Maties bekommerd oor infeksies tydens eksamen

Talle US-studente is bekommerd omdat hulle steeds vir eksamens moet aanmeld te midde van die derde vlaag Covid-19-infeksies. (Foto: Facebook)

Talle studente verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) in die Wes-Kaap is uiters bekommerd omdat hulle steeds vir eksamens moet aanmeld te midde van die derde vlaag Covid-19-infeksies.

Maroela Media het vroeër berig dat klasse aan dié universiteit weer weens ’n skerp toename in positiewe Covid-19-gevalle op die kampus tot verdere kennisgewing aanlyn sal plaasvind. Byeenkomste en groepbedrywighede is ook summier gestaak.

’n Tweedejaarstudent wat BCom-beleggingsbestuur aan dié universiteit studeer, sê hy en sy medestudente is bekommerd omdat die universiteit geen voorsiening maak vir studente om eksamens, wat Vrydag begin, aanlyn af te lê nie.

“Dit maak glad nie sin dat klasse aanlyn skuif en aktiwiteite opgeskort is om die verspreiding van die virus te beperk, maar dan moet studente in persoon gaan eksamen skryf nie.

“Ons het met die toetsreeks in Mei gesien hoe studente in groot groepe buite geboue en lokale saambondel net om by toetslokale in te kom –  ongeag maatreëls wat ingestel is. Hoe gaan die US dit hierdie keer verhoed en beheer?”

Die student, wat verkies om anoniem te bly, het aan Maroela Media skermskote van e-posse en boodskappe van verskeie studente verskaf waarin hulle hul kommer hieroor te kenne gee.

Hy sê die studenteraad (SR) en die universiteit is egter tjoepstil ten spyte van navrae.

“In dié stadium voel die US ’n veer vir studente.”

In nóg ’n student se e-pos aan die universiteit word daar na ’n vraelys verwys wat uitgestuur is om te bepaal of studente besware teen die skryf van in-persoon eksamens het.

Dié student skryf onder meer dat sy en verskeie klasmaats nie dié vraelys ontvang het nie en weens die gesondheidsgevare sterk teen sodanige eksamens gekant is.

“Talle studente het probeer om hulle kommer direk aan die SR oor te dra, sonder enige reaksie. Ek glo dat hierdie e-pos die nodige besluitnemers sal bereik sodat ’n alternatiewe plan vir die skryf van die Junie/Julie-eksamen bewerkstellig kan word sonder die bykomende spanning om aan die dodelike virus blootgestel te word.”

Martin Viljoen, woordvoerder vir die US, sê studente is deur loop van die semester in verskeie skrywes oor die situasie ingelig. Dit is net soos die onderskeie protokolle wat tydens eksamens geld op die US se toegewyde Covid-19-webwerf beskikbaar.

“Onder meer kry niemand toegang tot ’n eksamenlokaal sonder ’n masker nie, en indien iemand dit gedurende die eksamen sou afhaal, sal die persoon gevra word om die lokaal te verlaat.

“Studente moet ook hul “groen status” wat hulle van Higher Health se daaglikse risikobepalingstoepassing, HealthCheck, op hul foon ontvang het, toon.”

Viljoen sê voorts dat oneerlikheid hieroor tot dissiplinêre stappe kan lei.

Studente sal volgens Viljoen ook verhoed word om assesserings in persoon af te lê indien hulle ooglopende Covid-19-verwante simptome toon.

“Die universiteit het ongelukkig nie die kapasiteit om studente toe te laat om individueel eksamen te skryf nie.

“Die verwagting is dat studente in hul toegewysde lokale skryf en dat hulle die gesondheidsprotokolle volg om hul eie veiligheid te verseker. Daar is ook professionele liggame wat skriftelike eksamens vereis om die integriteit van die assessering te verseker.”

Viljoen sê voorts dat die US se Institusionele Komitee vir Bedryfskontinuïteit (IKBV) verduidelik het dat in gevalle waar fakulteite besluit het dat modules volledig aanlyn sal wees, studente vry is om deel te neem van waar hulle ook al is.

“Waar dit egter vereis word dat studente op die kampus moet wees vir in-persoon lesings, tutoriale, praktiese sessies, kliniese opleiding, assesserings en dies meer, kan daar ongelukkig nie uitsonderings gemaak word nie.

“Die [betrokke] student sal dan moet besluit om die sessies by te woon of om vir nou te deregistreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henri ·

‘n Tersiêre kwalifikasie is ‘n aanwins. Dit kom van harde werk en opofferings. Ook kos dit, huidiglik, ‘n fortuin. Om nie te wil eksamen aflê nie, gaan die waarde van jou kwalifikasie verlaag. Om ‘n jaar te herhaal, is nie in enige ouer, of student met ‘n lening, se finansiële vermoë nie. Werk hard, leer hard en gaan skryf eksamen. Dalk kan jy die volgende pandemie afweer!

Kompas ·

Stem heelhartig saam. Die integriteit van aanlyn eksamens is debateerbaar. Maklik om jou boek langs jou oop te hê of ń paar “kripnotes” . Nee wat hulle moet in persoon skryf en nodige Covid protokol volg.

henndrik ·

Regtig, hierdie mense moet toekomstige bestuurders en leiers wees en dit is hoe hulle redeneer

James ·

Tragiekomies, hierdie Covid epidemie – uit die Suid Afrikaanse perspektief. Laat ek verduidelik: Jy verkoop jou hele ekonomie uit aan China – om die “wesste” ‘n les te leer in geo-ekonomie. Jou grootsste vennoot laat dan ‘n bio-wapen voortydig ontsnap. Die “wesste” skep inentings – en jy suig aan aan die agterspeen – met GEEN hulp van jou Chinese “comrades” nie. Ai, dis vir my mooi. Mag Covid van krag tot krag gaan. Julle WIL mos die Chinese ondesrsteun – ELKEEN wat hier lees – wanneer jy bietjie gaan meubels / TV’s ensomeer gaan koop in jou “Mall”. Ek het my oge uitgehuil toe ek hoor Jabu Mabuza is oorlede. Ek huil nie veel vir die oorledenes nie: Hulle het lekker gekoop aan die goedkoop produkte vanuit China. Nou het julle geldjies, ‘n virus gekoop. Wees “tolerant”. Dit werk…..of nie?

Agge nee ·

Nou is julle bekommerd, maar as julle aand na aand in die klubs en shebeens wange skuur is julle min gepla. In die eksamenlokaal sit julle vér van mekaar. Wie se skuld is dit as julle soos laerskoolkinders saamdrom. Ons hou julle almal mooi uitmekaar maar sodra julle by die hek uit is, hang julle aan mekaar, sonder maskers, 17 in een taxi, musiek wat donder en julle spring en skreeu, weereens sonder julle maskers.

KB ·

Lyk my die US het meer probleme as oplossings.

Kry ‘n positiewe uitkyk, hou op kla, en word groot.

Ben ·

Is hierdie studente dan skape??? Hulle is gou om te moun oor eksamen skryf. Maar hulle bondel saam voor die lokale.
Het hulle nie verstand nie.
Lyk vir my hulle het sommer van die kleuerskool reguit universiteit toe.

Danie ·

So hulle dink die oplossing is om n oopboek eksamen te skryf.
Belaglike klomp wat tipies nog dink soos die kinders wat hulle is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.