Massagebed vir plaasaanvalle beplan

Boere is keelvol vir plaasaanvalle en -moorde (Foto: Verskaf)

ʼn Groot saamtrek word Saterdag in Pretoria beplan waartydens besorgde Suid-Afrikaners vir die soveelste keer hul misnoeë oor plaasaanvalle en -moorde te kenne wil gee. Talle optogte teen plaasaanvalle en -moorde is verlede jaar landwyd gehou.

Lede van die organisasie Unite Against Farm Murders and Attacks verwag ʼn groot opkoms van mense, tot van die Kaap, wanneer hulle Saterdag na die Uniegebou opruk.

Hierdie organisasie het reeds in Oktober ʼn optog in die Jakarandastad gehou, waartydens ʼn memorandum aan die president se kantoor by die Uniegebou oorhandig is. Volgens een van die organiseerders, Kallie Roux, het die regering nog geen aandag gegee aan hul eise wat in dié memorandum uiteengesit is nie.

“Die aanvalle op ons boere hou nie op nie en niemand doen iets daaraan nie. Dit is tyd dat ons weer ons stemme dik maak. En dit is by wyse van ʼn optog, waar ons massas mense byeenkry om weer bewusmaking te skep,” sê Roux.

Die optog verlede jaar in Pretoria (Foto: Verskaf)

Die plan is om Saterdag tussen 09:30 en 10:00 met motors, bakkies, motorfietse, trekkers en selfs vragmotors by die Builders Warehouse Zambesi in Sefako Makgatho-rylaan in Montana bymekaar te kom. Van daar af sal almal in ʼn stoet deur die stad se strate en hoofweë tot by die Uniegebou ry.

“Ons sal stadig (30/40 km/h) beweeg, met ons ligte en parkeerligte aan, en alle verkeersreëls gehoorsaam.”

Almal wat aan die optog wil deelneem, word aangemoedig om wit vlae, baniere en wit kruise saam te bring wat tydens die optog ten toon gestel sal word.

By die Uniegebou sal die “Onse Vader” gesing word en pastoor TJ Mare van die 911 Riders-motorfietsgroep sal ’n gebed doen.

“Ons verwag honderde mense van wyd en syd. Mense van die Kaap, Nelspruit, Limpopo, Oos-Kaap en Durban het reeds terugvoer gegee dat hulle die optog gaan bywoon.”

Verlede jaar het die Unite Against Farm Murders and Attacks-organisasie in sy memorandum pres. Cyril Ramaphosa gevra om plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdaad te erken. Hulle het ook versoek dat ʼn plan van aksie met betrekking tot die inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan ingestel word. Nog een van die eise was dat geen borgtog aan plaasaanvallers of -moordenaars toegestaan moet word nie.

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 382 plaasaanvalle in 2020 aangemeld is, waarvan 63 plaasmoorde was. Altesaam 43 plaasaanvalle en vier plaasmoorde is reeds vanjaar aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Nog petisies. Nog memorandums. Nog vergaderings. Nog vreedsame optogte. Kom ons hou aan om die “morele hoëgrond” te handhaaf. Tot dusver het geen van bg. aksies enige uitwerking gehad nie. Maar kom ons hou aan om dieselfdete doen, oor en oor. En dan verwag ons n ander uitkoms.

Roedolf Johannes ·

Dit is n Goeie idee om sulke Massagebed Plaasmoorde Massagebed Reëndae en Massagebed Stop Misdaad te hê.MAAR wat van n Massagebed vir DANKIE SE VIR ALLES

Sarel ·

Daar moet egter gewaak word oor hoe daar gebid word en wasrvoor gevra word.
Wanneer ek lees hoe sommige van ons mense God en Sy Kerk letterlik beledig sal ons nooit positiewe antwoorde kry nie

Cornelia ·

Die belangrikste van alles is, daar moet soveel as moontlik mense deel neem aan hierdie optog, sodat almal kan weet hierdie dinge moet so gou as moontlik stop sodat Suid Afrika weer kan terug kom na normaal, want dit is ook waarvoor ons almal bid. Hoe groter die optog hoe meer publisiteit en die buite wêreld kyk daarna, so dit is ‘n goeie ding. Ek weet nie of daar weer so ‘n geleentheid gaan wees nie, so kom ons almal staan saam. Ons mense het nou lank genoeg swaar gekry, kom ons staan op en maak Suid Afrika weer mooi.

Sylvia ·

“…groter die optog hoe meer publisiteit… “…buite wêreld kyk daarna,…” As dit die doel is, hoekom dan bid? …

Vonkprop ·

Ons bid om ons afhanklikheid van God te bevestig. Hy weet wat ons nodig het maar Hy wil dit van ons hoor. Ons kan ook nie net bid en niks doen nie. Dis net so goed jy bid vir werk maar stuur nie jou CV’s uit of netwerk nie. Ons doen fisies iets om mense te wys ons is ernstig oor die saak en bid dan tot God vir leiding en wysheid.

Die Goodwoodianer ·

Ek kan nie verstaan hoekom iemand hierdie dame se kommentaar ñ duim-af sal gee nie. Jy som dit goed op: Mense moet bymekaarkom en die geleentheid gebruik as ñ luidspreker vir die wêreld om te sien. Vonkprop se herinnering dat gebed nie net gaan oor vra (hê) nie, pas ook goed hierby. Ons moet die werk doen met die kweek as ons die vrugte wil pluk van ons oes.

Daar sal groepe mense wees wat nie die byeenkoms sal kan bywoon nie maar sal dus in stilte bid in die huis, tuin, garage, of waarookal. Ons moet ons mede volksgenote help waar ons kan en bydrae maak waar ons kan.

Anoniem ·

Die Voortrekkers het ook gebid, maar nie aanhoudend die ander wang gedraai nie, hulle het opgetree ook. Ons moet reg bid.

Die Goodwoodianer ·

Die regte tyd vir optrede word slegs deur God bepaal.

Samuel ·

Die gededs optog, gebede self en mense se gesindheid moet eerlik wees, nie net vorm nie . Ons het genoeg van vormgodsdiens en politieke godsdiens.

Astrain ·

Ons wat fisies op plase sit – ons het nie meer woorde nie, dis asof daar ‘n gelatenheid op jou neerdaal van nie of nie – maar wanneer sal ons beurt kom. Ek hoop ek het al teen dan my amnestie vuurwapen terug om ‘n koeel deur my eie kop te jaag voor die marteling en verkragting begin…aangesien die moordenaars en verkragters van my veiligheid meer regte het as ek, die boervrou wat elke dag sit en wag vir ons beurt…

Genis ·

Dit moet gedoen word, en ondersteun word! Bewusmaking veral international moet gesien word. Die regering sal alles vedoesel, en dank almal reg oor die wereld als is OK… Kom mense kom asseblief in jul massas.

Karina ·

Ek wens die organiseerders alle sukses toe met die optog. Gaan ry verby elke ambasade en staats instelling!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.