Matie se dokumentêr ʼn pleidooi vir Afrikaans

Foto: Facebook/Mercy Kannemeyer

Mercy Kannemeyer (22) wat tans haar honneursgraad in drama by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Foto: Facebook/Mercy Kannemeyer

deur Adéle Changuion

Die debat oor die taalbeleid by universiteite woed steeds voort en dit is baie duidelik dat dié saak baie mense na aan die hart lê.

Een so ʼn persoon is Mercy Kannemeyer (22) wat tans haar honneursgraad in drama by die Universiteit Stellenbosch voltooi. Mercy het saam met filmmaker-vriende ʼn dokumentêr getiteld Die ander kant vervaardig wat handel oor die taalbeleid by universiteite en wat die uitkoms sal wees indien Afrikaans finaal afgeskaf sou word as tersiêre onderrigtaal.

“Die dokumentêr probeer die kant van Afrikaans bekyk wat lank stilgemaak is en waaroor jongmense dikwels te bang is om oor te praat. Daar word weggeskram van Afrikaans, omdat te veel mense dit nog as ’n onderdrukkerstaal sien en nie die taal van bevryding nie,” skryf Mercy in ʼn verklaring. “Afrikaans kan mense bemagtig, mits die gesig van Afrikaans verander. Uiteindelik wys die bruin stem agter die dokumentêr wat en wie presies op die spel is.”

In dié dokumentêr, ongeveer 12 minute lank, gesels Mercy met verskeie meningsvormers soos Helen Zille, Rhoda Kadalie en die Afrikaanse Taalraad. Belangrike punte word aangeraak soos of Engels studente voorberei vir ʼn internasionale beroepslewe.

“Dit is nodeloos om moedertaalonderrig op skool aan te moedig en terselfdertyd die plafon te maak tot matriek en daarna kan ʼn kind nie verder studeer in sy moedertaal nie. Dis gek,” meen Hendrik Theys, die ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Vir Mercy is die dokumentêr ʼn pleidooi aan mense om die ander kant van Afrikaans te sien.

“Dit is vir baie mense ʼn sensitiewe saak, en ons wou ʼn Afrikaans wys wat nie baklei nie. Daar is soveel debatvoering oor dié onderwerp, veral op Stellenbosch. Ons wou iets vervaardig wat relevant is.”

Mercy meen Afrikaans is deel van haar identiteit. Sy sê dit is ʼn taal wat inklusief moet wees omdat dit juis deur soveel verskillende mense gepraat word.

In die dokumentêr word die volgende statistieke genoem:

  • Afrikaanse is die derde grootste taalgemeenskap in Suid-Afrika
  • Altesaam 7,5 miljoen mense praat Afrikaans – 57% van dié getal is bruin mense, 43% wit mense
  • Volgens dr. Willa Boezak, wat ook in die dokumentêr te sien is, praat 600 000 swart gesinne en ongeveer 50 000 Indiër gesinne ook Afrikaans

“Uiteindelik, wanneer ons Afrikaans verloor, gaan miljoene mense hul kultuurerfenis verloor,” waarsku dr. Boezak.

En dan vra Mercy nog ʼn belangrike vraag: “Indien Afrikaans finaal afgeskaf word by ons universiteite, wat staan ons te verloor?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

JC ·

Baie dankie Mercy. Jys bevonk!
Baklei voort vir my en jou taal asseblief ;-)
Hierdie stryd om ons taal Afrikaans is ‘n deurlopende stryd in die gesig van duidelike antagonisme van die cANCer regering af. Afrikaanses verenig!!

Bouer ·

‘n Roerende en hartseer video, maar die situasie aan die US het onomkeerbaar verander. Sedert die pro-Afrikaanse taalbeleid van 2002 aanvaar is, het die pro-Engelse groep al die nodige skuiwe gemaak om dit teen te werk. Hulle het gou in die raad, bestuur, senaat en institusionele forum oorheers. Alle kritiek en teenstand is subtiel (soms minder subtiel) teengewerk. Pleidooie aan die hoofstroommedia, is ook meestal geïgnoreer. In hierdie stadium kan mens net bespiegel oor wat die donateurs se visie is vir die US. Die feit dat 200 dosente nie Afrikaans magtig is nie, het ook verder bygedra tot die vernietiging van die US se Afrikaanse karakter. Dit is ‘n tragedie vir die Afrikaanse taalgemeenskap, maar ten minste het Akademia n paar jaar gelede die lig gesien. Ons moet nou volstoom werk aan die vestiging van Akademia. Dit is die enigste en laaste geleentheid wat ons het om Afrikaans se hoër funksies veilig en gevestig te hou.

