Matriekeindeksamen begin

Matrieks reg oor die land het omstreeks 09:00 pen op papier gesit vir hul eerste vraestel in vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen.

Luidens ’n verklaring deur die departement van basiese onderwys is altesaam 790 405 matrieks geregistreer om hul eindeksamen oor die volgende maand in een van 7 416 eksamenlokale reg oor die land af te lê.

Dit is ʼn effense afname van die 796 542 voltydse en deeltydse kandidate wat in 2018 die NSS-eksamen afgelê het.

Engels is vanjaar eerste aan die beurt met Engels huistaal, Engels eerste addisionele taal en Engels tweede addisionele taal wat vanoggend geskryf word. Verskeie ander tale, waaronder Portugees, Duits, Spaans en Italiaans, sal omstreeks 14:00 geskryf word.

Die laaste matrieks sal op 28 November ná die skryf van Landboutegnologie die oggend en Ontwerp die middag hulle penne finaal neerlê.

Die afstandsonderrigverskaffer Brainline se leerlinge begin ook vandag die IEB-eksamen aflê.

Volgens Coleen Cronjé, uitvoerende hoof van Brainline, sal afstandsonderrigleerders hul eksamen by goedgekeurde sentrums in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap aflê. Vir dié leerders lê Rekenaartoepassingstegnologie se praktiese vraestelle eerste voor. Musiekvraestelle Een en Twee sal hul laaste vraestel op 29 November wees.

In 2018 het ongeveer 12 372 afstandsonderrigleerders reg oor Suid-Afrika aan die eksamen deelgeneem en ’n slaagsyfer van 98,9% behaal.

Altesaam 212 matriekleerders sal vanjaar vanuit korrektiewe toesig hul eksamen aflê.

“Die Nasionale Senior Sertifikaat is die hoogtepunt van twaalf jaar se onderrig en leer. Dit is die kernaanduider van die sukses van die skoolstelsel en het onder meer ten doel om toelating tot hoëronderwysinstellings te verseker en om leerders voor te berei vir die wêreld van werk, ” sê Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys.

“Elke leerder moet die beste geleentheid kry om ’n Nasionale Senior Sertifikaat te verwerf,” glo Mweli. Daarom is dit die tweede jaar in ʼn ry wat dowe leerders hul eksamen in Suid-Afrikaanse Gebaretaal kan aflê.

Debbie Schäfer, minister van onderwys in die Wes-Kaap, en Bonginkosi Madikizela, minister van vervoer in die Wes-Kaap, het ’n beroep op die provinsie se taxiverenigings gedoen wat matrieks gedurende die eksamen gaan rondpendel.

“Soms is daar meer as 62 000 voltydse en deeltydse kandidate wat na hul eksamenlokale reg oor die provinsie gaan pendel. Wat belangrik is, is dat hulle veilig en betyds daar aankom,” lui ’n verklaring.

Met beurtkrag wat weer in werking gestel is, hoop skole dat dié kragonderbrekings nie die komende eksamen sal ontwrig soos ʼn paar weke gelede gebeur het toe leerders Rekenaartoepassingstegnologie geskryf het nie.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys en jeugontwikkeling in Gauteng, het op Twitter die matrieks van 2019 sterkte toegewens met die eksamen. “Kom ons doen dit. Vir ons kinders se onthalwe,” skryf die LUR.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Sterkte aan die leerders wat hard werk! Die wat nie wil werk of leer nie, probeer maar volgende jaar weer!

Ma van matrikulant. ·

Die Rekenaarstoepassingstegnologie en Inligtingstegnologie vraestelle is al verlede week afgelê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.