Matiestudent wat val: ‘Ons het dadelik gemene spel vermoed’

Die foto van Taylië in haar hospitaalbed is deur Samuels verskaf.

Die Matiestudent wat sowat ’n maand gelede twee verdiepings ver uit ʼn venster van die Serruria-koshuis in Stellenbosch geval het, sal nie vanjaar haar studie hervat nie.

Taylië Jaap (19), ’n BSc-student in haar eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), het beweer dat ’n medestudent haar met opset by die venster uitgestamp het omdat sy jaloers was op Taylië aangesien sy glo mooier en slimmer is as die ander student.

Jaap is op 26 Mei na die Tygerberg-hospitaal se hoësorgeenheid gehaas en drie weke later na die Karl Bremer-hospitaal in Bellville oorgeplaas waar sy nou daagliks fisioterapie kry omrede sy ’n geruime tyd in die hospitaalbed moes lê en haar spiere so swak was dat sy gesukkel het om te loop.

“Ons het gemene spel van dag een af vermoed. Taylië se hangertjie wat net spoorloos verdwyn het, het rooi ligte laat flikker; dit moes van haar nek afgeruk gewees het,” het Brenvan Samuels (35), ’n ouer broer van Jaap, aan Maroela Media gesê.

Jaap en Samuels. Foto: Verskaf

Volgens hom wil hulle nou geregtigheid laat seëvier. “My ma het daardie hangertjie vir haar gekoop. Ek glo dit het meer met die hangertjie te doen as Taylië se voorkoms of punte.”

Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie is besig om die saak te ondersoek en moet nog ’n verklaring van Jaap kry.

“Sy maak grappies, luister haar musiek en steur haar nie regtig veel aan die media nie; dit gaan regtig goed met haar,” sê Samuels oor Jaap wat weens die val ’n frontale skedelfraktuur en breinbeserings opgedoen het.

Jaap het aan Maroela Media gesê sy gaan nie vanjaar terug na die universiteit nie en sal moontlik eers volgende jaar terugkeer.

“Dit was egter duidelik dat me Jaap se beserings moontlik tot ʼn geregtelike ondersoek kan lei en daarom is die voorval as ʼn navraag by die SAPD geregistreer en alle inligting aan die SAPD deurgegee,” het Martin Viljoen, US-woordvoerder, gesê.

“Die universiteit is nie tans in ʼn posisie om verdere inligting hieroor te verskaf nie en navrae moet aan die SAPD gerig word.

“Personeel van die universiteit se sentrum vir studentegemeenskappe probeer steeds gereelde kontak met Jaap se familie behou. Ondersteuning van die sentrum vir studentevoorligting en ontwikkeling is steeds vir Jaap se vriende beskikbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Juanita ·

Shocking! Residence is her home away from home. Hope they catch and punish the psycho who pushed her

Jaco ·

“Want sy is mooier en slimmer” as die ander persoon, so verwys na n meisie maar ook as jy dink jy is mooier en slimmer as enige iemand anders dan is jy darem vol van jouself

Onnie ·

Is dit wat die slagoffer in haar verklaring gesê het? Hoekom is niemand dan nog inhegtenis geneem nie?? Vreemd dat die broer sulke publieke “statements” maak as die polisie nog niks openbaar gemaak het nie.

Liza ·

Hoop net die waarheid kom uit en dat daardie persone geskors word uit die Universiteit, Taylie hoop jy herstel vinnig en sterkte….

Emma ·

Het sy dan nie gese sy het haar ma gesien nie so daar is definitief te veel stories. En dan dink hulle n leser moet als glo

Lolla ·

As jy weet wie jou gestamp het, ………….. hoekom nog nie die naam vir die SAPD gegee nie.
Glo nie die storie nie.

Michelle ·

Hier is darem regtig te veel stories. As iemand hierdie meisie regtig gestamp het sou die polisie seker al die persoon se verklaring gekry het en sou die persoon aangekla geweesal het. Ouers moet hul oë oopmaak en kyk wat hul kinders doen gaan besoek jou kind onverwags by die woonstelletjie wat jy so swaar aan betaal elke maand en gaan kyk wat doen jou kind en ek sê weer as die skoen jou pas trek hom aan nie al die studente is so onskuldig nie. Die ouers werk hard en hul kinders hak uit. As die meisie regtig afgestamp is laat die gereg sy gang gaan en kom bewys ons almal verkeerd asseblief .

Alma ·

“Moontlik tot n geregtelike ondersoek kan lei” Ek sou se dit IS poging tot moord. Hulle vat dit darem maar baie rustig. Die polisie het dan nog nie eers n verklaring afgeneem nie.

Ellis ·

Ek het ook al n week terug gelees sy sê sys uit die venster gestamp “omdat die ander meisie gesê het sys mooier en kry beter punte as sy”. Kyk ek het al n bakleiery onder meisies gesien en dis beslis nie wat jy die ander een toesnou nie. En as jy sê jy weet wie dit was, hoekom het die polisie haar nog nie gaan ondervra nie? Nee iets hier maak nie sin nie.

Gert Midstream ·

Mooi en lelik kan albei of slim of dom wees. Sosiaal aktief of onaktief wees. Alle teenoorgesteldes het ‘n plek, veral weg van die huis af. Polisie en weermag nou ontplooi. Ander sake staan nou stil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.