Mashaba (weer) burgemeesterskandidaat vir Jhb

(Foto: Maroela Media)

ʼn Besluit oor óf die plaaslikeregeringsverkiesing soos beplan op 27 Oktober gaan voortgaan, moet nog geneem word, maar politieke partye is reeds volstoom besig om stemme te werf.

ActionSA, onder leiding van die voormalige DA-lid en oudburgemeester van Johannesburg Herman Mashaba, het Woensdag sy kandidate vir die metrorade van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni bekend gestel.

ActionSA sê hy het in die afgelope tussenverkiesings altesame 22 061 stemme in wyke oor Gauteng op hom verenig. Die party se lys kandidate bestaan uit onder meer oud-LP’s, voormalige LUR’e, entrepreneurs, regslui, en voormalige wetstoepassers soos David Tembe, oudmetropolisiehoof van Johannesburg.

Die party sê Gautengse metro’s moet sentrums van innovasie en bakens van dienslewering vir die res van Suid-Afrika word. “Inwoners verdien niks minder nie.”

Mashaba is die burgemeesterskandidaat vir Johannesburg en is in 2016, destyds as DA-lid, as burgemeester van dié stad verkies.

Hy het beloof om dienslewering weer op dreef te kry, oorlog teen korrupsie te verklaar, dienslewering te verbeter en te verseker dat kontrakwerkers nie deur sogenaamde tenderpreneurs uitgebuit word nie.

In die Tshwane-metro is Abel Tau die party se burgemeesterskandidaat.

“Inwoners is keelvol vir ‘spookburgemeester’ Randall Williams [tans burgemeester van Tshwane] se afwesige leierskap en enorme diensleweringsmislukkings. Onder Williams het Tshwane gesteier van een krisis na die volgende, die jongste die wydverspreide watertekorte in die stad,” sê Tau.

Tau is ʼn bedrewe staatsamptenaar en ook ʼn voormalige DA-lid wat hom verlede jaar by ActionSA aangesluit het. Hy was vlugtig burgemeester van Tshwane voor die metroraad onder administrasie geplaas is.

In Ekurhuleni is Letlhogonolo Moseki die party se burgemeesterskandidaat. Moseki is ʼn kommunikasiekenner wat beloof dat ʼn ruimte geskep gaan word waar sakeondernemings en entrepreneurs broodnodige werksgeleenthede kan skep vir inwoners.

“Ekurhuleni was eens Gauteng se nywerheidskern en mense het die waardigheid van werk gehad. Die ANC, deur swak regering, het ons plaaslike ekonomie gesmoor. Ek is gereed om by elke gemeenskap in Ekurhuleni betrokke te raak om my te help verseker dat ons die ANC op stemdag uit die kussings lig en ʼn plan in werking kan stel om die lewens van Ekurhuleni se inwoners te verbeter,” sê Moseki.

ActionSA sê Suid-Afrikaners het dit reeds duidelik gemaak dat hulle keelvol vir korrupsie, swak regering en nie-bestaande dienslewering is.

“Ons het elkeen van die 18,3 miljoen Suid-Afrikaners wat nie [tydens die vorige verkiesing] gestem het nie, nodig om saam te staan om ʼn etiese en vaardige regering te verkies wat die mense van ons land sal dien,” sê die party.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DIABLO ·

Ek hou Herman Mashaba dop vandat hy in die DA gedien het. Ek gaan hom beslis n kans gee met die volgende verkiesing. Maar hy moet een ding weet. Indien hy weer misluk, kan hy niemand behalwe homself die skuld gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.