Die gesamentlike poging van meer as 50 nooddiensbeamptes en vrywilligers het gehelp om ʼn 25-jarige vrou te red nadat haar motor by Chapmanspiek in Kaapstad afgerol het.
Die vrou het ernstige beserings opgedoen en haar motor was in ligte laaie nadat dit van die berg afgerol het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê volgens inligting het die vrou se voertuig die rand van Chapmanspiek verlaat en gerol voordat dit ongeveer 100 m teen die berg tot stilstand gekom het. Die voertuig en die veld rondom die motor het aan die brand geslaan.

Meer as 50 nooddiensbeamptes en vrywilligers het gehelp om die vrou te red (Foto: Hout Bay Volunteer Emergency Medical Service, Facebbok)
“Met paramedici se aankoms op die toneel was die brandweer besig om die brandende motor te blus. Verskeie nooddienste het ingespring en die vrou so vinnig moontlik uit die motorwrak probeer bevry,” sê Meiring.

Die vrou is per ambulans hospitaal toe geneem (Foto: Hout Bay Volunteer Emergency Medical Service, Facebook)
SANParke se Tafelberg Nasionale Park en die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het twee helikopters uitgestuur om te help met brandbestrydingspogings.
Ná ʼn uitgebreide reddingsoperasie is die vrou deur paramedici op die toneel gestabiliseer voordat sy deur die Houtbaai Vrywilligers-nooddienste na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die brandweer het ook daarin geslaag om die brand vinnig in bedwang te bring.
Die omstandighede rakende die ongeluk word ondersoek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Sy moes te vinnig gery het, Chapmanspiek het ‘n muur al langs die pad.
Selfoon / selfie, 90% seker dis die oorssaak!
Daar is geen goue reël, hou te alle tye al vier wiele op die teer
Seker n amerikaanse motor want hulle slaan altyd aan die brand as hulle in ongelukke kom. Duidelik nie n Benz nie.
Selfmoord poging? 2de voertuig in n kort periode wat in daai area afgaan.