Maskerdebakel: Uitsaaiklagtekommissie verwerp klagte

(Foto: Twitter)

Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (BCCSA) het die klagte teen ’n verslaggewer van eNCA wat haar na die staatsrede midde-in ʼn rasseherrie oor die dra van gesigmaskers bevind het, verwerp.

Die BCCSA is verlede maand genader nadat ’n video versprei is waarin gesien kan word hoe Lindsay Dentlinger oënskynlik net swart mense vra om maskers tydens hul TV-onderhoude te dra en nie dieselfde met wit mense doen nie.

Dit het later aan die lig gekom dat Dentlinger Nqabayomzi Kwankwa, die UDM se adjunkpresident, versoek het om sy masker te dra kort nadat sy ʼn onderhoud met Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gevoer het sonder dat hy ʼn masker gedra het.

Dentlinger se verweer was dat Groenewald glad nie ’n masker by hom gehad het nie. Aangesien Kwankwa reeds ’n masker aangehad het, is hy bloot versoek om die masker aan te hou vir die onderhoud.

Die UDM het saam met 11 ander klaers klagtes rakende die voorval by die Uitsaaiklagtekommissie ingedien.

Die BCCSA het ondersoek ingestel om te bepaal of Dentlinger se versoek aan Kwankwa as ʼn vorm van rassediskriminasie of voorspraak van haat op grond van ras regverdig kan word.

Die BCCSA het egter nou beslis dat dit nie die geval is nie. Die owerheid het beslis dat hoewel die voorval aanstoot gegee het, daar geen aanduiding is dat die verslaggewer se versoek aan Kwankwa op haat op grond van ras teenoor swart mense neerkom nie. Dentlinger het dus geen klousule van die BCCSA se gedragskode oortree nie.

“Die BCCSA besef ongeregtighede in die verlede het gelei tot sensitiwiteit teenoor sake waar ras betrokke is. Die feite van hierdie saak regverdig egter nie ’n afleiding van voorspraak tot haat teen swart mense nie,” is daar beslis.

eNCA sê hy is as verantwoordelike uitsaaier onderworpe aan die BCCSA-gedragskode en is tevrede met die uitspraak.

“eNCA verstaan ​​hoe ons verslaggewer se dekking ruimte geskep het vir ʼn algemene veronderstelling van die publiek, en is jammer dat haar gedrag as rassisties beskou is en kykers beledig het. Ons herhaal egter dat ons interne ondersoek, soos die BCCSA s’n, bevind het dat haar gedrag nie rasgedrewe was nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Goeie uitkoms. Mense moet ophou om kleinserig en kleinsielig te wees oor ras. Als gaan nie oor ras nie. Rassisme voer bo-toon in als.

Dries

Dit is hartverskeurend om te sien dat daar oor so n beuselagtigheid rassisme geskree word. Maar daar is honderde ras gebaseerde wette teen blankes wat daagliks mense se lewens vernietig. DAAROOR BLY ALMAL eNCA ingesluit doodstil. Dit is absoluut verwerplik

Cheetha

Hoe sê hulle UDM het lekker eier op die gesig. Lekker…

Hans

Waneer gaan die ANC begin betoog teen korrupsie. Dis baie meer skadelok a n ou maskertjie?
Nooit nie want hul is die vaders van super korrupsie. n Regte klomp skelms