Mashatile se waterplan: Solidariteit, AfriForum ‘sal help, mits …’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Solidariteit/x)

Solidariteit en AfriForum is bereid om hulp te verleen as adj.pres. Paul Mashatile hulle betrek, mits die regering ernstig is daaroor en dit nie net verkiesingspraatjies is nie.

Mashatile het in ʼn onderhoud met Sunday Times gesê die regering wil na boere, die vakbond Solidariteit en die burgerregte-organisasie AfriForum uitreik vir hulp ten einde ʼn volskaalse waterkrisis in die land te voorkom.

Mashatile het gesê die kwessie moet “gedepolitiseer” word sodat diegene wat kan bydra na vore kan tree. Die adjunkpresident staan aan die hoof van ʼn watertaakspan wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is om ʼn waterkrisis soortgelyk aan die elektrisiteitskrisis te probeer vermy.

“Ons sal opreg daarin wees om te help. Dit is as die regering opreg wil help en nie net geraas maak voor die verkiesing nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het al voorheen gesê dat ons nie van die regering hou nie, maar ons is lief vir die land. Daarom sal ons graag help.”

Hermann het daarop gewys dat Solidariteit reeds in besit is van ʼn lys van die land se beste ingenieurs en ambagslui wat bereid is om te help met die land se infrastruktuuruitdagings. “Die lys is spesifiek opgestel vir elektrisiteitsuitdagings, maar sal vinnig en maklik uitgebrei kan word om te help met die land se wateruitdagings.”

Adjunkpres. Paul Mashatile. (Foto: GCIS)

Hy het ook daarop gewys dat Solidariteit ʼn reuse-aanlynplatform het wat oornag kundiges kan mobiliseer. “Ons is meer as gewillig om, ter wille van die land, te help. Ons ervaring is dat die land se kundiges graag wil help, maar in die verlede ʼn gebrek aan wil by die regering beleef het. As die regering sy rasbril afhaal en die land se uitdagings voorop stel, kan kenners ʼn reuserol speel.”

Daar is kundiges met ongelooflike kennis in AfriForum en volgens Hermann doen hulle reeds reusewerk in verskeie gemeenskappe. “Samewerking met AfriForum sal ʼn reuseverskil maak. AfriForum het reeds verskeie plaaslike samewerkingsooreenkomste en sal nasionaal ʼn groot verskil kan maak,” het Hermann benadruk.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het dit beaam en gesê “water gaan ʼn groter krisis as elektrisiteit word”.

“Ter wille van ons almal se toekoms is AfriForum gereed om bystand te bied soos versoek deur die regering.”

Die onlangste Bloudruppel-, Groendruppel- en Geen Druppel‑verslae het die agteruitgang van water- en sanitasiedienste benadruk. Die Bloudruppel-verslag het byvoorbeeld bevind dat die persentasie watervoorsieningstelsels met swak watergehalte-nakoming, dit wil sê water wat nie veilig is om te drink nie, toegeneem het van 5% in 2014 tot 46% in 2023.

Die Groendruppel-verslag het bevind die persentasie munisipale afvalwaterstelsels wat in ʼn kritieke toestand van werkverrigting is, dit wil sê die storting van gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in riviere, het van 30% in 2013 tot 39% in 2022 toegeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Danie ·

Hierdie is nou verkiesing ” foefie” praatjies. Nooit wou hul enige iemand betrek nie maar nou eweskielik wil hul organisasies betrek.

Fran ·

Help tog die patetiese regering want die vet weet hulle KAN EENVOUDIG NIE!

tweeling ·

Die mafia sal sy plekkie kry, daar is geen manier dat die cANCer op ander voorwaardes sal toegee nie

Dieter ·

Moenie hand skud met die duiwel nie.
As dit platval, dan word almal blameer behalwe die duiwel.

koos10 ·

Dirk, met Eskom se verval het julle dieselfde aangebied en dit het ‘n politieke spel geword.
Vir die ANC om hulp te vra, moet hulle eerstens erken dat hulle gefaal het, en dit sal nie sommer gebeur nie. Die ANC en regering praat uit verskillende monde, en selfs binne die regering kan hulle nie eers saamstem nie. Ek verstaan julle motivering en ook dringendheid om te voorkom dat ons land nie sonder water sit nie, maar ek sal voorstel dat daar ander planne gemaak moet word, waarby die huidige regering nie betrek word nie.

minnie muis ·

die ou is betrek met korrupsie, en julle wil hom glo, ja ek weet die maan is van kaas gemaak!!!

