Maties: Nog ʼn voorval ondersoek; MRK gryp in

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se regsfakulteit ondersoek nog ʼn beweerde rassistiese voorval wat glo tydens ʼn dans plaasgevind het.

Volgens berigte is ʼn Indiese student glo rassistiese aanmerkings toegesnou en beledig tydens die dans wat Donderdag plaasgevind het. Die fakulteit het gesê hoewel hy nog al die feite rakende die voorval moet vasstel, asook enige verwante dissiplinêre prosesse, veroordeel hy enige vorm van diskriminasie ten sterkste.

Die regsfakulteit het ook gesê hy is erg ontsteld oor die voorval die afgelope naweek by Huis Marais waar ʼn student glo op ʼn medestudent se besittings geürineer het.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het in ʼn videoboodskap gesê hy is werklik jammer oor die “pyn” wat die voorval tot gevolg gehad het. Volgens De Villiers sal dié soort gedrag nie deur die universiteit geduld word nie en is die hoofprioriteit om ʼn inklusiewe omgewing vir alle studente daar te stel.

De Villiers het bevestig die betrokke student is Maandagoggend geskors en dat die skorsing van krag sal bly tot die ondersoek na die voorval afgehandel is. Hy het benadruk dat die behoorlike prosedures gevolg moet word en dat die saak prioriteit geniet. Die uitslag van die ondersoek word binne die volgende paar dae verwag.

MRK gryp in

stellenbosch urineer video

‘n Skermgreep uit die video.

Die Menseregtekommissie (MRK) het bevestig dat hy klagtes rakende die voorval by Huis Marais ontvang het en nou ook die saak ondersoek.

Adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, het aan Newzroom Afrika gesê daar blyk ʼn prima facie-saak te wees en indien die bewerings waar is, was dit ʼn “gruwelike en veragtelike” voorval.

“Die feite moet egter eers deur die kommissie bepaal word en ons doen ʼn beroep op almal om eers te wag tot die kommissie sy ondersoek voltooi het.”

Die MRK moet nog met die betrokke studente in verbinding tree en Gaum het ʼn beroep op alle getuies gedoen om na vore te kom.

ʼn Video van Sondag se voorval het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Die student op wie se besittings geürineer is, het besluit om ʼn strafregtelike klag teen die vermeende boosdoener aanhangig te maak.

Dit volg nadat die student aanvanklik besluit het om die oortreder te vergewe, maar later van plan verander het toe sy pa hom oorreed het dat die student verantwoording vir sy dade moet doen.

Talle politieke partye, organisasies en instansies het reeds die voorval veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Jean ·

Die seun was 100% verkeerd maar ek vra nou maar net ‘n vraag. Kan ek die mans wat so teen my huis se muur ürineer ook hof toe vat?

piet ·

As dit die muur beskadig, ja. Die hof gaan hom egter nie aan beuselagtighede steur nie (soos net vlekke teen die muur nie). Dis natuurlik ook openbare onsedelikheid om in die openbaar te urineer.

Janine ·

Vlekke teen die muur, piet? Wat van die stank onder mens se neus?

Hennie ·

Waar was die MRK toe US se taal beleid gediskrimineer het teen Afrikaans?

marthie ·

Ek wens net mense moet begin ophou met hul rassistiese goed kan mens nie in vrede saam leef nie dit was regtig onnodig wat daai persoon persone gedoen het.

Wondermaarnet ·

Gaan die kinders universiteit toe om te studeer of om ander af te kraak? Almal KAN in harmonie saamleef.

hendrie ·

In hierdie geval is dit gewoonweg laakbare gedrag wat ongelukkig deel van sommige siele se ‘studente pret’ is. Bittermin tot geen respek vir hul medemens en/of omgewing is kenmerkend van die sg prettighede.

miche ·

Wat die student gedoen het was natuurlik verkeerd ja, maar om hom ‘n “vermeende boosdoener” te noem?

