Maties begin ondersoek na rektor ná bewerings

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Die Universiteit Stellenbosch het bevestig dat hy ʼn ondersoek na prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, begin het nadat ʼn klag ontvang is.

George Steyn, voorsitter van die universiteitsraad, het aangekondig dat die uitvoerende komitee van die raad ʼn resolusie aanvaar het om ʼn onafhanklike ondersoek te gelas.

Volgens Steyn volg die ondersoek nadat dr. Leon Schreiber, ʼn US-alumnus, LP en die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, ʼn versoek in dié verband aan die raad via die registrateur gerig het.

Die bewerings wat gemaak word, is dat De Villiers op ʼn onvanpaste wyse probeer het om vir regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof te oortuig om die universiteit se nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

Dit volg nadat die Konstitusionele Hof op 10 Oktober 2019 eenparig in die guns van die universiteit beslis het in die saak waarin die US die aansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

“Ooreenkomstig goeie beheer en bestuur en deursigtigheid, het die uitvoerende komitee se raad besluit om ʼn ondersoek te begin en om die afgetrede regter Burton Fourie aan te stel om die ondersoek te onderneem,” het die US in ʼn verklaring gesê.

Fourie was voor sy aftrede in 2017, ʼn jarelange en gerespekteerde lid van die Wes-Kaapse hooggeregshof en waarnemende lid van die appèlhof. Daar word voorsien dat ʼn geskrewe verslag met die bevindings van die ondersoek by die volgende geskeduleerde vergadering van die raad op 2 Desember 2019 ter tafel gelê en oorweeg sal word.

De Villiers het die ondersoek verwelkom. “Ek herbevestig wat ek verlede week vir die media gesê het. Ek het beslis nie by die regsproses ingemeng nie. Ek is tevrede dat ek in absolute goeie trou opgetree het en dat die verkiesingsproses korrek verloop het.”

Die universiteit het gesê hy sal verder oor die saak kommunikeer sodra die universiteitsraad die aanbevelings ná afloop van die ondersoek oorweeg het.

Regter Edwin Cameron is as die nuwe kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangewys. (Foto: US)

Schreiber het aangevoer dat Cameron reeds by die aanvanklike aanbod van die kanseliersamp sy kommer daaroor uitgespreek het.

“Ek sit juis omring van die dokumentasie in die saak wat ons volgende week aanhoor, en watter kant toe ook, sal my posisie in die beregting daarvan hopeloos gekompromitteer word sou ek die nominasie aanvaar,” het Cameron glo geskryf. “Eweneens sou my posisie as genomineerde waarskynlik onder billike bevraagtekening kom terwyl die saak nog hangende is.”

Volgens Schreiber is dit op sigself verregaande dat De Villiers vir Cameron in die eerste plek genader het om kanselier te word terwyl die US die respondent in ʼn saak voor die Konstitusionele Hof was.

“Wat egter nog meer skokkend is, is dat De Villiers skynbaar aangehou het om Cameron te probeer verlei met die kanseliersamp selfs nadat die regter aanvanklik die aanbod van die hand gewys het, voordat hy dit later op De Villiers se aandrang aanvaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

chris ·

Met my narratief soos na verwys in kommentaar is ek dankbaar vir die ondersoek waar ons Afrikaanse kinders nie meer vra as dat hulle in hulle moedertaal onderrig moet word

Rubber ·

Hewige ontkennings is aan die orde van die dag. Dan word ‘n kommissie van ondersoek ingestel en in die meeste gevalle bewyse gevind wat die beskuldigdes skuldig bevind. Dan beweeg die media en ons na die volgende korrupsie saak. Raak nou afgesaag.

JG ·

Ja ou “slim Wim” toe nie so slim as wat hy self gedink het nie…

Jannie van Niekerk ·

Die Prof sal seker die ondersoek in Engels wil hê want hy haat Afrikaans mos met ‘n passie. Ek wonder wat wyle Jan Marais sou gedoen het as hy vandag geweet dat die geld wat hy vir US nagelaat het om Afrikaans te bevorder nou anders aangewend word.

Cherokee ·

Jan Marais? Ek weet van wie jy praat maar het dit uiters selde in hierdie forums genoem, dat ek soveel te doene gehad het met Jaap Marais, dat ek mnr Marais aangespreek het as Oom Jaap. Oom Jaap was ‘n klein mens in postuur grootte maar ‘n groter politieke figuur as al die mandelas, malemas en zilles verenig. Dit is wel so dat ek ‘groen onderbroek’ ook persoonlik geken het want ons het op buurdorpe gewoon, maar Eugene kon nooit, al het hy hy hoe hard probeer, ‘n merk probeer plaas by die gerekende konserwatiste nie.

Chrisjan ·

Cameron moes, myns insiens, van beter geweet het as om die pos te aanvaar het. Agv sy invloed is Afr ook by US in sy glory in. Raak van albei ontslae asb. Sal nie vee van n verlies wees nie.

Jannie van Niekerk ·

@ Cherokee. Jan Marais en Jaap Marais is twee verskillende persone. Jaap was ‘n politikus wat leier was van die HNP en Jan Marais was ‘n mynmagnaat wat miljoene rande in ‘n Trustfonds vir Univeriteit Stellenbosch nagelaat het sodat Afrikaans as taal bevorder moet word. Toe Prof de Villiers met sy Engels as voertaal storie begin het, het hy gesê en ek haal aan: “Mnr Marais het eintlik bedoel dat sy nalating vir alle tale is” Sluit aanhaling. Dis so goed jy bemaak ‘n trustfond aan jou kinders wat tot hulle voordeel aangewend moet word en dan sê die trustees jy het eintlik bedoel dit moet die kinders van die EFF politici bvevorder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.