Massastranding van dolfyne ondersoek

Argieffoto van ‘n bottelneusdolfyn ter illustrasie (Foto: NASA, Wikimedia Commons)

Die massastranding van 38 dolfyne aan die Oos-Kaapse kus laat kenners kopkrap.

Die dolfyne, 28 volwassenes en 10 jonger dolfyne, is Vrydag op ‘n afgeleë kuslyn tussen die Sondagsriviermond en Woody Cape-strand gevind.

Dr. Gregory Hofmeyr, ‘n mariene bioloog by Port Elizabeth se Bayworld-oseanarium, het gesê hulle het die toneel saam met verteenwoordigers van SANParke en die departement van landbou, bosbou en visserye besoek. “Dit is waarskynlik dat die dolfyne vier tot vyf dae voor ons hulle gekry het, al gestrand het.”

Volgens Hofmeyr is ’n span van sewe mense van die Bayworld-oseanarium en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) vroeg Saterdagoggend na die toneel.

“Die diere het gestrek gelê oor sowat twee kilometer langs die kus; daar was een kalfie. Ons het die span in drie verdeel en ons het oor twee dae basiese inligting soos geslag, lengte en volwassenheid aangeteken vir elke dolfyn. Die karkasse is ook gedissekteer om belangrike inligting oor wat moontlik die dood van hierdie dolfyne kon veroorsaak het vas te stel,” het Hofmeyr verduidelik.

Dr. Stephanie Plön, ’n lid van die African Earth Observation Network (AEON) aan die NMMU, doen al die afgelope nege jaar navorsing oor die gesondheid van dolfyne en walvisse in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal se waters. Sy het gesê hoewel die dolfyne gedeeltelik ontbind was, was elke dolfyn in ’n gesonde en goeie toestand. Verskeie monsters van al die dolfyne is vir verdere ontleding en navorsing geneem.

Volgens Hofmeyr is dolfyne boaan die mariene voedselketting en dus belangrike aanwysers van die gesondheid van die oseane. “Daar kan geen voor die hand liggende redes voorgehou word vir hierdie stranding nie, dit lyk egter nie in dié stadium of daar vuilspel betrokke was nie,” het Hofmeyr gesê.

“Hierdie deel van die kuslyn blyk uniek te wees omdat daar al vier massastrandings sedert 1977 hier plaasgevind het. Dié stranding is wel die grootste een nog,” het Hofmeyr gesê.

Hofmeyr het mense gemaan om onmiddellik strandings aan te meld om sodoende te verseker dat die beste inligting so gou moontlik bekom word. Bayworld kan geskakel word by 071 724 2122.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Estelle ·

Dit is so hartseer om te hoor van die dolfyne se dood. n Dolfyn is vir my een van die pragtigste intelligentste spesies wat daar is en n mens kan nie anders om lief te wees vir hul nie. Ek hoop dat die oorsaak van hul dood gou opgelos sal word om nog moontlike strandings te voorkom. Voorspoed en sterkte aan almal wat met die dolfyne te doen het.

Inge ·

Wat ‘n tragedie, wens hulle kon hulle vroeer opgespoor het!

Edward ·

Ek kyk na ‘n program op TV ivm sonar kommunikasie. Dit is hoe dolfyne kommunikeer. Duikbote se veiligheids stelsel is ook sonar om ysberge, skepe en hindernisse in die see te identifiseer. Hierdie stelsel werk basies op dieselfde manier wat dolfyne kommunikeer. Ek wonder toe waar oral gebruik die mens hierdie tipe kommunikasie en of die mens nie onwetend met die dolfyne kommunikeer nie en hulle dan op ‘n vals boodskap reageer en dan agter die seine aan uit die see uit swem nie. Sometimes I think.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.