‘Mathunjwa beskerm korrupte vakbondleiers,’ hoor hof

Joseph Mathunjwa, president van Amcu (Foto: Siphelele Dludla/ANA)

Joseph Mathunjwa, president van die Association for Mineworkers and Construction Union (Amcu), beskerm lede wat in korrupsie geïmpliseer word, het die Brits-landdroshof Donderdag gehoor.

Amcu se interne konflik is tydens die borgtogverhoor van voormalige en huidige vakbondleiers onthul. Die lede word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om vakbondleiers te vermoor oor vermoedelik ʼn stryd om leierskapsposisies.

Zamelekhaya Mboxela, ʼn voormalige adjunkvoorsitter van Amcu by Rowland-skag, het aan die hof gesê hy glo Mathunjwa beskerm leiers wat in korrupte bedrywighede geïmpliseer word, omdat hy nooit reageer het op bewyse van korrupsie wat voor hom gebring is nie.

“Ons het die bewyse na die hoofkantoor geneem, hulle het onderneem om ondersoek in te stel en na ons toe terug te kom, maar ons is daarna uit die vakbond geskop,” het Mboxela gesê.

Staatsaanklaer Cassius Mona wou weet of hy kwaad was oor sy skorsing uit Amcu. “Die skorsing het van die hoofkantoor gekom, ek was te bang om dit te daag,” het hy geantwoord.

Mona wou ook weet of hulle daarna die Amcu-kantoor gesluit het. “Ons het nie die kantoor gesluit nie, die werkers het die kantoor gesluit oor die diens wat hulle van hul leiers gekry het. Hulle het by ons kom kla; hulle het gekla oor swak dienslewering en wou hê Mathunjwa en ander leiers by die hoofkantoor moet na hul griewe kom luister,” het Mboxela verduidelik. “Ons het briewe geskryf, maar in plaas daarvan dat hulle na die werkers kom luister het, is ons geskors.”

Hy het gesê dat daar verdeeldheid in Amcu is weens probleme wat nie opgelos word nie.

Mona het gesê die verdeeldheid word egter geskep deur die groepe wat kwaad geword het toe Zithobile Mangqo, algemeen bekend as David, as voorsitter verwyder is en deur Malibongwe Mdazo vervang is. “Ek stel dit aan jou dat daar ʼn groep was wat Mangqo ondersteun het en die ander groep het Mdazo ondersteun. Julle was nie gelukkig nie en het die kantoor gesluit,” het Mona gesê.

Mboxela hou vol die verdeeldheid word geskep omdat werkers se probleme nie opgelos is nie.

Mona het hierop gesê: “Jy het aan roubeklaers by [Zingisa] Mzendana se begrafnis gesê dat Mathunjwa R3 miljoen in ʼn bankrekening inbetaal het sodat Mdazo huurmoordenaars kon bekom …”

Mboxela het egter gesê hy het by die begrafnis gepraat, want Mzendana was ʼn leier, maar wou nie bevestig of hy aan roubeklaers gesê het dat Mathunjwa aan Mdazo die R3 miljoen vir huurmoordenaars gegee het nie.

Mona voer aan Mboxela het uit Lonmin bedank en na die Oos-Kaap gevlug nadat hy besef het hul plan, om Amcu-leiers om die lewe te bring, aan die lig gebring is.

Mboxela, Lungisa Madiba (35), Juke Mjakane (34), Sthembe Jakane (41), Xolile Madikane (39), Mthethelethu Mtshukuka (34), Simphiwe Silwane en Peterson Siyaya doen aansoek om borgtog. Hulle staan tereg op aanklag van sameswering om moord te pleeg en poging tot moord.

Die staat voer aan die beskuldigdes is as leiers uit Amcu geskors, die vakbond het nuwe leiers aangestel en die groep het saamgesweer om hulle uit die amp te verwyder. Sommige het by Lonmin bedank en planne gemaak om Amcu-leiers te elimineer.

Twaalf persone is in hegtenis geneem in die saak. Nkosinathi Mantashe en Samkelo Mkhutshwa is reeds vrygelaat op borgtog. Zithobile Mangqo en Bongile Cingo is op ʼn waarskuwing vrygelaat.

Mona het aan die hof gesê Siyaya, ʼn lid van die vakbond National Union of Mineworkers (NUM), word met die saak verbind omdat hy glo geld na die samesweerders gebring het om die huurmoordenaars te betaal.

Siyaya ontken sy betrokkenheid in die sameswering om Amcu-lede te vermoor. Die saak is tot 11 April uitgestel vir die borgtogverhoor.

Amcu-lede is in September verlede jaar kort ná mekaar vermoor. Minstens 11 sake van moord en poging tot moord is tussen Mei en Oktober verlede jaar in Noordwes aanhangig gemaak. Nege persone is dood en twee beseer. Die meerderheid van slagoffers was glo lede van Amcu. Ses sake van moord is in Phokeng aangemeld, twee sake van moord en een van poging tot moord in Marikana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie ·

So lekker as blinde sambok se houe val. Daar gaan nog groot verrassings wees

Oom Kalahari ·

So sal die vrot appeltjies een na die ander uitkom. Gee tyd!! Mag en geld speel ‘n groot rol by baie en gaan oor posisie en selfverryking.

Michael ·

Maar kyk hoe maklik word moord in S A gepleeg . Jy hou nie van iemand nie dan maak jy hom net dood as of jy hom net skel. n lewe is net mooi niks werd in hierdie land nie. Ek wens net die land se leiers kan dit raak sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.