Drikus ·

Mercy gaan dit nog ver bring. Baie dankie vir haar opregte en objektiewe pleidooi. Sy is wat ons land nodig het.

Sandra ·

Taal is so ‘n voorreg om te kan gebruik en elke mens behoort daardie voorreg gegun te word. Afrikaans is ons almal se taal en daarom behoort elkeen wat lief daarvoor is, daardie voorreg gegun te word. ‘n Pragtige video met mense wat so suiwer en mooi in Afrikaans praat. Dankie Mercy dat jy opstaan vir dit waarin jy glo!

André ·

As laerskool leerkrag wat Engels ook tot graad 10 gegee het,het ongeveer 10℅ van my leerlinge Engels as 1ste taal in graad 12 geslaag,daarna verskillende grade aan u universiteite in Afrikaans verwerf en groot sukses oorsee met werk behaal.My 2 seuns is oorsee. Een werk in Slowakye en die ander een in Taiwan. Hul Engels help hul bitter min.So vergeet die argument dat opleiding in Engels moet wees om sukses oorsee of in sakewêreld moet wees.

Anton ·

My pa, oorl. Prof Johan Combrink wat tydens sy lewe die senior van die Afrikaanse-Nederlandse departement was by Stellenbosch, sou verseker trots gewees het op jou. Ek sê ook, Mooi so, hou so aan

ken van benoni ·

Mercy,
Baie dankie jy is ‘n ster, jy het moed en ek dink aan die ding van die prop , hoe dieper jy iets onderdruk, hoe hoër skiet dit bo uit!!! Wel gedaan, jy wys die klomp slapperts ‘n ding of twee!!!!

John ·

Taal as vlymskerp wapen vir die dood van die Afrikaner… soveel maniere om ‘n bang kat te slag… Hoe blind kan mens word… Hierdie stryd woed sedert ons grondlegging … en die doel heilig glo mos die middele… Te oulik… ja te, te…

JC ·

Dankie John, deurdat jy nie naief is nie:-)
Skynbaar is ons Afrikaners sedert ons ontstaan nog nooit bestaansreg gegun in ons vaderland nie!! en is die enigste wyse om ons vreedsame kulturele voortbestaan en voortbestaan van ons taal te verseker die konsep van aparte ontwikkeling. Laat mens bietjie dink daaroor of dit werklik ‘n bose sisteem was en of dit nie noodsaaklik was nie, veral gegewe wat nou gebeur. die vraag kan derhalwe gevra word: wat moes ons politieke leiers v/d vroeer jare anders doen as om aparte ontwikkeling te propageer, want snaaks en ironies genoeg wil die “regering” nou ‘n pre-koloniale grond oudit doen, wat op sy beurt maar net weereens die grense sal, en moet, bevestig soos vergesteld was deur die destydse tuisland grense en aparte ontwikkeling. Die situasie nou al so gevorder en die beginsel van die onwerkbaarhied van kulturele diversiteit uitgewys in ‘n hoogs heterogene land(behalwe vir Indie seker een van die meeste) dat die vrae derhalwe gevra kan word: waarvoor is “gestruggle” en wat was dan die doel van die sg. “demokrasie” indien dit gepaard gaan met ondubbelsinnige onderdrukking of die poging daartoe? Ek bepleit ‘n meer aktivistiese houding onder die Afrikaner deel van die Afrikaanses, want lykmy die bruin ouens het dit al goed onder die knie.

Theresa ·

Dankie Mercy – dankie dat jy ‘n positiewe boodskap vir Afrkaans uitstuur. Maar, steeds lyk dit asof die wit Afrikaner blameer word vir onderdrukking. ‘Wat ek weet is dat vir ‘n paar jaar daar baie streng wette was en reëls. Ons almal besef dat van daardie wette en reëls nie almal wenners laat voel het nie. MAAR. Dis mos nou bitter lank terug. En als was ook nie verkeerd nie? Om ‘n Afrikaanssprekende witmens in Suid-Afrika as ‘n ding reg uit die hel te sien, is absurd en net ‘n verskoning vir ander redes. Baie wit Afrikaanssprekendes het gehoop as die oorname dan die sukses sou wees wat belowe was, daar nie ‘n spel sou ontaard (wat dit het) van “nou sal ons jul terugkry” nie. Volwasse, intelligente politici behoort “groter” as dit te wees. Maar helaas. Ek hoop dus jy verkondig ook dat die wit Afrikaner nie die boosdoener is as wat miljoene steeds probeer deurgee nie. Moet tale dan verdwyn en weggevee word n a v boosdoenery? Dan bly daar min tale in SA oor…

