Matriekeindeksamen: Minister kondig nuwe regulasies vir nasieners af

Angie Motshekga. (Foto: GCIS)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het nuwe regulasies afgekondig waaraan sowat 45 000 nasieners vanaf volgende week sal moet voldoen wanneer vanjaar se matriekeindeksamen-antwoordstelle nagesien word.

Die nasieners begin Maandag by 181 nasiensentrums landwyd aan 1 058 699 kandidate se antwoordstelle merk. Sowat 14 miljoen antwoordstelle moet binne 18 dae nagesien word.

Die minister het egter in die lig van vlak 3 van die afsonderingstydperk afgekondig dat alle nasieners oor die volgende paar weke ’n gesigmasker sal moet dra en ’n sosiale afstand van 1,5 meter van mekaar moet handhaaf.

Groot nasiensentrums mag meer as 50 amptenare, nasieners, moderators en administratiewe personeel akkommodeer hoewel die betrokke lokaal nooit meer as 50% van sy kapasiteit mag oorskry nie.

(Argieffoto)

Diegene betrokke by die nasien van matriekeindeksamen-antwoordstelle moet ook sorg dat hulle oor ’n geldige permit wat deur ’n departementshoof uitgereik is beskik sodat hulle buite die aandklokure kan rondbeweeg vir nasiendoeleindes indien nodig.

Die etes wat oor die volgende paar weke aan amptenare, nasieners, moderators en administratiewe personeel verskaf sal word, sal in weggooihouers bedien word sodat nasieners hul maaltye op die skoolterrein of enige plek waar hulle dit as veilig beskou, kan geniet.

Nasieners sal beperk word tot 50 op ’n slag gedurende maaltye en teetye.

Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die departement, sê in ’n verklaring gesondheidswerkers sal ook by die nasiensentrums of naby die sentrums beskikbaar wees indien nodig.

“Die departement van basiese onderwys is vol vertroue dat die nasiensentrums veilig gaan wees vir die nasien van antwoordstelle in die mees bevorderlike en gepaste omgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.