Matriekeindeksamen begin met min onreëlmatighede

klaskamerDie 2014 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen vir altesaam 688 660 matrikulante het Maandag met min voorvalle landswyd afgeskop.

Van die onreëlmatighede wat wel aangemeld is, was ʼn asma-aanval, ʼn motorongeluk en voorvalle van gemeenskaponrus.

Matrikulante het Maandagoggend Engels geskryf, en visuele kunste in die middag.

In die Wes-Kaap het ʼn motorongeluk veroorsaak dat leerlinge laat gekom het vir hul eerste eksamen. Nie een van die leerlinge is beseer of daardeur benadeel nie, aangesien hulle vergoed is vir die verlore tyd.

Daar was vertragings by sekere eksamenlokale in KwaZulu-Natal weens gemeenskaponrus. Die leerlinge is ekstra tyd gegee om vir die vertragings op te maak.

ʼn Matrikulant van Noordwes het ʼn asma-aanval gehad, 15 minute nadat die eksamen begin het en kon nie betyds klaarmaak nie. Die leerling was vir 95 minute uit die eksamenlokaal geneem en sal glo ʼn hereksamen aflê.

SAUK-nuus berig dat meer as 400 leerlinge in Kuruman, Noord-Kaap nie hul eindeksamen gaan aflê nie, omdat die leerlinge ses maande skool gemis het weens gemeenskaponrus. Die plaaslike inwoners het betoog oor ʼn teerpad in die gebied.

Die departement van onderwys in Gauteng het gesê daar is ʼn noodplan in plek sou enige probleme opduik. Die departement het ʼn span wat die sentrums dophou en op gereedheid geplaas is om tydens enige gebeurlikheid te reageer.

Die departement in Mpumalanga het gesê hy het ook ʼn span kundiges wat matrikulante en ouers bystaan.

Angie Motshekga, minster van onderwys, sal na verwagting op 5 Januarie die uitslag van die eksamen aankondig. Matrikulante sal op 6 Januarie hul punte ontvang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.