Maties-brakkie het moontlik ‘op duiwe oorleef’

Dié windhond, wat sowat een jaar oud is, heet nou Skywalker en sal binnekort in pleegsorg geplaas word totdat sy gereed is vir aanneming. (Foto: Verskaf)

Die hond wat Maandag van die dak van ʼn gebou by die Universiteit Stellenbosch (US) gered is, het moontlik “op ʼn paar duiwe oorleef”.

Dié windhond, wat sowat een jaar oud is, heet nou Skywalker en sal binnekort in pleegsorg geplaas word totdat sy gereed is vir aanneming.

Sy is Maandag met die hulp van brandbestryders en die Stellenbosse dierewelsynsorganisasie (AWSS) gered.

US het intussen gesê dit lyk of die hond toegang tot die dak van die Fakulteit van Ingenieurswese deur ʼn bouterrein verkry het. Dit is egter nie duidelik hoe lank sy daar vasgekeer was nie.

“Ons het Maandag ’n oproep van kampussekuriteit ontvang waarna inspekteur Rudy Bergstedt uitgestuur is,” het Lorna Hughes, bestuurder van AWSS Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Die hond kon nie opgespoor word nie en hy het later die middag met kos en water teruggekeer.

Die brandweerstasiepersoneel en Bergstedt het haar in ’n vertrek aangetref en hy het stilletjies ’n halsband oor haar kop geglip en haar na die veiligheid gebring.”

Volgens Hughes vermoed Bergstedt dat Skywalker dalk op ʼn paar duiwe oorleef het aangesien sy vol vere was toe hy haar gevind het.

Sy sê voorts dat die hond baie lekker met haar aankoms by AWSS geëet het en tans drie keer per dag gevoer word.

“Sy is ondergewig. Sy is nogal skaam en leer stadig maar seker om mense te vertrou.”

Volgens Hughes is Skywalker die derde windhond wat die organisasie sedert Kersfees ingeneem het.

“Ek vermoed sy kan moontlik deel wees van ʼn onwettige jagtrop wat verdwaal het.”

Wikus van Niekerk, dekaan van die fakulteit, het vroeër gesê dat hy die hond se kos vir ʼn jaar lank sal borg. Skywalker sal Maandag in die pleegsorg van die Sighthound Rescue SA-organisasie geplaas word totdat sy gereed is vir aanneming. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.