Jaco ·

Gee al die regruk werk in SA vir kundige wat weens regstellende aksie en BEE nie werk kan kry nie. Vat dan daardie kundiges se stemreg weg terwyl hulle eskom, waterwese, spoornet ens ens weer regkry. Die stemreg wegvat is dan die “straf” vir apartheid. Dis darem ‘n ligter “straf” as om werkloos te wees. Bitter min mense in dié land, wit en swart, wil “buite die boks” dink.

Delia ·

Dirk, my voorstel. Los nou al die gesprekke tot na die verkiesing. Moet asb nie nou die ANC ammunisasie gee om enige valse beloftes op die tafel te plaas. Die ANC werk met n plan.

domheks ·

Paul Mashatile wil gou ‘n paar punte vir cANCer bymekaar vee met Solidariteit en Afriforum se besem. … …

Republikein in die Wes Kaap ·

Solidariteit kan help, maar kom vorendag met teeneise. Begin deur die 116 raswette laat skrap. Kommunikeer dié boodskap aan ANC ondersteuners.

Marous ·

Dit al jare terug oor gewaarsku. Die spul in beheer koop gesuiwerde water en voel vere vir die mense. Cholera gaan almal plat slaan . Hou maar dop .

Herman ·

Ek stem saam. Laat die verkiesing eers agter die rug kom en dan vandaar af sien of daar enige hulp sonder politiekery kan plaasvind.

Amelia ·

Wat van ons help mekaar bv persoon sit sonder werk en kan by agriforum navraag doen bv vir bouer of watter beroep ook al vir die minderheid sonder besighede met bbe ens sal dit dalk kan werk minderheid help minderheid

annie ·

Geld en hulp, geld en hulp… en geen dankie. Die ANC kry die krediet en die helpers sit platsak.

skurweberg ·

Dit is alles deel van die probleme waarmee die inwoners van SA tans tekampe het. Die agteruitgang is ooglopend. Daar word gesê “water gaan ʼn groter krisis as elektrisiteit word”. Dis ook baie waar, maar daar is ‘n GROTER KRISIS wat almal in Suid Afrika in die gesig staar en dit is die onbeheerste en onbeplande aanwas van die bevolking. Gaan daar ‘n tyd aanbreek dat die regering sonder vrees aangevat gaan word oor hierdie saak wat hulle met blastinggeld, subsidieer en aanmoedig ? Armoede is ‘n besliste faktor in hierdie verskynsel, maar nog nooit is hierdie pandemie in diepte bespreek nie.. Kondome en voorbehoedpille word vrylik uitgedeel in die teenwoordigheid van kinders en jongmense en steeds bring kinders van 12 jaar oud kinders in die lewe. Is dit nie ‘n groter onreg teen die mensdom om niks daaroor te se of iets daaraan te te probeer doen nie? Hoekom word die wat voorgee dat hulle weet wat om te doen toegelaat om vir hulp aan te klop, sonder dat die werklike probleem hoorbaar en sienbaar in eie geledere, eers aangespreek word ? Ons sit met ‘n Enorme Sosiaal Maatskaplike probleem. Dis die krisis en ons mag nie deel word of weghardloop van die werklike probleem in ons eie geledere , maar ook in die lewe en volksbestaan van ander mense nie.

Papsak ·

Ja kom ons wag maar eers tot na verkiesing dan praat ons weer al hulle beloftes is n verkiesing foefie om stemme te werf slingse maniere ne korrupt. Skelm sal hulle bly hulle kyk net na hulle self en hulle mense ons as wit is op ons eie regtig kyk hoe sukkel ons om werk te kry maar net niks na verkiesing gaan dit dalk nog erger gaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.