Matriek sterf week ná Limpopo-ongeluk

Kayla Smith het Saterdag aan haar beserings in die hospitaal beswyk. (Foto: Facebook)

Kayla Smith (18) van Polokwane in Limpopo het net meer as ’n week nadat sy, haar halfsuster, Zaskia da Silva, en ’n bekende plaaslike makelaar, Charles van der Walt, in ’n ongeluk buite Polokwane betrokke was, in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

Dié gru-ongeluk het die lewe van Da Silva én Van der Walt geëis.

’n Gebroke Liza Venter, Kayla se ma, het Sondagoggend aan Maroela Media gesê haar dogter is Saterdag in die Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane dood.

Kayla is ná die ongeluk in ’n kritieke toestand in dié hospitaal opgeneem waar sy die afgelope week meestal onder verdowing gehou is.

Medelye stroom sedertdien in.

“Kayla, jy het nie die stryd verloor nie. Jy het hom voltooi. Nou dans jy saam met Jesus op die ritme van sy hartklop. Ons sal jou mis totdat ons mekaar weer sien,” lui ’n inskrywing van Hoërskool Pietersburg. Kayla was ’n matriekleerder aan dié skool.

Venter het vanoggend almal bedank wat haar dogter die afgelope week in gebed opgedra het.

Maroela Media het vroeër berig Kayla en Da Silva (29) was verlede Vrydag saam met Van der Walt (52) in sy motor op pad terug van Haenertsburg na Polokwane toe die ongeluk op die R71 plaasgevind het. Dit is nie seker hoekom hulle saam in die voertuig was of van waar hulle op pad was nie.

Van der Walt het glo beheer oor die motor verloor, waarna dit die pad verlaat, gerol en ’n boom getref het.

Die motor het sowat 25 m van die boom tot stilstand gekom en aan die brand geslaan. Daar was nie ander voertuie in die ongeluk betrokke nie.

Van der Walt en Da Silva is op die toneel dood verklaar. By paramedici se aankoms op die toneel het hulle Da Silva nog in die brandende motor aangetref en uit die voertuig gered. Sy het egter later weens haar beserings beswyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Casper ·

Sy het nog nie eers begin met die opwinding wat die lewe haar sou bied nie.Baie hartseer.Sterkte aan die familie

louw ·

“Nou dans jy saam met Jesus op die ritme van sy
hartklop. ” Is ñ sinlike en wanvoorstelling van Jesus Christus en is lasterlik

Tinus ·

Ek het weer gedink dis pragtig. Jou Ma jou nie geleer om eerder niks te sê as jy niks opbouends het om kwyt te raak nie, Louw?

My empatie aan die naasbestaandes, dis tragies.

louw ·

My ma het my geleer God se eer kom bo alles ! Jesus is God en om so lasterlik te praat
Doen jy jouself baie skade aan en as jy geen fout met so ñ uitspraak vind nie ,het jy ernstig self ondersoek nodig.Ware liefde tugtig volgens die wil van God ,maar valse
Liefde vlei en is vol leuens!

Frank John ·

Ai tog, dis mos nie nou tyd om aan te val nie. Simpatiseer eerder nou.

Frank John ·

Ek bid dat die Heilige Gees, die Trooster julle sal troos, dis ‘n groot verlies waneer jou kind vroeg gaan. Huil tot jul uit gehuil is en laat toe dat Hy julle troos bring. Wees sterk en vol moed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.