Mashaba wil hof toe oor Guptas se ‘rassisme’

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Sondag gesê hy is van plan om in sy persoonlike hoedanigheid regstappe teen Atul en Ajay Gupta te doen oor rassistiese aanmerkings wat dié berugte broers na bewering teenoor swart Suid-Afrikaners gemaak het.

Mashaba het in ʼn verklaring gesê hy het op 11 Junie ʼn brief aan adv. Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, geskryf waarin hy versoek dat hy binne 60 dae ondersoek instel na beweerde korrupte aktiwiteite en rassistiese optrede deur die berugte Gupta-broers.

Volgens Mashaba het hy sedertdien geen reaksie van Abrahams óf die NVG ontvang nie. “Dit is vir my duidelik dat adv. Abrahams nie die bewerings teen die Guptas as ernstig ag nie,” sê Mashaba. “Ek het daarom besluit om ons howe te nader om strafregtelike stappe teen die Gupta-broers te doen.”

Mashaba sê hy het met voormalige en huidige werknemers van Gupta TV gepraat wat beweer daar het verskeie voorvalle plaasgevind waar die Gupta-broers glo rassistiese aanmerkings teenoor swart werknemers en swart Suid-Afrikaners in die algemeen gemaak het. “Hoewel hierdie werknemers versoek het dat hul identiteit vir tyd en wyl beskerm word, het hulle aan my gesê hulle is gewillig om na vore te kom om oor die gebeure te getuig as deel van ʼn hofsaak.”

Rajesh Sundaram, ʼn voormalige redakteur by Gupta TV, het in sy boek Indentured: Behind the Scenes at Gupta TV beweer Atul en Ajay het Suid-Afrikaners op verskeie geleenthede beledig en hulle as lui en korrup bestempel. Daar is ook voorheen in die media berig dat die Gupta-familie en hul sakevennote tydens die berugte Gupta-troue by Sun City die personeel sleg behandel en glo ook rassistiese beledigings toegesnou het.

“As ʼn swart Suid-Afrikaner, veral een wat nog altyd gepoog het om deur toewyding en harde werk te presteer, kan ek nie met my gewete saamleef indien ek net sit en kyk hoe die Guptas ons mense verneder nie. Suid-Afrika se tragiese geskiedenis van rassisme en diskriminasie, veral teen swart mense, vereis dat ons almal opstaan en optree om ons gesamentlike menslikheid te verdedig.”

Mashaba het voormalige werknemers van Gupta TV, asook mense wat by die Gupta-troue by Sun City gewerk het, en onder rassisme en diskriminasie deurgeloop het, versoek om hul persoonlike ervarings na [email protected] te stuur.

“Ná ontvangs van hierdie bydraes, sal ek ʼn regspan opdrag gee om klagtes saam te stel uit die verklarings wat ontvang is. Daarna sal ek die gelykheidshof nader om te verseker dat geregtigheid geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

zoom zoom ·

Mashaba droom van iets wat nooit sal waarword nie. Abrahams kon nie eens die Giptas vervolg tereyl hulle mog in SA was nie so lekker droom ou groote.

Christien vd Westhuizen ·

Ek glo daar sal niks van kom net adv.Gerrie Nel sal kan help maar hy het tans belangriker sake om te hanteer so mashaba tata

Adam ·

Verwys jy miskien na die Grace Mugabe saak? Op die tyd-en geldmors skaal is die twee sake min of meer op gelyke voet.

BB ·

Hermanus, Hermanus. Jy was seker lanklaas in die nuus. Probeer eerder hond en haar uitmaak wat in Jhb aangaan voor jy probeer iets aanpak wat ontmoontlik is om te doen. Jy moet eerder na dienslewering kyk as om Zuma se boeties te probeer vervolg.

Koos de Meyer. ·

Janee nou wil hy ook op die rassisme trein ry. My bra hulle lag lekker daar in die buiteland vir jou. Tyd en geld mors.

Hanna Hoekom ·

En wanneer takel jy vir Malema? Hy is rassisties teenoor wit Suid Afrikaners. Sommer oop en bloot. Of tel ons nie?

marous ·

Waarom net vir rassisme ? Waarom nie vir miljarde se korrupsie nie? Die internasionale strafhof kan hulle mos roer … o gaats vergeet ek van al bashir , dit gaan nie werk nie,

karabo ·

ai herman, hulle was nog altyd rassisties en het hulleself verhewe teenoor swartmense geag, selfs waar hulle kon muntslaan. maar vir n blink palm het meeste swart mense wat hulle paaie gekruis het, dit wittand laggens toegelaat.

De Villiers ·

Vinkel en koljander, die ironie dat die Guptas ‘n sekere groep Suid Afrikaners as korrup afmaak. Wie het die eerste korrupte gedagtes gehad om staatkaping te pleeg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.