Masjinis met dood gedreig deur woedende pendelaars

Argieffoto (Foto: Fotoworkshop4You, Pixabay)

ʼn Vroulike masjinis van die Durban/Stanger-roete was Dinsdagoggend erg getraumatiseerd ná woedende pendelaars wat laat was vir werk haar met die dood gedreig het toe sy geweier het om ʼn rooi stopteken te ignoreer.

Volgens die United National Transport Union (Untu) het Gugu Phakathi (38), wat al vir die afgelope 16 jaar vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) werk, ingevolge ʼn opdrag die trein tot ʼn stilstand gebring sodat herstelwerk gedoen kon word.

Kort daarna het sy glo verder gery, maar is sy weer opdrag gegee om die trein tot ʼn stilstand te bring sodat ʼn goederetrein haar trein kon verbysteek.

Steve Harris, algemene sekretaris vir Untu, het gesê toe Phakathi weier om die rooi stopteken oor te steek het passasiers op die trein haar met die dood gedreig en gesê hulle sal die trein aan die brand te steek.

“Die pendelaars was woedend omdat hulle reeds laat was vir werk. Hulle wou van my weet hoekom die goederetrein nie vir hulle kan wag om eers by die werk te kom nie,” het Phakathi gesê. “Hulle het my opdrag gegee om die rooi teken te ignoreer, maar ek het probeer om hulle kalm te hou en het vir hulle gesê dat ek dit nie kan doen nie omdat ek hulle lewens in gevaar sou stel.”

Volgens Phakathi het die pendelaars haar uitgejou en ander het glo probeer om toegang tot die kajuit te kry waar sy toegesluit was.

“Toe hulle nie by my kon uitkom nie, het hulle begin om die kajuit met klippe te bestook en gedreig om die kajuit aan die brand te steek en my dood te maak. Ek was nie seker of dit klippe is of vuurwapenskote nie, dit het geklink soos skote. Ek was so getraumatiseerd en het in trane die kantoor gebel en hulle gesmeek om beskermingsdienste te stuur om my te kom red,” het Phakathi gesê.

Dié enkelma van twee minderjarige kinders het gesê veiligheidsbeamptes het die groep pendelaars weg van die kajuit af gedwing en kon daarin slaag om haar daar uit te kry. Hulle het ook die pendelaars na ʼn ander trein oorgeplaas.

Phakathi het gesê sy het Untu versoek om vir Transnet te vra om nie passasierstreine te dwing om by rooi tekens te stop vir goederetreine terwyl dit spitstye is en pendelaars by die werk moet kom nie.

Volgens Harris eis Untu dat die polisie hul grondwetlike mandaat om inwoners van Suid-Afrika te beskerm uitvoer. “Genoeg is genoeg,” het hy gesê.

Harris het gesê Untu het Siyabonga Gama, die uitvoerende hoof van Transnet, genader en hy het hulle verseker passasierstreine sal voorkeur gegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anargie ·

Hahah en aan wie se kant is die regering en die polisie … . aan die PENDELAARS se kant. Nie een van die pendelaars is vervolg nie .. die pendelaars kan maar breek en brand en vernietig . word nooit in hegtenis geneem nie en die arme treindrywer wat net die REELS wou nakom het amper met haar lewe daarvoor geboet. WAPENSKOTE Nogals? Wie is in hegtenis geneem? Niemand, want anargie is aan die orde van die dag in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.