Massiewe sinkgat kniehalter Centurion-verkeer

Die kruising waar die sinkgat ondergronds gevorm het. Foto: Google Earth

ʼn Besige aansluiting in Centurion is noodgedwonge vir verkeer gesluit weens ʼn massiewe sinkgat wat ondergronds gevorm het.

Peter Sutton, DA-raadslid, het Donderdag aan Maroela Media gesê kontrakteurs wat opknappingswerk in Die Hoewes doen, het Woensdag die reusesinkgat onder die aansluiting van Jeanlaan en Gerhardstraat opgemerk en dadelik beamptes van die Tshwane-metro in kennis gestel.

“Die pad self het nog nie ingeval nie. Dit gat is ondergronds, maar ons moes die pad noodgedwonge vir die publiek se veiligheid sluit,” het Sutton gesê.

Sutton het gesê hy het “nog nooit in sy lewe” so ʼn groot sinkgat gesien nie.

“As ek uit my oogpunt ʼn vergelyking moet gee, sal ek sê dit is soos ʼn groot grot onder die pad. Die gat is omtrent so groot soos ʼn skoolsaal en minstens 12 m diep. Die pad dikte tussen die teer en die gat is so 75 cm. ʼn Bus sal heeltemal daarin kan val,” het hy gesê.

Sutton het gesê die hele gebied is vir verkeer gesluit en die direkte omliggende sakeondernemings word ook daardeur geraak.

“In dié stadium lyk dit net asof die sinkgat onder die aansluiting gevorm het en die geboue is nie in gevaar nie. Ons het egter ʼn volledige span kenners na die gebied gestuur om ʼn behoorlike evaluering te doen en die omvang en grootte van die sinkgat te bepaal. Ons behoort teen vanmiddag ʼn beter aanduiding te hê waarmee ons te doen het.”

Sutton het gesê die aansluiting is een van die hoofroetes in Centurion wat nagenoeg 40 000 voertuie per dag hanteer wat nou van alternatiewe roetes gebruik moet maak.

“Dit het ʼn massiewe uitwerking op verkeer en die metropolisie is daarheen ontbied om verkeer te reguleer. Die pad gaan tydelik gesluit wees totdat ingenieurs hul mening vir ʼn tydelike oplossing kan gee asook planne voorlê om die gebied behoorlik te rehabiliteer.”

Daar is nie in dié stadium ʼn aanduiding wat die oorsaak van die sinkgat is nie. Hy het gesê inwoners en motoriste sal onder meer deur Maroela Media van die verloop van sake ingelig word.

Lees ook die opvolgberig: Centurion-sinkgat: ‘Dit is buitengewoon groot’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

A ·

En Centurion Hoërskool se gebou is ook in gevaar agv van ‘n sinkgat. Dit lyk vir my na groot probleme.

Jan ·

Is dit nie dalk n RDP huis wat daar uit die lug geval het nie?

Hanna ·

Laat my nou terugdink aan die tragiese voorval in Carltonville in die 1960’s toe n huis in so n gat verdwyn het. Dankie tog iemand het hierdie gat vroegtydig raakgesien.

Jaco ·

Eskom is in die moeilikheid as gevolg van ‘n groot ‘gat’.
Regering is in die moeilikheid a.g.v. ‘n groot ‘gat’.
SAUK is in die moeilikheid a.g.v. ‘n groot ‘gat’.

Leonie ·

Het nogal gewonder hoekom ons verkeer vanoggend in Lenchen so woes was.

Dirk ·

Die Japanese kon so ‘n gat in 2 weke herstel. Kom ons sit terug en kyk>>>

Stellie ·

Daar was n paar jaar terug n sinkgat op PRESIES dieselfde plek!

Jan ·

Nee dit was bietjie verder op in die pad na Jean Crossing se kant toe.

Nope ·

Dit was op die hoek van gerhard en Von Willich. Nie nader aan Jean Crossing nie. By trein stasie. Ek bly paar meter aan

Paul ·

Nie op dieselfde plek nie, behalwe as dit dalk etlike dekades gelede was?

