Matie sterf op hokkieveld

Jessica Matthews (Foto: Maties Sport/Facebook)

ʼn Eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) en doelwagter vir Maties se tweede hokkiespan is dood nadat sy Woensdagaand tydens ʼn oefenwedstryd inmekaargesak het.

Die 18-jarige Jessica Matthews van Somerset-Wes het verlede jaar aan Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch matriek behaal voordat sy by Maties se hokkieklub aangesluit het.

Haar alma mater het intussen sy medelye betuig.

“Jessica is onverwags oorlede terwyl sy haar passie uitgeleef het.”

Die skool onthou Matthews as ʼn talentvolle musikant en ʼn eerstespan- en Boland-hokkiespeler van “durf, vaardigheid en vermoë”.

Jessica Matthews (Foto: Facebook)

“Jessica sal onthou word as ʼn speler wat altyd daarna gestreef het om meer op die veld te leer en haarself te verbeter,” sê Maties Sport se waarnemende sportbestuurder vir hokkie, Anché Nortje.

“Haar toewyding en vriendelike geaardheid sal baie gemis word. Die klub het nie net ʼn atleet verloor nie, maar ook ʼn goedhartige mens. Ons gedagtes en gebede gaan uit na haar familie en vriende.”

“Jess was ʼn passievolle hokkiespeler, het elke geleentheid aangegryp om te speel en het onder druk gefloreer. Sy het altyd positiewe energie versprei met haar warm persoonlikheid en gedrewe houding,” sê Reggie Smith, Maties Sport se sportbestuurhoof en vorige sportbestuurder vir hokkie.

“Die nuus van Jess se heengaan is hartverskeurend en ek is so hartseer dat die Matthews-gesin hul dogter op so ʼn jong ouderdom moet verloor. Mag haar jong en pragtige siel in vrede rus,” sê Ilhaam Groenewald, Maties Sport se hoofdirekteur.

Jessica Matthews (Foto: Playhouse-teater/Facebook)

Matthews het ook ʼn groot liefde vir die teater gehad.

Die Playhouse-teater in Somerset-Wes het ook sy medelye in ʼn inskrywing op sosiale media betuig.

“Jessica het die eerste keer in die titelrol van Annie in 2014 verskyn en het sedertdien in baie vertonings opgetree. Meer onlangs het sy Ariel in The Little Mermaid in 2021-’22 vertolk. Sy was ʼn gereelde gesig by die Playhouse. Sy was mal oor haar tye by die teater en sal onthou word vir haar pragtige stem, haar giggel-laggie, haar ondersteuning aan ander, vir die bestuur van haar uitstekende akademie en topklas-hokkie – en dat sy ʼn goeie vriendin was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael ·

Ai dis tragies, nou waarvan sal ‘n fikse en gesonde atleet net inmekaarsak en sterf?

Sê maar net ·

Dit is so hartseer. Baie sterkte aan die familie.
Ek het al van baie gevalle gehoor die laaste 2 jaar waar gesonde kinders/studente op sportvelde inmekaarsak en sterf; fisiese inspanning. Ek maak maar my eie afleiding…pas afgetrede onderwyser

Shakespeare ·

Dit is ALTYD vir my hartsverskeurend as n jong mens sterf in die fleur van hulle lewe en oneindige smart veroorsaak. WIE KAN DIT VERSTAAN ??? Sterkte julle.

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel met haar Ouers , familie , en vriende.

Sê maar net ·

Dit is baie hartseer. Ek het al van ‘n hele paar gevalle van studente/ kinders gehoor wat die laaste 2 jaar inmekaarsak op sportvelde* fisiese inspanning. Mens kan jou eie afleiding maak.

KatjieDeKat ·

Dit gebeur nou oorsee ook gereeld. Ek sien op n Amerikaanse forum byna daagliks berigte oor jong mense, baie keer superfiks jong atlete wat sterf. Berigte begin baie keer met: “Doctors are baffled”. Daar is nou al n benaming daarvoor , SADS – Sudden Adult Death Syndrome. My innige simpatie aan die jong dame se geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.