Elisa ·

Theresa jy moet die dokumenter kyk – jy takel nou vir haar terwyl jy nie mooi verstaan nie en buite konteks kommentaar lewer. Die goed wat jy noem veg sy dan voor? Mercy se dat almal Afrikaans as die taal van bevryding moet begin sien, dan sal hulle dit ook ophou afbreuk. Jy moet verstaan dat die rede waarom Afrikaans by Universiteite afgeskaf word is omdat daar nog mense daarbuite is wat die ‘onderdrukkers’ argument gebruik – in die video wys Mercy hoe ons dit kan omkeer… en ek dink ons almal kan daarvoor staan.

Herman ·

Mercy jy is waarlik ‘n ster!!!! Trots op ons taal is ons beslis en voorwaar sal baie verlore gaan soos tydens jou onderhoude genoem word maar ons kan versekere wees dat Afrikaans sal bly voortleef. Met persone soos jy en baie ander wat baklei vir ons taal inspireer dit ook baie ander om op te staan en ook saam te baklei!!

Gerda ·

Daar is net party rigtings waarin mens nie in Afrikaans kan studeer nie. Ek het in Afrikaans klas geloop maar altyd ‘n engelse handboek gebruik en dus ook die engelse weergawe van toetse gelees, omdat dit makliker was om te verstaan. Ek het eenkeer ‘n verslag in Afrikaans geskryf, en dit was baie moeiliker as om dit in Engels te doen, waar ek klaar die terme ken en nie nog hoef te vertaal nie. Daar is baie inligting wat ook net in engels beskikbaar is. Google weet nie wat is ‘n positiewe kantgesnellerde D-wipkring nie. Die heel basiese begrippe van my werk is nie in Afrikaans beskikbaar nie. Elke liewe artikel wat ek in my nagraadse studies gebruik het, was engels en daar is nie eers ‘n Afrikaanse woord vir wat ek gedoen het nie. Mens kan nie daarby verbykom dat ons engels nodig het nie. Kry eerder goeie onderwysers wat Afrikaanse kinders behoorlik Engels kan leer sodat hulle maklik in Engels kan studeer sonder dat dit hulle benadeel. Ons laat dit klink of ons te dom is om in Engels te studeer. Hulle wil Afrikaans afskaf omdat hulle glo dit bevoordeel witmense. So studeer in Engels en kom oor dit. Om in engels te studeer en te werk het nie my moedertaal of kultuur of erfenis of enige iets van my af weggevat nie. Dit het my geleenthede gegee wat nooit in Afrikaans moontlik sou wees nie.

elisa ·

Gerda. Jy het duidelik nie die dokumenter gekyk nie ne? Ons moet ophou dink aan onsself en net ons onmidelikke omgewing.

JC ·

Sjoe, oukei, “wow”, hengse ontnugtering…nie geweet dis sommer so maklik om net jou taal af te skryf nie Gerda.
-“Positiewe kantgesnellerde D-wipkring” klink so bevonk-…Bly ons het jou nie aan ons kant vir die geveg van die akademiese behoud van ons taal nie. Dit gaan oor meer as taal, dit gaan oor ‘n ganse kultuur, nie net ons kultuur nie, maar ook ons bruin broers en susters, want ons IS Afrikaans. Dit is te maklik om aan die kantlyn te staan eerder as om instansies soos die FAK, Afriforum, Afrisake, Akademia, APA, Aros, die Afrikanerbond en die AKTV te ondersteun. Ek twyfel of sommige mense eers verneem het van die Russiese, ja, jy’t reg gehoor, Russiese studente wat Afrikaans mooier praat en MEER passievol is daaroor as die meeste Afrikaanses. Het julle gehoor van die wonderlike werk wat Solidariteit Helpende Hand in die Strand doen vir die kinders (Afrikaanse) daar? Ondersteun hulle, as ek kan met my karige salarissie, kan almal…

JC ·

Gerda, lees asseblief Afriforum se artikel oor die (wetenskaplike, en uitstekend uiteengesette) verduideliking en belang van MOEDERTAAL ONDERRIG, dan sal jy besef mens kan net nie daarby verbykom dat ons Afrikaans nodig het nie, tensy jou gesin se huistaal seker Engels is?

