Masuku van pligte onthef

David Makhura, premier van Gauteng. (Foto: Twitter)

Die Gautengse premier, David Makhura, het die geskorste hoof van die departement van gesondheid in die provinsie van sy amp onthef.

Dr. Bandile Masuku is vroeër geskors nadat bewerings oor onreëlmatige tenders in die departement aan die lig gekom het. Die tender was vir die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) van sowat R125 miljoen.

Masuku is ondersoek vir sy beweerde rol in die toekenning van ʼn tender aan Royal Baca, ʼn maatskappy wat behoort aan Thandisizwe Diko, die eggenoot van pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko.

Die Diko’s en die Masuku’s is familievriende en Masuku het hom vantevore al van die departement se verkrygingsproses gedistansieer. Khusela Diko is ook met verlof.

Makhura het Vrydag aangekondig dat Masuku – op grond van die SOE se bevindings en aanbevelings – as LUR van sy amp onthef word. Die verslag het aanbeveel dat die premier administratiewe stappe teen die LUR doen.

Volgens Makhura het die SOE bevind dat Masuku versuim het om sy pligte ingevolge die Grondwet en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur na te kom.

Bandile Masuku (Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA)

Die premier het gesê gegewe die feit dat die ondersoek nog nie voltooi is nie, gaan hy eers ʼn nuwe LUR aanstel wanneer die SOE se ondersoek na bewerings van korrupsie en samespanning heeltemal afgehandel is.

Intussen het ʼn verslag wat deur die private ondersoeker Paul O’Sullivan saamgestel is, bevind Masuku was nié by enige ongerymdhede betrokke nie.

Die O’Sullivan-verslag plaas die blaam eerder voor die deur van Thandisizwe Diko en beveel aan dat ʼn omvattende forensiese ondersoek gedoen word.

Luidens die verslag is daar geen bewyse dat Masuku by die verkrygingsproses ingemeng het nie en dat sy betrokkenheid tot aflewering – eerder as verkryging – beperk was in ʼn poging om te verseker dat daar te midde van die Covid-19-pandemie genoeg PPE’s in die provinsie is.

“Ons het geen steen onaangeroer gelaat nie en kon steeds nie ʼn enkele bewys vind wat dr. Masuku of sy vrou [Loyiso] by enige wandade wat verband hou met PPE-tenders vir Gauteng betrek nie,” lui die verslag.

Loyiso Masuku, ʼn Johannesburgse burgemeesterskomiteelid, is ook met verlof hangende die uitslag van die ondersoek oor die beweerde tenderongerymdhede.

Luidens die verslag is daar ook geen bewyse dat Bandile Masuku die destydse finansiële hoof van die departement beveel het om “sy mense” aan te stel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Seker met volle betaling ne?

Persheks Adri

R125 miljoen pragtig geleer by kaders ne! Op verlof met vergoeding eish en ons moet betaal en betaal…

Elsa

Seker moet hy al daardie geld terug betaal???

JohanR

2022…..sien nou Dr. Bandile Masuku is SA ambassadeur in Duitsland? En die ANC wiel gaan rond en rond, rond en rond…..

4ntj13

Die SOE se bevindinge rakende dr Masuku behoort nou ook openbaar te word saam met die feitelike redes daarvoor. As dit geheim gehou word terwyl sommige bevindinge aan die publiek openbaar word, laat dit te veel ruimte vir verdere bedrog. Dit voel dan eerder na ʼn toesmeerdery.