Matie gaan teen skorsing appelleer

Theuns du Toit

Die Matie-student wat vandeesweek permanent by die Universiteit Stellenbosch (US) geskors is nadat hy in Mei vanjaar op ’n medestudent se skootrekenaar geürineer het, gaan teen dié bevinding appelleer.

Die 19-jarige Theuns du Toit se regsverteenwoordiger, William Fullard, het aan Maroela Media gesê dat die uitspraak deur die sentrale dissiplinêre komitee (SDK) nie op goeie regspraktyk gegrond is nie aangesien hul bevindings op onbewese feite berus.

Du Toit en sy regspan het die uitspraak Woensdagmiddag ontvang en sê hulle is nog in die proses om deur die inhoud daarvan te werk. Ingevolge die universiteit se dissiplinêre kode het hulle vyf dae kans om appèl aan te teken.

“Die komitee het ook in verdere aspekte gefouteer, wat volledig tydens die appèl bespreek sal word.”

Fullard het verlede maand tydens sy kliënt se dissiplinêre verhoor aangevoer dat ’n permanente skorsing op “opvoedkundige doodstraf” neerkom – en dít alles weens ’n fout wat Du Toit in sy dronkenskap begaan het.

Die SDK meen egter dat Du Toit se dronkenskap geen verweer vir sy optrede is nie en het hom skuldig bevind wat die urinering op Babalo Ndwayana se besittings betref. Hy is ook skuldig bevind aan rassistiese aanmerkings en die onwettige betreding van Ndwayana se koshuiskamer.

Du Toit het tydens die verhoor erken dat hy die aand besope was en sommige van die gebeure van die aand nie kan onthou nie. Hy hou egter vol dat hy hoegenaamd nie doelbewus of opsetlik opgetree het nie en ontken ook dat sy optrede rasgedrewe was.

Luidens die uitspraak, wat Maroela Media onder oë gehad het, is die saak teen Du Toit op vyf aspekte geskoei: die urineringsvoorval, die misbruik van alkohol, koshuiskultuur, rassisme en die toekomstige belange van die US.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FCR ·

Maak nie saak of hy besope was of nie. Het hulle hom getoets om die vlak van alkohol te bepaal? Dis net ‘n maklike ontsnap roete. As jy skuldig is is jy skuldig. As hy dalk iemand in sy besoopte toestand doodgery het, wat sou julle dan te sê gehad het?

ENFM ·

“Opvoedkundige doodstraf” is nogal ‘n raak beskrywing. Universiteite vra vir ‘n “gedragsertifikaat” van ander instellings waar ‘n student studeer het, as deel van die aansoekproses. Skorsing is bv iets wat op so ‘n sertifikaat kan staan en kan dit moeilik maak om by enige ander instelling aanvaar te word.

Groen-oog ·

Ek ken jong mense wat tip top was in Laerskool en Hoërskool.
Prefek in matriek. Balkies al2 haar baadjie lapelle vol en laagste punte 85 % hoogste 93%.

Die jaar universiteit toe. . . . En shoeeeee kuier gereeld saam drinker maats. Fotos van die kuierery.
Take en werk word op 99 gou afgerammel en die mamma se die 80 en in 90 % het vreeslik gedaal die dametjie skuur op haar basvelle deur. Praat die mamma dan is dit n humeurige affere want “sys nie meer n kind nie” en “chill net okayyyyy”

So n “SERTIFIKAAT” oor n kind se gedrag ens gaan niks werk nie. En die dame is nie die enigste 1 wat so voorbeeldig op skool was en so lelik Uitgerafel het toe sy onder haar ouers se dak uit is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.