoop om weer burgemeester van Johannesburg te word, dié keer as leier van ActionSA.

Mashaba, destyds nog ʼn lid van die DA, is in 2016 tot burgemeester van Johannesburg verkies. Hy het in Oktober 2019 as DA-lid en burgemeester bedank en later sy eie party op die been gebring.

ActionSA is in Desember verlede jaar geregistreer om aan die komende plaaslike verkiesing deel te neem. Daar was aanvanklik ʼn vertraging met die registrasie nadat ʼn ander party gekla het dat die logo en naam te soortgelyk aan dié van die Party of Action was.

“Die besluit om my verkiesbaar te stel as kandidaat in die verkiesing is een waarmee ek al geruime tyd worstel,” het Mashaba Maandag gesê.

Volgens hom het hy Suid-Afrika die afgelope ruk deurkruis en hoewel talle van die land se probleme onoorkomelik lyk, sê Mashaba talle Suid-Afrikaners hoop steeds dat nuwe politieke leierskap positiewe en permanente verandering teweeg kan bring.

“Dit is ʼn aanklag teen ons politieke stelsel dat sommige gemeenskappe, 27 jaar ná die aanvang van ons demokrasie, nog nooit lopende kraanwater gehad het nie; dat hulle snags steeds ʼn kers gebruik om hul huise te verlig omdat hulle nog nooit toegang tot elektrisiteit gehad het nie; dat hulle in die donker in plakkerskampe rondstrompel weens ʼn gebrek aan straatligte; dat gesinne nog nooit ʼn titelakte besit het of enige plek waarlik hul tuiste kon noem nie; en dat gemeenskappe in vrees vir misdadigers leef omdat die polisie kop in een mus met boosdoeners is.”

Mashaba sê Suid-Afrika moet heropgebou word: gemeenskap vir gemeenskap, wyk vir wyk en munisipaliteit tot munisipaliteit – tot by die Uniegebou in Pretoria.

“Ek het dit tevore gesê en sê dit weer: As Johannesburg werk, werk Suid-Afrika. En ek is gereed om saam met elke inwoner te werk om Johannesburg te laat werk.”

Mashaba sê hy was teleurgesteld toe hy ná net meer as twee jaar die amp as burgemeester neergelê het en nie al die doelwitte wat hy gestel het, kon bereik nie – “allermins nie onder die party saam met wie ek toe gewerk het nie”.

Hy vra inwoners van die Goudstad nou om weer hul vertroue in hom as burgemeester te plaas.

“Heelwat van die vordering wat gemaak is deur die multiparty-regering wat ek gelei het, is ongedaan gemaak deur die huidige administrasie.

“Inwoners het gely onder ʼn afname in die sleuteldienste wat hulle benodig om waardige en vervulde lewens te lei.”

Hy sê inwoners word verskonings gevoer wanneer hulle kla oor dié gebrek aan dienslewering, hoewel plaaslike regerings op die voorste linie van dié dienslewering is. “Alle ander sfere van die regering steun daarop vir dienslewering. As ons nie die plaaslike regering doeltreffend kan maak nie, gaan weinig andersins in die regering werk.”

Mashaba het verskeie suksesse voorgehou wat behaal is gedurende sy termyn as burgemeester. Dit sluit in ʼn belegging van R170 miljard om infrastruktuuragterstande te pak, die herprioritisering van die begroting, instandhoudingswerk aan paaie van amper 1 000 km, die vervanging van water- en rioolpype, die elektrifisering van meer as 10 000 huishoudings en ʼn verbetering in primêregesondheidsorgdienste.

Hy sê tydens sy termyn as burgemeester het inwoners se tevredenheid met dienste van 61% in 2016 tot 73% in 2019 toegeneem – die hoogste vlak in die geskiedenis van die stad.

  • Die plaaslike regeringsverkiesing vind Woensdag 27 Oktober plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Agh man gaan tree nou af saam met jou pel Mmusi Maimane! In jou tyd het jy eintlik niks vir Johannesburg gedoen nie!

Jessey ·

Ek wil net weet wat het geword van die 1 000 000 huise wat die ANC in Alex sou gebou het? Weet iemand dalk hoe dit vorder?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.