Gerda ·

My huistaal is Afrikaans. Ek is Afrikaans en ek praat elke dag Afrikaans. Ek het in Afrikaans skoolgegaan. Ek het geregistreer vir die Afrikaanse klasse op universiteit en as die dosente Afrikaans magtig was, was die klasse meeste van die tyd in Afrikaans aangebied. Maar die handboeke was in Engels. Dit beteken ek moes alles wat ek buite die klas self studeer het, in Engels doen. Dit is nie noodwendig vir alle studierigtings so nie, maar vir die wat so is, is dit in my opinie, nie slegter om in Engels klas te loop nie. Baie van ons Afrikaanssprekendes is Engels darem goed magtig. Nee, ek was nie in ‘n Engelse privaatskool nie, ek was in ‘n parallelmedium staatskool. Maar ek het ‘n goeie Engelse onderwyseres gehad.
Terloops… ek het al so bietjie begin bydraes lewer op ons Afrikaanse Wikipedia blad, omdat ek dink dis belangrik dat inligting in Afrikaans beskikbaar is. Maar dit beteken nie ek het dit in Afrikaans op universiteit geleer nie. En dis moeilik om te kompeteer met die magdom engelse inligting wat klaar beskikbaar is.

John ·

Verduidelik asb of daar nie meer na ras verwys mag word in SA-konteks nie? Is wit Suid-Afrikaners nie meer ‘n afsonderlike ras nie, soos die Kleurlinge, Indiers, Sjinese en swart burgers nie? Is swart mense en gekleurdes wat Afrikaans praat nou deel van die Afrikaner-kultuur en moet hulle as wit Afrikaners aanvaar, verklaar en ingeskakel word? Is Afrikaans nou die slinkse onsigbare ‘gifgas’ wat ons vrese besweer? Snaaks genoeg Jung het jare gelede hierdie afwenteling/afwatering in die Westerlinge se kultuur in Afrika voorspel; enigiets vir oorlewing wat uiteindelik tot ‘n soort Suid-Amerikaanse mulato-bevolking vervloei met ‘n verwronge warboel-kultuur vol van ‘jolly’-fikasie met ‘n lukraak ‘love-all’-godsdiens en
-lewensuitkyk. Ons vyande is skynbaar baie slimmer as ons.

JC ·

Dankie vir jou insette John. Ek glo sterk ons en ons bruin broers en susters verteenwoordig ‘n baie unieke tipe Kreoolse Afrika Afrikaanse kultuur, en daar moet dit van nature natuurlik stop, en jaloers oor bewaak word teen enige verdere verwatering. Ek dink die Afrikaanse kultuur in al sy verstommende varieteit en diversiteit, van die Kaap tot in Messina, behoort aan al die Afrikaanses, te wete ons en die bruin ouens, en ons moet dit koester en bewaak. Ek stem saam met jou, en is teen enige verdere verwatering van ONS unieke kultuur en taal situasie. AFRIKAANSES verenig!!

Louw ·

Ek vind die video en die argumente daarom heen baie bemoedigend. Dit is vir my snaaks dat Gerda en andere in ‘n skynbare “geveg” betrokke raak terwyl hulle eintlik dieselfde boodskap oordra. Vir my gaan dit oor die feit dat enige taal sekerlik hoër kragte as die individue self nodig het om die taal vorentoe te vat, soos die wêreld self vorentoe beweeg. Dit is waar skole en universiteite, dus onderwysers, dosente, skrywers en digters se taak inkom. Dit is, myns insiens, noodsaaklik dat die opleiding by skole en universiteite, wat “wyer” as die taal self strek, in die moedertaal sal geskied. Engels, Latyn, Chinees of watter taal ookal kan en moet steeds gebruik word waar ons nie oor die regte woorde beskik nie. Waar anders gaan ons uitdrukkings soos..”‘n kantgesnellerde D-wiprigting..” vandaan kry? (Ek is nuuskierig om te weet waaroor dit gaan) Deur steeds Afrikaans (soos vir baie jare lank die geval by Stellenbosch was) by sekere uiniversiteite te gebruik, kan net bydra tot vooruitgang in die land as en terselfdertyd kan dit help om een van die landstale verder te ontwikkel. Deur Afrikaans summier te wil verwyder word niemend ‘n guns bewys nie. Wat wel gebeur is dat ongeveer 6miljoen mense (syfers hierbo aanvaar) egter direk en indirek benadeel word. Die grootste probleem is egter dat dit politieke verwydering tussen mense vergroot.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.