Massmart-werkers begin met staking op Swart Vrydag

Foto: Makro/Facebook

Die SAKP het sy ondersteuning toegesê aan die Massmart Groep-werkers wat Vrydag onder leiding van die vakbond Saccawu wil staak.

Werkers staak vanaf Swart Vrydag by die Massmart Groep wat Mass Warehouse (Makro en Fruitspot), Massbuild (Builders Warehouse, Builders Express, Builders Trade Depot en Builders Superstores) en Mass cash (Rhino Cash & Carry, Jumbo Cash & Carry, Cambridge en verskeie onafhanklike Cash & Carry-winkels) insluit.

Swart Vrydag is ʼn groot afslagdag en een van die besigste inkopiedae van die jaar. Dit het in die VSA begin as ʼn afslagdag ná Dankseggingsdag.

Volgens die SAKP sal ongeveer 18 000 werkers van die SA handel-, spyseniering- en geallieerde werkersvakbond (Saccawu) aan die staking deelneem. Die werkers eis dat Massmart eensydige herstrukturering en veranderinge aan indiensnemingskontrakte moet staak en hulle eis ook groter salarisse.

Die werkers het Saccawu ʼn mandaat gegee om te mobiliseer vir ʼn verbruikersboikot vanaf Maandag 22 November.

Doug Jones, uitvoerende hoof van Makro, sê die onderneming het deurgaans die welstand van sy personeel eerste gestel. “Daar was nie enige werksverliese tydens die Covid-19-inperkings in 2020 en vroeër vanjaar nie en daar was ook nie enige werksverliese ná die plundertog in Julie nie. Trouens, Makro-personeellede in KwaZulu-Natal het onmiddellik versorgingspakke ontvang ná die tragiese gebeure. Ons personeel het boonop die afgelope paar jaar ook salarisverhogings hoër as die inflasiekoers ontvang,” sê Jones.

“Selfs alhoewel twee van ons winkels gesluit bly, behou ons personeel hulle werk en hulle word betaal.”

Hy het die afgelope paar dae van die takke besoek en het met personeellede gesels wat al jare lank vir Makro werk. “Die oorweldigende meerderheid het gesê hulle wil nie staak nie, maar hulle is onder druk van vakbondverteenwoordigers en Saccawu. Ons sien ook die gewildste vraag wat aan ons personeel-navraaglyn gestuur word, is: ‘Ek wil nie staak nie. Wat kan ek doen?’”

Jones sê dis ironies dat personeellede in só ʼn moeilike posisie geplaas word waar hulle in ʼn dispuut beland waarby hulle nie eintlik persoonlik betrokke is nie. “Hul diensvoorwaardes het jare lank al onveranderd gebly en, mens sou kon aanvoer dinge het in dié tyd selfs verbeter ondanks uitdagende tye wat ons as land beleef.”

Jones sê dit is teleurstellend dat Saccawu kies dat sy werkers moet staak – veral in ʼn tyd wat baie belangrik is vir Makro, vir sy klante en vir sy personeellede, van wie baie in aanmerking kom vir kommissie uit verkope. “Nodeloos om te sê, ons het gebeurlikheidsplanne ingestel om ons bedrywighede te kan voortsit. Dit sluit tydelike personeellede in wat vertroud is met die onderneming se prosesse. Ons wil ons klante gerus stel dat ons oop is om julle te bedien en ons hoop dat ons staat kan maak op julle voortgesette ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pieter ·

As ek makro is dan ontrek ek uit die anc land dan kan die slim unies vir hulle lede werk gee

Hardekwas ·

Moenie verbaas wees as hulle wel in die nabye toekoms besluit om te onttrek nie.

Wakkerslaper ·

Wallmart moenie nou kla nie – die Amerikaners was mos voor in die koor om destyds druk op ons te sit om die land oor te gee aan terroriste….

Hardekwas ·

Makro, our people gee nie om vir julle of enige ander besigheid nie. Daar is geen ekonomiese insig nie, tot die plek totaal vernietig is en daar niks oor is nie. Slegs dan sal die besef van hul optrede moontlik by hulle opkom. Maar geen waarborge daarvoor nie.

casper ·

Raak ontslae van die gespuis en kry mense wat wil werk man !!

Hardekwas ·

En dan gaan ons (die belastingbetalers) hulle weer moet betaal.

Sarel ·

Goeie voorbedld van Vakbond & Politiek..
Massmsrt….dit is SA…

Snowball ·

Afrika redenasie. Leer maar hoe dit hier werk, dit sal so werk vir nog ‘n 100 jaar. Werkloosheid seëvier in hierdie agterlike hool en enige regdenkende mens wat besef sy bestaan en kinders se toekoms hang van sy werk af, sou twee keer dink, maar nou ja, die ry agter die VN kostrokkie wink sodat die Westerse wêreld weer kan kom pa staan vir die African child.

Jackie ·

Die ANC regering is te slapgat om n militante unie hof te neem, maar sal BEE reëls verhoog, want dis sagte teiken en polities winsgewend

Kortbroek en plakkies ·

Ek werk self in die kleinhandel bedryf in distribusie en was van die gelukkiges wat die hele grendel tydperk kon werk. Ons werkgewer doen alles in hul vermoe om ons veilig te hou en ons werk te behou. Niemand is afgele nie en mense kry gratis etes, geskenk bewyse as teken van dank en word altyd op tyd betaal vir dit waarvoor ons aangestel is. Die ure is lank, 7 dae ‘n week en ons operasie hardloop 24 uur. Ja somtyds voel mens moedeloos dis maar net menslik, maar as ek kyk na ander wat so swaar kry is ek maar tog te dankbaar vir wat ek het. Die generasie van vandag “demand” net altyd en dink die maatskappye het ‘n goue pot aan die einde van die reenboog wat net salarisse kan opstoot. Ek kom nog uit die ou skool waar ‘n halwe eier beter is as ‘n lee dop.

Swerwer ·

Vakbonde is die grootste onding wat sy ontstaan in ons land het.

Plotman ·

Na n paar swak ondervindinges by n paar van hul winkels met hul swak werkers koop ek lankal nie daar nie behalwe as my vrou my dwing om iets te koop waarop ek glo geld spaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.