Matriek tydens huisroof doodgeskiet

Mihlali Funde is in sy ouerhuis doodgeskiet. (Foto: Facebook/Ezitshisayo)

“Ons harte bloei en huil.”

’n Kaapse hoërskool treur nadat een van sy matriekleerders verlede week tydens ’n vermeende huisroof in Khayelitsha doodgeskiet is.

Die 18-jarige Mihlali Funde is Donderdagaand in sy ouerhuis in Lingelethu-Wes doodgeskiet toe drie gewapende rowers op die huis in Mawisastraat toegeslaan het. Mihlali was ʼn leerder aan die Rhodes High School in Mowbray.

Nóg ’n jong man (21) is in die voorval geskiet en is by sy aankoms by ’n nabygeleë hospitaal dood verklaar. Die tweede slagoffer is intussen geïdentifiseer as Odwa Tom.

Die drie moordenaars word nog gesoek nadat hulle die aand van die rooftog met waardevolle besittings op die vlug geslaan het.

Die Rhodes High School het intussen in ’n roerende Facebook-plasing gesê die skool, veral die matriekklas, rou oor Mihlali se dood.

“Vanjaar was baie moeilik vir die graad 12’s en dit het nou nog swaarder geword met die dood van een van ons geliefde leerders… Ons harte bloei en huil.”

Medelye stroom intussen in.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het vanoggend aan Maroela Media gesê die skool is bewus van die moord op Mihlali.

Hammond sê die departement is platgeslaan deur die tragiese nuus en dat die departement ondersteuning deur middel van beraders aan die skool verskaf.

Ao. Joseph Swartbooi, woordvoerder van die polisie, sê die motief vir die moorde is in dié stadium nog onduidelik.

Die polisie ondersoek intussen twee aanklagte van moord.

Enigiemand met inligting omtrent die verdagtes word versoek om die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misky ·

Hulle wonder oor die motief vir die moorde….. Dis voor die hand liggend: Geen wet en orde of strafregstelsel in SA meer nie en dit duur al 27 jaar

Tiptol ·

Waars jy hoed? Gaan julle hierdie gesin ook help met trauma ondersteuning?

Swerwer ·

Sterkte aan die naasbestaandes van Mihlali Funde. Sò jammer dat ‘n jong seun sy lewe moet boet vir
skelms. Ja Hoed, en wat sê jy nou of hoeveel moet nog sterf voor jy daadwerklik teen jou eie mense gaan begin optree.

Magda G ·

So onnodig. Sy lewe het nog voor jom gelewe.
Die lafaards wat dit gedoen het, het geen gewete. Sleg spul

Di ·

Dagvaar Cele – Danksy sy onvermoe om sy werk behoorlik te doen is SA ‘n “crime hole” Kriminele het meer regte as landburgers
Die man moet eerlikwaar aftree en op die ouetehuis se stoep gaan sit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.