Maties bevestig personeellid het Covid-19

Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch Foto: Cair.za.net

Die Universiteit Stellenbosch het sy eerste geval van ʼn personeellid wat positief getoets het vir die nuwe koronavirus (Covid-19).

Prof Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het in ʼn verklaring gesê ʼn personeellid by die Tygerberg-kampus, wat onlangs oorsee gereis het, is in self-isolasie en word onder toesig van die provinsiale en nasionale departement van gesondheid behandel.

“Ons wens ons kollega alles van die beste toe vir sy self-isolasieperiode en algehele beterskap toe.”

Persone wat in nabye kontak was met die persoon is geïdentifiseer en die betrokke gesondheidsowerhede is besig om hulle te kontak. “In hierdie stadium word die blootstelling aan ander kollegas en studente by Tygerberg as uiters lae risiko beskou. Die fakulteitbestuur by Tygerberg het die noodsaaklike voorsorgmaatreëls getref om seker te maak alle fasiliteite is veilig. Kampus-spesifieke inligting sal deur die dekaan gekommunikeer word,” het De Villiers bygevoeg.

Hy het gesê die Universiteit Stellenbosch, net soos alle ander akademiese instansies landswyd en wêreldwyd, bevind homself in ʼn veranderende en onsekere omgewing. “As rektoraat verstaan ons dat die Covid-19-pandemie onsekerheid en kommer veroorsaak op ʼn institusionele en persoonlike vlak. Ons maan almal om voort te gaan met die praktyk om hande te was en ander infeksiebeheerriglyne toe te pas.

“Ek wil ons studente en personeel gerus stel dat die universiteit verbind is daartoe om, deur mediese en ander ondersteuning, ʼn omgewing te verseker wat so veilig is as moontlik. Ons poog ook om ons toewyding na te kom dat studente hul akademiese jaar suksesvol sal kan voltooi.”

​Die Institusionele Komitee vir Sakekontinuïteit (ICBC) sal Vrydagoggend weer vergader waar die jongste verwikkelinge bespreek sal word. “Die kampusgemeenskap sal direk daarna in kennis gestel word van enige besluite.”

Die universiteit het ʼn Covid-19-webwerf saamgestel met inligting oor gesondheidsprotokol en riglyne om jou, jou gesin, kollegas en vriende te beskerm. “Hierdie webwerf is ons primêre kommunikasiekanaal vir die Covid-19-pandemie. Besoek gerus gereeld die universiteit se webwerf vir die jongste inligting.

Personeellede van die universiteit word aangemoedig om weg van die kampus te werk indien die aard van hul pligte dit toelaat.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.