Mashaba wil met nuwe NVG-hoof vergader

Herman Mashaba (Foto: ANA)

Die Stad Johannesburg sal ’n vergadering met adv. Shamila Batohi, die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), versoek sodra sy amptelik haar nuwe posisie ingeneem het om sommige van die NVG se keuses om vervolging bloot te staak, te bespreek.

Só het Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, Maandag in ’n verklaring gesê.

Dit volg nadat die ondersoekende televisieprogram Carte Blanche Sondagaand berig het oor bewerings van korrupsie wat deur die Stad Johannesburg ontbloot word. Dit word beweer dat die NVG sekere vervolgbare sake wat die stad aan hulle stuur, bloot laat vaar.

“Die Stad het by verskeie geleenthede probeer om sy kommer teenoor die NVG uit te spreek oor die oënskynlike gebrek aan aandag aan bedrog en korrupsie wat ons na die NVG verwys,” het Mashaba gesê.

Adv. Shamila Batohi tydens haar onderhoud vir die posisie as NDOV by die Uniegebou in Pretoria. Foto: Jacques Naude/ANA

Volgens Mashaba het hierdie verwysings tot dusver op dowe ore geval en geen resultate gelewer nie.

Só ’n geval is die saak teen Mbali McClare, die voormalige kandidaat-waardeerder wat in hegtenis geneem is nadat hy na bewering sowat 22 eiendomme in die stad onderwaardeer het. Dié onderwaardasie het sowat R500 miljoen beloop en was een van die grootste sake wat deur die stad ondersoek is, maar is intussen teruggetrek.

“Dit is verstommend dat geregtigheid nie geskied in die groot sake wat die stad aan die NVG oorhandig nie,” het Mashaba gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Batohi se aanstelling verlede week aangekondig nadat hy in Augustus vanjaar ’n bevel van die konstitusionele hof gekry het om binne 90 dae ’n nuwe NVG-hoof aan te stel.

Die hof het destyds hul kommer uitgespreek oor die uitdagings waarmee die NVG oor die afgelope jaar gekonfronteer was, insluitend onstabiele leierskap asook ’n afname in die publiek se vertroue in dié instelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

aj ·

“Mob justice” groei vinnig a.g.v. die hopelose regstelsel …. so ook huurmoorde.

Binnekort sal die land in anargie verval met kangaroo howe wat oortreders teregstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.