Hannes ·

Nee dit was nie op dieselfde plek nie. Dit was voor die Oscan BBQ restaurant (Wimpy in Jean laan is oorkant). Munisipale werkers het ‘n pyp stukkend geslaap vior die Oscan BBQ restaurant, toe laat die water die gat inval

Eddy ·

Daar was een naby aan Jean crossing in 2012 se kant (Voor die Wimpy in jean laan), en een op die hoek van Gerhard en von willich na erge reën in 2014 of 2015

gerbrandt ·

Die omgewing is vol dolomiet en is dus verstaanbaar dat daar sinkgate gaan voorkom. Het in die 70tigs en 80tigs daar rond grootgeword en toe was daar al baie sinkgate. Ook in Valhalla en ook by die ou 1 Militere Hospitaal.

deon ·

Dan moet die ou van die DA so bietjie n draai gaan maak in Cullinan. Tans die grootste sinkgat nog, maar mens hoor niks daarvan nie want dis op myngrond.

snoefie ·

alweer Jean en Gerhard. ek wou vra loop die gautrein se spoor onder deur maar as daar al in 79’s en 79’s sinkgate was is die gautrein inskykdig.

Bertie ·

Die feit dat hy gaan inval, staan uit soos ‘n paal bo water, help hom aan op ‘n veilige manier en vul dit dan op. Help nie ons is bewus van sy bestaan, en niks word daaraan gedoen nie.

jappiesinkgat ·

Nogal snaak, want net nou die dag se ‘n ou vir my hy koop nie ‘n huis in Valhalla nie oor die sinkgate daar.
Hy koop net nader aan Die hoewes.
Ek sal nou baie graag sy storie wil hoor, want Valhalla is vol bikers en nie so baie sinkgate van daai grote nie.

Liezel ·

In Clubview op die hoek van Poplar en Kameeldoring Laan is daar al ‘n sinkgat vir 7 maande. die teer het al in geval en beide bane asook die sypaadjies aan beide kante het al begin inval. Daar is nog niks gedoen vir die herstel daarvan behalwe om ‘n hek met skadu net daarom te sit om die pad af te blok nie.
Dit is sleg dat dit nou nuus is omdat dit ‘n hoof straat is maar die inwoners van Clubview sukkel al maande om inligting te kry oor wanneer die sinkgat herstel gaan word.

Suretha ·

Die verkeer in daardie area het in die laaste paar jaar in ‘n nagmerrie begin ontaard. Die toevoeging van die Gautrein-stasie, verskeie komplekse met hoëdigtheid-behuising en die Jean Crossing sentrum – sonder dat die padnetwerk daarmee tred gehou het – dra by tot die chaos. Ek kan my nie eens indink hoe erg die verkeer in daai omgewing nou gaan wees as almal alternatiewe roetes moet gebruik nie!

Vanessa ·

En dan word daar nog meer as 200 woonstelle se voorbereiding gemaak in End straat voor Thelma straat en Leriba lodge. Die verkeer kan nie eers tans deur die huidige paaie daar gehandhaaf word nie, nie eers te noem wanneer daar swaar reenval is nie. Dan is end straat gesluit. Word daar ooit behoorlike geologiese studies gedoen? Verkeersimpakstudies? Reeds is meer as 200 woonstelle begin okkupeer op die hoek van von willich en jim van der merwe. Hoe sal die paaie al die nuwe verkeer hanteer?

Tiaan ·

Daar word ook nog 300 woonstelle op die hoek van Jeanlaan en Suidstraat gebou.

Banie Smit ·

Ja ek het ook in die laat veertigs daar skoolgegaan. Toe kon ons nie in die veld in die huidige Doornkloof speel nie want ouers het gese ons sal in die sinkgate verdwyn. Ook in die huidige Kloofsicht. En van dag is die areas vol huise.

JC ·

Did sal interessant wees om die binnekant van die gat te sien terwyl die “dak” nog heel is.
Kan ‘n drone daar ingaan en foto’s / video neem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.