Maskers kán risiko vir Covid-19 verminder – kenners

Cape Union Mart se fabriek wat ook nou lapmaskers vervaardig (Foto: Alan Winde, ANA)

Aanvanklik is die gebruik van gesigmaskers onder die algemene publiek te midde van die Covid-19-pandemie afgeraai. Suid-Afrikaners word egter nou uit talle oorde aangemoedig om maskers te dra en lande wat die pandemie suksesvol hokgeslaan het, bewys dat maskers wel ʼn verskil maak.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhezi, het Suid-Afrikaners die afgelope week aangemoedig om gesigmaskers te gebruik, selfs al is dit van lap gemaak.

Hy het egter gesê dit moet as ʼn bykomende voorsorgmaatreël saam met goeie handhigiëne en ʼn veilige sosiale afstand gehandhaaf word.

Maar is daar waarde in die gebruik van ʼn masker indien jy nie ʼn gesondheidswerker is nie? ʼn Onlangse artikel deur die Wêreld- Ekonomiese Forum tref ʼn vergelyking tussen die Westerse en Oosterse lande se gebruik van gesigmaskers tydens die Covid-19-pandemie.

Voetgangers dra maskers om hul teen die nuwe virus te beskerm (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Terwyl sleutelrolspelers in Westerse instellings soos die Sentrum vir die Voorkoming en Beheer van Siektes (CDC) en agentskappe vir openbare gesondheid sterk teenkanting getoon het vir die massagebruik van gesigmaskers, het lande soos China, Japan en Suid-Korea die algemene publiek se gebruik daarvan aangemoedig.

Die VSA het tans reeds meer as 500 000 bevestigde Covid-19-gevalle terwyl Suid-Korea in die Ooste skraps oor die 10 000 bevestigde infeksies aangeteken het. Hoewel die huidige verskil in getalle van Covid-19-infeksies in onderskeidelik die Weste en Ooste nie alleen aan die gebruik van gesigmaskers toegeskryf kan word nie, is dit ʼn geldige argument vir die gebruik van gesigmaskers.

Huidige inligting dui daarop dat die twee hoofbesmettingsmetodes van die Covid-19-virussiekte deur die oordra van respiratoriese ensieme (asemhalingsdruppels) en fisieke kontak plaasvind

Keertan Dheda, hoof van die afdeling pulmonologie (kritieke sorg) en Departement Geneeskunde by die Universiteit van Kaapstad en Groote Schuur-hospitaal, sê die gebruik van gesigmaskers deur die publiek kan voordelig wees.

“Maskers wat deur die publiek gedra word, kan die afset van druppels, wat deur hoes of nies vrygestel word, verminder. En dit verlaag die vervaardiging van kleiner partikels terwyl jy praat of asemhaal.

Jo-Ann van Helpende Hand se Diamanttak, het al 476 maskers gemaak, steriel verpak en opgehang aan haar hek – vir mense om gratis te neem. (Foto: Verskaf deur Helpende Hand.)

“Gegewe hierdie konteks bied gesigmaskers beskerming en trek die gemeenskap voordeel daaruit. Dit kan ook die draer van die gesigmasker teen blootstelling beskerm deur die inaseming van mikrodruppels, wat moontlik die virus bevat, te verminder.”

Wêreldwyd asook plaaslik is ʼn beroep op die publiek gedoen om lapmaskers of tuisgemaakte maskers te gebruik. Dit is in ʼn poging om die noodsaaklike N95- en chirurgiese maskers vir nooddiens- en gesondheidswerkers te bewaar, het Mkhize gesê.

Dheda meen dis ʼn goeie idee om ʼn lapmasker te dra terwyl jy tussen mense beweeg mits sekere voorwaardes soos ʼn veilige sosiale afstand en handhigiëne steeds gehandhaaf word. Hiermee saam waarsku hy teen die volgende:

  • “Die masker moet op die korrekte wyse afgehaal en skoongemaak word om die risiko vir selfbesmetting te verminder.
  • “Dit is belangrik om te verstaan dat die dra van ʼn masker nie die enigste manier van beskerming is nie.
  • “Die gebruik van ʼn masker moet jou nie ʼn valse indruk van sekuriteit gee dat jy intussen ander aspekte soos hande was en ʼn sosiale afstand nalaat nie.”

Die #Masks4All-veldtog is ʼn beweging wat tuisgemaakte maskers vir almal aanbeveel as kritiek noodsaaklike beskermingsmiddel teen Covid-19. Die veldtog moedig verbruikers aan om kontak te vermy met mense wat geen masker dra nie. Die organisasie beklemtoon indien jy ʼn masker dra, moet dit hanteer word asof dit besmet is en dus ontsmet word deur die masker in water te kook. #Masks4All meen ook ʼn stadiger asemhalingsritme dra by tot die doeltreffendheid van enige masker.

Wanneer jy tuisgemaakte maskers maak, waarsku Dheda egter dat “’n meervuldige laag materiaal wat ʼn seël om jou mond, neus en ken vorm en wat agter jou kop en ore gebind kan word” nodig is om die verspreiding en besmetting van die koronavirus teen te werk.

Volgens hom is alternatiewe doen-dit-self-maskers nie raadsaam nie omdat dit die risiko bevat vir deurdringbaarheid van besmette lug of nie die behoorlike en doeltreffende filtrering bied om mikrodruppels af te weer nie.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Suid-Afrika (Nios) gee ook riglyne vir die gebruik van lapmaskers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Strandloper ·

Ek het dit beskou as logies voor die lockdown en het net stil gelag onder my masker vir die negatiewe komentaar.

TARINA ·

Ek sal baie graag wil weet wat kan gedoen word om maskers meer vrylik beskikbaar te stel.
Senior burgers kan nie boxe vol koop @ R1000.00 per box, (dis wat ek gister betaal het.)
Daar is nie beskikbaar teen billike bedrag per masker.

Dalk het iemand invloed. Ek het my apteek rapporteer wat “dust Masks” teen R50.00 elk verkoop het.

Cherokee ·

Dit lyk asof ons in ‘n wêreld vol bankrowers woon. Natuurlik het moslems vroue nie ekstra maskers nodig nie.

Jaco ·

Te duur kan dit nie bekostig, sal maar my kanse sonder dit vat. As jy kry kos dit R99 n masker wat weg gegooi moet word. Ek is bly vir die wat bevoor reg genoeg is om dit te kan betaal

Marthinus Johannes ·

Het dit al voorheen genoem dat maskers nie net keer dat n persoon die virus versprei nie, dit keer ook dat jy die virus kan kry van iemand wat nog nie besef dat hy die virus het nie of iemand wat ignorant is omtrent dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.