Masjinis sterf toe treine reg van voor bots

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

ʼn Masjinis is Donderdag dood nadat ʼn wegholdiesellokomotief reg van voor teen die trein waarin hy was, gebots het.

Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union (Untu), het gesê Alexander Flemming, ʼn Untu-lid, was saam met Jan Swanepoel en Neo Jason Witkoei in ʼn trein van Rosmead na Beaconsfield in Kimberley onderweg toe die ongeluk gebeur het.

“Hulle het by ʼn rooi sinjaal gewag vir die treinbeheer om vir hulle die groen lig te gee om verder te ry. Untu verneem dat ons lede sowat vyf minute gewag het vir die treinbeheer om na hulle toe terug te kom toe hulle die wegholdiesellokomotief van Noupoort af gewaar wat teen ʼn hoë snelheid op hulle afgepyl het,” het Carstens gesê.

Witkoei kon daarin slaag om betyds van die trein af te spring. Die diesellokomotief het die trein getref en dit het aan die brand geslaan.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Swanepoel het op die gras naby die trein gelê. Hy was deurdrenk met olie. Witkoei en ander omstanders uit die gemeenskap het hom van die trein af weggesleep voordat hy ook vlam vat,” het Carstens gesê. “Die ambulans was sowat 20 minute later op die toneel waarna Swanepoel in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas is.”

Flemming kon egter nie betyds uit die trein ontsnap nie en is op slag dood. Witkoei is net lig beseer.

Steve Harris, hoofsekretaris van Untu, het Flemming se dood as ʼn groot tragedie beskryf. “Dit is elke treinbestuurder se grootste nagmerrie om deur ʼn weghollokomotief gekonfronteer te word. Transnet sal ʼn kommissie van ondersoek aanstel om te bepaal wat die oorsaak was en of iemand daarvoor aanspreeklik gehou kan word,” het Harris gesê.

“Die vakbond dink aan Flemming se familie en vriende in hul tyd van nood. Mag ons hemelse Vader hulle vertroos in hierdie moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Maddox ·

My innige simpatie met die familie en vriende van die oorledene. Wat ek graag sal wil weet, en ek vra uit onkunde, hoe kan daar ‘n weghol trein wees, waar was die drywer/bestuurder van daardie trein. Iets moes tog gebeur het dat die trein vanself op loop gesit het, of was dit deur iemand se agterloosigheid gewees. Wonder maar net…

Lance ·

Ek gaan raai ….no maintenance PRASA O PRASA …julle is tog SO slim …

Lourens ·

Lance , hierdie is goedere treine en ongelukkig kan Prasa nie verantwoordelik gehou word nie, Prasa is net vir passasiers treine en nie goedere nie. Transnet Freight Rail is hulle die manne as ek dit nou reg het

Ella ·

Dis so tragies. Sterkte aan die Flemming gesin en ander geliefdes en vriende

santie ·

Sterkte johan en oom nic en gesin. Mag julle deur God toegevou word in die hartseer tyd. Ons innige meegevoel aan die hele familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.