Kokerboom ·

Die verdomde MRK moet sy neus uithou in huishoudelike sake en US toelaat om dit behoorlik te hanteer. MRK jaag net rassespanning op

Hoekom ·

Ai dit was nou baie slim. Nou is sy toekoms daarmee heen oor so ‘n kleinlike optrede…

Namgrl ·

sal dit nie kleinlike optrede noem nie. ons leer maar elke dag dat jou doen en late jou verantwoordelikheid is, dit kom altyd terug na jou. al was jou oordeel nou beinvloed deur drank, die nagevolge moet gedra word. yep, ek voel vir albei partye. sterkte daar.

Frank ·

Ja, studente kan maar partykeer bar wees, waansinnige goed doen. Studente pret kan maar partykeer erg skeef loop. Maar is dit nodig om die ding so erg op te blaas? Was hy dalk dronk?

Andries ·

Dit is jammer dat die pa die voorval wil benut tot die uiterste (?) ek sou dink dat die geregverdigde en summiere skorsing voldoende verantwoording was! En nou is die familie my bewondering vir hulle vergewensgesindheid kwyt.

Toy ·

Wonder wat het van die Wet geword waar niemand so buite kan staan en urineer nie, dit is mos ontbloting. Dit is net so walglik.

Dewald ·

Rasissme is ‘n groot probleem in Suid-Afrika, dis ‘n feit. Die probleem is egter dat die media daartoe bydra dat rasissme slegs van een kant ontbloot word. Ek het familie en vriende wat vir die staat werk, wat daagliks onder rasissme gebuk gaan, ek twyfel baie sterk dat dit ooit die nuus sal haal. Afrikaners word uitgekryt as die sondebokke, maar moenie ‘n fout maak nie, daardie straat loop sterk 2 kante toe.

piet ·

Meeste mense sal saamstem met my sodra hulle hul oogklappe afhaal. Ek duld geen rassisme van enige kant af nie maar gaan ook nie stilbly as “my mense” rassisties is nie en dit probeer wegpraat of wegsteek nie.

Renier ·

Rassisme sal slegs ophou as ALMAL ophou daarmee. Te veel mense in ons samelewing kom weg met rassisme want hulle het n ander benaming vir wat hulle doen. Soos BEE,regstellende aksie,transformasie,kwota stelsel ens. Dan eers sal ons almal gelyk wees….nie in enige van ons se leeftyd nie.

Hendrik ·

Hierdie is vir my uit en uit boelie gedrag en ekself het dit al ondervind en kon myself verdedig. Omdat hierdie oor kleurgrense is word dit nou rassisme.

Heinrich ·

Die US moet maar mooi kyk na hulle definisie van ‘inklusiwiteit’; al wat dit beteken is teikengroepe uitgeluit word, en dan verder moet sukkel met regstellende aksie in ‘inklussiewe’ werksomgewing wanneer hulle afstudeer. Gee mens sommer jou geleenthede en kultuur oor aan sulke boelies?

Anthony ·

Mens sou dink dat die mense wat studeer die “slim mense” onder die beskawing is. Hierdie is ons toekomstige dokters, prokureers & engineurs, Maar dan gedra hulle hulsef so

Althes ·

Wat die student gedoen het is veragtelik. Maar SA en die wêreld kyk vas teen wat weereens ñ geisoleerde geval was.
Massahisterie en elke politieke party wat sy 2-sent bydrae wil maak.

Blikkies ·

Nou wat wil die MRK nou doen? Ons het mos nou gister gelees hulle is nie ‘n straf hof nie en kan nie vonnise uitdeel nie, maar hulle gaan aan….

Keelvol ·

Waar was die MRK gewees toe op die US kampus vir wit studente gesê is, hulle mag nie Afrikaans praat nie? Waar was die bestuur van US toe gewees?

Antonk ·

Nou wonder ek.Is dit ook ʼn blanke sudent wat dit nou gedoen het,want elke keer as ʼn blanke so iets doen dan weet almal dis ʼn blanke.As dit ʼn nieblanke student was dan sê hulle nie of dit ʼn nieblanke is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.