Masuku wil hof toe; sy afdanking verwelkom

Bandile Masuku (Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA)

Dr. Bandile Masuku, voormalige Gautengse LUR vir gesondheid, gaan die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag wat tot sy afdanking gelei het voor die hof daag.

“Die SOE-verslag maak verkeerde en nie-feitelike bevindings oor my rol as uitvoerende gesag. Dit is onduidelik of die verslag finaal is en daarom het ek aan die premier geskryf om aan hom te verduidelik dat ek my regte sal uitoefen om die bevindinge in ’n hof te hersien om dit ter syde te laat stel,” het Masuku in ʼn verklaring gesê nadat hy deur David Makhura, premier van Gauteng, van sy pligte onthef is.

Masuku hou ook vol dat hy glad nie oneerlik was of korrup opgetree het om homself, familie of vriende te laat baat by tenders vir die verskaffing van persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) nie.

Masuku is ondersoek vir sy beweerde rol in die toekenning van ʼn tender aan Royal Baca, ʼn maatskappy wat behoort aan Thandisizwe Diko, die eggenoot van pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko.

Makhura het Vrydag aangekondig dat Masuku – op grond van die SOE se bevindings en aanbevelings – as LUR van sy amp onthef word. Die verslag het aanbeveel dat die premier administratiewe stappe teen die LUR doen.

Volgens Makhura het die SOE bevind dat Masuku versuim het om sy pligte ingevolge die Grondwet en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur na te kom.

Masuku is egter van mening dat die SOE met die opstel van die verslag sy beëdigde verklaring oor die aangeleentheid sowel as inligting en dokumente wat sy kantoor verskaf het, geïgnoreer het.

“Dit is vir my duidelik dat die SOE óf onder uitermatige druk verkeer weens die geldige openbare verontwaardiging oor korrupsie en die noodsaaklikheid om aanspreeklikheid te verseker, óf dat hy doelbewus besig is met politiek vir ʼn doel wat nog vasgestel moet word.”

David Makhura, Gautengse premier. (Foto: @GautengProvince/Twitter)

Opposisiepartye het Masuku se afdanking verwelkom. Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het egter gesê Makhura het die weg gebaan om Masuku weer aan te stel indien die SOE se ondersoek bevind dat hy nie korrupsie gepleeg het nie.

“Ek is verbaas dat Makhura bereid is om Masuku se politieke mislukking oor die hoof te sien, aangesien die SOE bevestig het dat hy nie die massiewe korrupsie wat plaasgevind het, kon voorkom nie.” Bloom meen Makhura moet die moontlikheid dat Masuku weer aangestel kan word, uitskakel en ʼn nuwe LUR aanstel.

Die VF Plus het ook sy kommer uitgespreek oor Makhura se aankondiging dat die vakature nie gevul sal word totdat hy die finale verslag van die SOE ontvang het nie.

“Sou premier Makhura nie die vakature vul nie, kan dit die werksaamhede van die gesondheidsdepartement benadeel, veral met die huidige Covid-19-inperkingstydperk,” het Amanda de Lange, VF Plus-LPW in Gauteng, gesê.

Die VF Plus het die SOE aangemoedig om die finale verslag so gou as moontlik bekend te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Janine ·

Nie een van hulle het enige skaamte nie. Wat ‘n absolute skande!

Strandloper ·

Wat gaan ons doen met al die hoenders? Die hok raak nou oor vol!

JohanR ·

Wil hof toe. Is dit met jou eie geld, of maar weer die belastingbetaler se geld?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.